Die Apostoliese Geloofsbelydenis (6)

image_pdfimage_print

Unaccompanied by the power of the Holy Spirit, the Bible is inactive, inoperative; a mere dead letter! —Octavius Winslow

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (6)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Dood: Ek glo in Jesus Christus … wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het

 

Engele sing by sy geboorte; manne uit die Ooste bring geskenke. By sy doop bevestig die Vader sy status. Tydens sy aardse bediening volg skares Hom. Aan die einde van sy lewe ly Hy en word gekruisig. Jesus ly onder Pontius Pilatus, die verteenwoordiger van Rome in die gebied wat Jerusalem insluit. So plaas die belydenis vir Jesus in die geskiedenis ten opsigte van tyd en ruimte. Na sy lyding word Hy gekruisig – ‘n wrede, pynlike dood. In Engels word daar dikwels na excruciating pain verwys. Dit is afgelei van twee Latynse woorde: ex beteken van en crux beteken kruis. Dit beteken letterlik “pyn van die kruis.”

 

Kruisiging is dikwels gebruik as straf vir gewelddadige misdade en opstoking van opstande. Die kruis was ‘n simbool van geweld, vernedering en dood. Maar dit geld nie in Jesus se geval nie – Hy was onskuldig. Nou word die kruis die simbool van geloof, hoop en liefde. Die kruis word die simbool van die Christelike geloof. Die kruis openbaar God se liefde vir ons op ‘n onvergeetlike wyse. Aan die kruis sien ons Jesus as die Verlosser van die wêreld.

 

Ons sal nooit Jesus se kruisdood volkome verstaan nie, maar een ding weet ons: Hy self het ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees (1 Petrus 2:24). So oorwin Hy die sonde en die dood. Jesus het self gesê: Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê (Johannes 15:13).

 

Jesus se dissipels sien en hoor dit alles. Is hulle droom vernietig; Is hulle hoop daarmee heen? Is God se koninkryk dood? Jesus word begrawe. Hoe kan jy Koning wees as jy dood is?

 

Hy het ter helle neergedaal. Hierdie woorde is die bron van baie argumente. By sy geboorte daal Jesus uit die hemel na die aarde neer. Nou daal Hy van die aarde na die plek van die dooies.

 

Wat ‘n vertroosting dat ons God weet wat die dood is. Hy kan Hom nie alleen met ons stryd teen die dood vereenselwig nie – Hy het die dood vir ons oorwin. Die dood is so koud, so finaal, maar vir Jesus was dit nie die einde nie.

Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal!

Dood, waar is jou oorwinning?

Dood, waar is jou angel?

(1 Korintiërs 15:54 – 55).

 

 

image_pdfimage_print