Die Avondmaal

image_pdfimage_print

Die Avondmaal – Francois Malan

Pieter vra:

Ek wil die betekenis weet van die Heilige Avondmaal asook van die Bord, Brood, Sap, Beker en die gekruiste hande asseblief.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die nagmaal is ‘n maaltyd van vreugde en dankbaarheid, waar die mense wat in Jesus Christus glo met blydskap saam met Christus sit en eet. Hy is teenwoordig deur sy woord en sy Gees, die Heilige Gees, wat ons aan Hom verbind deur die geloof in Jesus as ons Verlosser in ons te werk, en ons liefde tot Hom en tot ons medegelowiges te bewerk. Die nagmaal is die waarborg: God is besig om ons, wat sy kinders geword het, te vorm om vir Hom en ons medemens al meer lief te word, om al meer soos Jesus te word (2 Kor.3:18; 1 Joh.4:7-12).

Die Bybel beskryf die instelling van die nagmaal deur Jesus in Matteus 26:26-30; Markus 14:22-25; Lukas 22:14-20 en 1 Korintiërs 11:23-26 (vgl. ook Johannes 6).

Die nagmaal is bedoel om ons geloof te versterk in Jesus as ons God en Verlosser. Daarvan is die eet van die brood en drink van die wyn tekens. Soos brood en wyn ons liggaam voed, word ons lewe gevoed deur die liggaam en bloed van Jesus wat vir ons aan die kruis gesterf het en uit die graf opgestaan het. Die Heilige Gees verbind ons aan sy liggaam en sy offerbloed – sodat ons saam met Hom kan sterwe aan ons sondige neigings en saam met Hom kan lewe vir God in alles wat ons doen en dink en sê. Dit is ons verlossing uit die sonde en die dood (Romeine 12:1 sê ek moet my self gee as ‘n lewende en heilige offer wat vir God aanneemlik is).

Jesus het gesê: gebruik dit tot my gedagtenis (Luk.22:19; 1 Kor 11:24). By die nagmaal onthou ons Jesus se sterwe en opstanding vir ons. Daardeur word Jesus self teenwoordig en openbaar Hy homself aan ons. Die gebeure van 2000 jaar gelede word iets waaraan ons nou deel kry, dat Hy ons nou vergewe en nuut maak om saam met die opgestane Here in die hemel te lewe, met sy krag en sy liefde waarin Hy my nou opneem. Ons word ingeskakel in die Christusgebeure. Christus woon met sy Gees in ons, en ons lewe in gemeenskap Hom.

Paulus sê: elke keer as julle hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom (1 Kor.11:26). Jesus het gesê: Ek sal nie weer hierdie paasmaaltyd eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie (Luk.22:16,18; Matt.26:29; Mark.14:25). Dit is ‘n toekomsgerigte maaltyd (vgl. Openb.19:9 geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is). Ons is op pad na die opstanding van die liggaam om saam met Christus vir ewig te lewe. Daarvan verseker die nagmaal ons.

Die aand voor sy dood het Jesus en sy disspels saam die paasfees gevier. Met paasfees dink die Jode aan hulle verlossing uit Egipte en dat God hulle nou nog dwarsdeur hulle lewe begelei. Toe Jesus as die huisvader die brood daardie aand gebreek en vir sy dissipels gegee het, het Hy gesê: ‘dit is my liggaam, dit is vir julle’ (1 Kor 11:24). Die brood is ‘n simbool van die liggaam van Christus. Maar die gemeente wat rondom Christus sit met die nagmaal en almal wat glo dat die liggaam van Jesus vir hulle aan die kruis gebreek is, is ook die liggaam van Christus (Efesiërs 1:23). Daarom moet ons Hom en vir mekaar liefhê en dien.

Jesus het ook gesê: ‘hierdie beker is die nuwe verbond in my bloed’ (1 Kor.11:25). God het met ons ‘n nuwe ooreenkoms aangegaan. Omdat Hy die wêreld liefhet (Joh. 3:16), het sy Seun met sy bloed die nuwe verbond met ons gemaak. Die ou verbond het begin met die bloed van ‘n dier wat Moses op die volk gesprinkel het as teken van die verbond (Eksodus 24:8) en daarna telkens deur die priesters op die altaar gesprinkel is om versoening te doen vir die volk se sonde. Maar na al die jare van Israel se verbreking van die verbond het die Here ‘n nuwe verbond belowe, dat Hy ons God sal wees en ons sy volk, waar almal Hom sal dien, en Hy ons sondes vergewe en nooit weer daaraan dink nie (Jeremia 31:31-34). Van hierdie nuwe verbond van God se vergifnis van ons sondes is Jesus se bloed die offer.

Die gekruiste hande waarvan die vraesteller praat het ek nog nooit gesien nie, en weet ek niks van nie, want dit staan nie in die Bybel nie, ook nie die bord of die sap nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan


image_pdfimage_print