Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Waar twee of drie in my Naam saam is

image_pdfimage_print

“The thing we need to know more than anything else is that we are forgiven. That’s what Christ can do.”- Billy Graham

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Waar twee of drie in my Naam saam is

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle (Matteus 18:20)

Waar is God? Hoekom kan ek Hom nie sien nie? Vrae wat kinders dikwels vra. Die Bybel sê Hy is oral teenwoordig. Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas (Psalm 139:7 – 10).

Die psalmis glo dat God oral is – jy kan nie sy teenwoordigheid ontsnap nie.

Die mees dramatiese wyse waarop God sy teenwoordigheid geopenbaar het, is deur Jesus Christus  – deur Hom  betree God die menslike geskiedenis. Hy word mens om diegene wat in Hom glo te verlos. Die Heilige Gees woon ook in die harte van gelowiges wat op Jesus Christus vir hulle verlossing vertrou. Ons ondervind God so op ‘n persoonlike wyse.

Jesus praat hier oor kerkdissipline. Hy leer die dissipels, en almal wat Hom volg, hoe om situasies van interpersoonlike sonde en konflik te hanteer. Hierdie deel volg onmiddellik na die gelykenis oor die verlore skaap (herstel van iemand wat afgedwaal het) en net voor die gelykenis van die ondankbare dienaar (onwillig om uitstaande skuld te kanselleer en te vergewe). Die temas wat in hierdie gedeelte bespreek word, is vergifnis, herstel en versoening met ‘n broer en suster wat teen jou gesondig het of afgedwaal het. Jesus noem ‘n hele aantal praktiese stappe om gebroke verhoudings te herstel. Die eerste stap is privaat – wys hom tereg waar julle alleen is. Moenie interpersoonlike sonde en konflik ignoreer nie. Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp (Galasiërs 6:1) – ons kan nie sonde net ignoreer nie. Die doel van hierdie eerste gesprek is vergifnis en die herstel van die verhouding. Daarom word dit in liefde en nederigheid gedoen. Soms kan dinge nie op hierdie vlak opgeklaar word nie en dan moet twee of drie ander saamgeneem word. As dit nie werk nie, word dit vir die gemeente gesê. Sonde wat nie bely word nie, is ernstige saak. Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie (1 Korintiërs 5:6). Dit gaan oor versoening en nie straf nie. Hierdie is die ideaal maar dit werk nie altyd nie. Werk dit nie is die opdrag dat ons die oortreder as heiden en ‘n tollenaar moet behandel. Dit gaan oor ‘n man wat sy hart verhard en weier om sy sonde te erken en daarvan weg te draai.

Nadat Jesus die kerk se gesag bevestig het, beloof Hy sy teenwoordigheid op unieke wyse in verse 19 – 20: Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle. Waar die kerk betrokke is by die versoeningsproses met iemand wat nie sy sondes bely het nie, weet die kerk dat God se seën op hulle pogings rus. As die kerk besluite neem oor wat reg en wat verkeerd is gebaseer op die waarheid van God se woord, moet hulle vertroue hê dat hulle die regte ding doen en dat Christus daar by hulle is. Hy is immers die God van versoening. Waar twee of drie bymekaar is gaan oor God se teenwoordigheid in dissiplinêre sake.

Natuurlik is God teenwoordig waar twee of drie teenwoordig is – ook as ek alleen is of 1000 teenwoordig is. Om sake van sonde te hanteer, is ‘n uitdaging. As jy getrou aan God is in die hantering van sulke mense kan jy seker wees van God se unieke teenwoordigheid om ons pogings te seën. Ons is God se agente vir versoening en vergifnis.

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...