Die Evangelie volgens Lukas: Die gelykenis van die oneerlike bestuurder (Luk 16:1-8) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Die gelykenis word aan die voorafgaande gelykenis verbind met die woord ‘verkwis.’ Die verlore seun het sy deel van die eiendom in die ver land met sy losbandige lewenswyse verkwis (15:13 diaskorpizō). Die oneerlike bestuurder word  aangekla dat hy die ryk man se besittings (ta huparchonta) verkwis het (16:1 diaskorpizō). Die verlore seun kom na sy pa toe terug. Die onregverdige bestuurder betrek sy vriende by sy bedrog. Die vraag is hoe om reg om te gaan met besittings. Vir die oudste broer het besittings ook ’n probleem tussen hom en sy pa en sy broer veroorsaak. Hy was bang sy broer kry weer ’n aandeel aan sy deel, en het nooit besef dat alles wat aan sy pa behoort syne is nie. In 14:33 sê Jesus dat slegs dié wat van al hulle besitttings (ta huparchonta) afstand doen, sy dissipels kan wees. In 16:9-17 en 16:19-31 gaan die onderrig oor besittings voort, en moet die uitleg van die gelykenis van die oneerlike bestuurder ook daardie uitsprake in ag neem.

 16:1 Jesus vertel vir sy volgelinge van ’n ryk man wat ’n bestuurder gehad het wat aan hom rekenskap moes doen. Die bestuurder is beskuldig dat hy van sy heer se besittings verkwis het. Die bestuurder het van sy eienaar se besittings vir sy eie voordeel misbruik.

 16:2  Die eienaar konfronteer die bestuurder met die stories wat hy oor die bestuurder hoor, en kondig summier sy ontslag aan. Maar voordat hy verslag gaan doen, maak hy eers planne.

 16:3 Toe die bestuurder besef sy werkskontrak is beëindig, praat hy in radeloosheid met homself, soos die verlore seun tot homself gekom het (Luk 15:17). Hy is gewoond aan ’n gemaklike lewe en weet hy is nie fisies sterk genoeg (ischuō) om te spit nie. Vir bedel is hy te skaam voor sy besigheidsvriendekring wat hy opgebou het. Die bedrieër is op die man af eerlik met homself, soos die eienaar sonder om doekies om te draai oor sy afsetting van sy bestuurder.

 16:4 Die plan wat hy vinnig bedink is vir hom die enigste weg uit sy dilemma van die werkloosheid en gebrek wat hom in die gesig staar. Met ’n bedrieglike maneuver sal hy vir hom ’n verwelkoming in sy besigheidsvriende se huise verseker, deur verdere misbruik te maak van sy volmag as bestuurder vir die kort tydjie voordat hy sy amp verloor. Nadat hy uit sy eienaar se diens geval het, stort hy volledig in die duiwel se diepte met sy bedrogskema teen sy eienaar.

 16:5-7 Hy roep die skuldenaars een vir een  in, sodat sy optrede tussen hom en die betrokke skuldenaar geheim sal bly. Die man wat 100 bat olie skuld (ongeveer 2200 liter olie, waarvoor die oes van ongeveer 146 olyfbome nodig was) moet sy skuldbrief vinnig verander na 50 bat. Die man wat 100 kor koring skuld (ongeveer 2200 liter geoes van ongeveer 40 hektaar land;  ’n kor is ’n maat vir droë materiaal) moet gou 80 kor gaan skryf. Daarmee wil hy die blywende dankbaarheid van die skuldenaars verseker sodat hy in die toekoms geen sorge sal hê nie. Willens en wetens beroof hy sy eienaar om daarmee die goedgesindheid van die skuldenaars te koop.

 16:8 Die eienaar (kurios) het die onregverdige bestuurder geprys omdat hy wys, dit wil sê met insig, opgetree het in sy dilemma. Hy het ’n slim plan gemaak om uit sy verknorsing te kom en vir sy toekoms te sorg. 

                 [Verskillende verklarings probeer die eienaar se lof vir die onregverdige bestuurder se wyse optrede verklaar. Sommige wys na Eks 22:25; Lev 25:36 en Deutr 23:19 dat ’n Israeliet nie rente mag vra van ’n arm man uit die volk van die Here nie. Dan bou hulle ’n hele storie oor die bestuurder wat wel rente gevra het en dit vir homself gevat het, en toe die regte bedrag sonder rente laat skryf het, en dat die eienaars hom daarvoor geprys het. Maar dit is nie wat die teks sê nie.]

 Jesus se eerste kommentaar op die hele gelykenis is: ‘die kinders van die wêreld tree verstandiger teenoor mekaar op as die kinders van die lig.’ Daarmee keur Jesus nie die bedrog van die bestuurder goed nie, maar verwys na die slim planne wat wêreldse mense maak om vir hulleself te sorg. Die kinders van die lig behoort ook slim om te gaan met hulle besittings met die oog op die oordeelsdag van God wat aan die kom is. Die Here sal vra of jy behoeftiges gehelp het met die besittings wat Hy aan jou toevertrou het en of jy eerlik met die besittings van ander mense gehandel het (vgl Luk 12:42-44). Terwyl die oneerlike bestuurder vriende gemaak het van sy eienaar se skuldenaars, stoot die Fariseërs met hulle eiegeregtigheid en hoogmoed die tollenaars en sondaars weg met hulle koue veroordeling.

 Vir Jesus se tweede kommentaar, vgl. by Luk 16:9.

image_pdfimage_print

You may also like...