Die Eerste Brief van Johannes (10)

image_pdfimage_print

Die Eerste Brief van Johannes (10) – Jan van der Watt

Deel 3: Die ratte loop op liefde – maar steek ook vas

Ons begin nou met die derde deel van ons Bybelstudie.

Hoofstuk 9: Wêreldliefde … Selfliefde

Die hele lewe bestaan uit keuses. JY is die een wat kies hoe jy jou lewe wil leef. Die vraag wat jy voortdurend vir jouself moet beantwoord, is hoekom jy jou keuses maak soos jy dit maak.

  Moenie die wêreld liefhê nie!… Maar ek bly dan hier

Sekere dinge wat soms in die kerk gesê word, maak ’n mens ’n bietjie deurmekaar. Hoeveel keer sê die dominees nie: “Jy moenie die wêreld liefhê nie.” Of: “Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie”!

Maar: wat presies beteken dit? Wat is so gevaarlik in die wêreld dat ’n mens nie daarvan mag hou nie? Het God nie juis alles gemaak nie? Behoort die wêreld met alles daarin nie aan Hom nie? Hoekom mag ons nie van sy skepping hou nie? Of word daar iets anders mee bedoel?

(1) Skryf jou opinie neer oor hoe jy hieroor dink.

God is immers die skepper van die wêreld. Alles behoort aan Hom (1 Kor. 8:6 en 10:26).

God sorg steeds vir sy skepping. En Hy het ook aan die mense die opdrag gegee om na die skepping om te sien en dit goed te versorg.

(2) Wat sê Gen. 1:28–31 daaroor?

(3) In die lig van hierdie opmerkings, moet ’n mens na die natuur en die wêreld omsien (ekologie beoefen), of kan ’n mens maar afsydig teenoor die wêreld staan wat sake soos die osoonlaag, die vuil lug, die vernietiging van woude, die uitroei van skaars diere betref?

(4) Lees 1 Joh. 2:15. Sou dit nie beteken dat jy die wêreld “liefhet”—die wêreld waarteen hierdie vers ons waarsku—as jy oor hierdie dinge bekommerd is nie? Verduidelik jou antwoord.

Die wêreldliefde waarvan Johannes praat en die “wêreldliefde” waarvan ons hierbo gepraat het, is nie dieselfde ding nie. Om na die wêreld met al die mooi plante en diere om te sien en dit te versorg, is nie verkeerde “wêreldliefde” nie, maar is die nakom van die (kultuur-) opdrag wat God aan die mens gegee het.

Probeer jy enigiets doen om die wêreld met sy pragtige natuur te bewaar en te versorg sodat dit ook vir jou kinders ’n lekker plek sal wees om op te woon? Dit is nogal iets om oor na te dink!

 

Oppas vir jouself!

Daar was ’n goeie rede waarom Adam en Eva in die moeilikheid gekom het. Ek wonder of jy die rede ken?

(1) Kyk na die volgende vier moontlikhede en maak jou keuse:

a. Hulle het nie mooi besef wat hulle gedoen het nie.

b. Hulle was te selfgesentreerd.

c. Satan is ’n uitstekende misleier.

d. Hulle was maar net swak mense.

In 1 Joh. 2:15–17 vind ons een van die beste beskrywings van wat presies die “wêreldse dinge” is waarvoor ons moet oppas en ook hoekom dit vir die mens gevaarlik is!

(2) Kyk of jy kan agterkom hoe Johannes dit in die Skrifgedeelte hierbo sien:

Wat is die “wêreldse dinge”?

Watter soort houding teenoor die “wêreldse dinge” is gevaarlik en hoekom?

Dit is interessant dat Johannes sê die “wêreldse dinge” is “alles” of “al die dinge wat ’n mens kan besit”.

Die probleem is seker nie dat hierdie dinge bestaan of daar is nie. Op sigself is hierdie dinge seker nie sondig nie.

Die probleem is die manier waarop ons hierdie dinge gebruik. Dit gaan oor die houding van die mens teenoor hierdie dinge.

Let mooi op hoe prominent die woord “begeer” in 1 Joh. 2:16–17 voorkom. Die prentjie wat hier geteken word, is een van mense wat VIR HULLESELF net meer en meer wil hê. Hulle self—met hulle eie begeertes—vorm die sentrum van hulle lewe. Hulle is nie tevrede met wat hulle het nie en soek net meer.

En GOD dan? Hy kom tweede, met ander woorde laaste! So ’n “wêreldliefhebber” kyk eers na homself. En as hy miskien nog ’n bietjie tyd oor het, kyk hy na God. En dit is sy groot probleem!

Om na die wêreld met al die mooi plante en diere om te sien en dit

te versorg, is nie verkeerde “wêreldliefde” nie, maar is die nakom

van die (kultuur-) opdrag wat God aan die mens gegee het.

Om regtig die grootte van die probleem te besef, moet ons weer onthou hoe Johannes die kerk beskryf. Die kerk is die gesin van God! Dit beteken dat die Vader in die sentrum moet staan. As groeplid moet die kind eerste vra wat vir die pa en die res van die groep belangrik is voordat hy of sy aan hom- of haarself dink.

Om gedurig net meer en meer vir jouself te begeer, beteken dat jy net aan jouself en nie aan ander dink nie! Dit gaan lynreg in teenoor wat ’n lid van die gesin van God behoort te doen!

(3) Dink ’n paar oomblikke hieroor na: Godsdiens is daar omdat God daar is. God kan egter nie meer jou God wees as jy Hom tweede stel nie. Hy kan en wil nie tweede kom nie, selfs nie na jouself nie. Jy het ’n keuse en jou keuse is eenvoudig: Waar plaas jy God in jou lewe? (Jou antwoord sê ook sommer tegelyk vir jou of jy ’n “wêreldliefhebber” is of nie.)

 

Waar lê die strikke?

Kyk eers na die volgende vrae:

1. Noem belangrike redes wat maak dat ’n mens in ons moderne lewe ’n “wêreldliefhebber” word:

2. As dit dan die redes is, wat kan ’n mens doen om dit teen te werk?

Ons samelewing maak sy eie reëls. As jy nie die “spel van die ekonomie” speel nie, val jy eenvoudig uit. As jy nie aan sekere vereistes (wat gewoonlik met geld saamhang) voldoen nie, is jy net nie “in” nie.

Die kerk is die gesin van God. Die Vader moet in die sentrum staan.

Elke kind moet eers vra wat vir hulle Pa en die res van die gesin

belangrik is voordat die kind aan hom- of haarself dink.

Niemand anders gaan hom of haarself vreeslik “uitsit” om jou te help met hierdie “spel” nie. Jy is eintlik maar op jou eie.

In sulke omstandighede is dit moeilik om nie selfgesentreerd te raak nie!


Kyk na julle kerk en gemeente

Die kerk het die groot taak om die gemeentelede te help om nie “wêreldliefhebbers” (selfgesentreerd) te word nie.

(1) Dink jy die kerk vervul nog hierdie funksie en help jou hierin? Skryf neer waarom jy so sê.

Godsdiens plaas alle fokus op GOD met sy gesin—en nie op jouself nie.

En tog kry ons mense, ook gemeentelede, wat sê: “Godsdiens is my privaat saak wat ek in my binnekamer beoefen. Ander mense het niks daarmee te doen nie en moet ook niks van my vra nie.”

(2) Wat sal jy vir iemand sê wat so ’n opmerking maak?

(3) En hoe sou jy iemand antwoord wat sê: “Ek kry niks by die kerk nie. Die preke is swak en die mense is nie vriendelik genoeg nie”?

(4) Kom ons eindig op ’n positiewe noot: Watter positiewe voorstelle kan jy aan die hand doen om die gesinsaamtrek van gelowiges (kerkbyeenkomste) lekkerder en meer doeltreffend te maak?


Dink nou eers oor die dryfveer van jou lewe.

God wil graag die dryfveer van jou lewe wees. Jy moet God dien en nie jouself nie!

Bid dat God al meer in jou lewe word en jy al minder!

image_pdfimage_print

You may also like...