Die Evangelie volgens Lukas: Jesus stuur die twaalf uit (Luk 9:1-6) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Lukas volg Markus 6:6b-13, verkort en verander dit volgens sy styl en teologiese insigte. Lukas laat Markus 6:1-6a oor Jesus se besoek aan Nasaret uit, wat reeds breedvoerig in Luk 4:16-20 behandel is, om aan die begin van sy Evangelie die program van Jesus se bediening aan te kondig.

9:1-2 Die twaalf (vgl. Luk 6:12-16 vir hulle name) begin deelneem aan Jesus se werk en word nou deur Hom uitgestuur as apostels (gevolmagdigde gestuurdes, Luk 6:13) nadat hulle die eerste deel van Jesus se bediening in Galilea saam met Hom gegaan het om eers in diens opgelei te word (Luk 7:11; 8:1) en te leer om soos Jesus op te tree. Nou moes hulle begin om self die koms van die koninkryk van God met woord en daad feestelik te gaan verkondig. Die kern van hulle opdrag is dat God die wêreld beheer en dat mense sy woord moet volg. Die gelykenisse van Jesus moet aan ander oorvertel word, en mense moet geroep word om Jesus as hulle Verlosser te aanvaar. Die wondergenesings en uitdryf van duiwels is deel van hulle bediening om die egtheid van die nuwe boodskap van God se koningskap en verlossing te bevestig, en dat hulle deur Jesus toegerus is as sy apostels, met mag en gesag oor alle demone en siektes (vgl. 2 Kor 12:12). Die versorging van die mens se siel en liggaam is ook deel van Jesus se bediening (Mark 6:7 sê Hy het hulle twee-twee uitgestuur). Lukas voeg ‘alle’ by die demone uitdryf, en dat hulle siekes genees (nie in Markus nie, maar uitgebreid in Matteus 10:8 ook met die opwekking van dooies).

9:3 Die apostels word uitgestuur om op God alleen te vertrou soos Jesus self (Luk 9:58; vgl Matt 6:25-34), daarom geen voorsiening vir hulleself  met ’n wandelstok (soos ’n pelgrim) of reissak (wat ’n bedelsak kan word) of brood (wat ontvang sal word) of geld (wat hulle opdrag kan skade aandoen) of twee kledingstukke (nie nodig vir ’n kort vinnige reis deur dorpe van Galilea nie). Al wat Jesus hulle saamgee is sy krag en gesag om sy sending te gaan uitvoer.

(Die wandelstok is ’n onopgeloste probleem, want Mark 6:8 sê: behalwe net ’n wandelstok; Matteus het die uitsluiting van die wandelstok, soos Lukas).

9:4 Vanuit die huis waar hulle gasvry ontvang word, moet hulle die betrokke dorpie gaan bedien, waarskynlik van huis tot huis en in die sinagoge of plek waar die inwoners en omgewing bymekaarkom (vgl. Hand 9:43; 16:15; 17:7; 18:3-4; 21:8,16). Die beperking tot een huis is ’n aanduiding dat hulle nie te lank in elke dorpie sou vertoef nie.

9:5 Wie vir hulle wegwys, verwerp vir Jesus, en wie hulle aanneem maak ruimte vir die heerskappy van God.(Luk 10:16; Matt 10:40). Iemand wat ’n apostel van Jesus afwys, bring die oordeel oor homself (Luk 10:10-12). Om die stof van hulle voete af te skud (Hand 13:46,51) beteken dat die oordeel oor die mense onherroeplik is, aangesien die gemeenskap met Jesus een maal aan hulle aangebied is en nie weer nie; dit beteken ook dat die apostels geen skuld dra vir die oordeel oor daardie mense nie (vgl. Eseg 33:1-9).

9:6 Die doel van die uitsending van die apostels is om gou elke dorpie in Galilea te besoek. Orals het hulle die evangelie verkondig, die goeie boodskap van verlossing onder God se heerskappy wat Jesus gebring het, en dit prakties bevestig deur siekes gesond te maak. ‘Orals’ wys dat hulle onder mekaar die hele provinsie Galilea bereik het. (Lukas verkort hiermee Markus 6:12-13 se slot).

 

Herodes wonder wie Jesus is (Luk 9:7-9)

9:7 Die rede waarom Jesus die twaalf uitgestuur het op die kruin van sy populariteit in Galilea is moontlik sy verhoogde besef van die dringendheid van sy verkondiging na die dood van Johannes die Doper aan die hand van Herodes Antipas, die  tetrarch, wat oor ’n kwart van sy pa, Herodes die Grote, se ryk regeer het in Galilea en Perea. Herodes is verward (diaporeo; vgl. sy vertwyfeling aporeo in Mark 6:20; en sy ontsteltenis, lupeomai spyt/ellendig voel, in Mat 14:9) deur die berigte wat hy oor Jesus ontvang. Lukas beklemtoon dat die berigte gaan oor ‘alles wat gebeur het.’ Dit sluit in Jesus se woorde en sy wonders, wat die kentekens is van ’n profeet wat deur God met volmag gestuur is (vgl. 7:18). Party mense sê Jesus is Johannes wat uit die dood opgewek is. Volgens Markus 6:16 was Herodes oortuig Jesus is Johannes die Doper wat opgewek is. Matteus 14:2 het Markus 6:16 net so oorgeneem. Dat Jesus meer mense trek as Johannes die Doper was nie slegs vir die godsdienstige leiers ’n probleem waarom hulle Jesus se leer kom ondersoek en verwerp het nie, maar ook vir die regeerders oor die skare mense onder hulle, wat agter Jesus aan loop. Josefus sê dat Herodes bang was vir ’n messiaanse opstand. As Hellenis het Herodes geen erg aan die opstanding van die liggaam nie (Hand 17:32; 26:23-24; 1 Kor 15:12).

Toe Jesus begin preek het was Johannes nog in die tronk in Machaerus, Herodes se paleis in Perea, volgens Mark 1:14 (vgl. Luk 7:18 oor sy navrae oor Jesus). Volgens Lukas 3:19-20 was Herodias die rede vir Johannes se gevangeneming (vgl Mark 6:14-29 se lang beskrywing van Johannes se dood, waarna slegs terloops verwys word in Lukas 9:9).

9:8 Ander menings oor Jesus is dat Hy Elia is wat verskyn het, soos in Maleagi 4:5-6 voorspel, maar volgens die Evangelies is Johannes die Doper juis die voorspelde Elia (vgl. Luk 1:17; Mat 11:14). Ander mense beskou Jesus as een van die ou profete van die Here wat uit die graf opgestaan het.

9:9 Dié bespiegelinge oor Jesus het Herodes se slegte gewete oor sy onthoofding van Johannes die Doper gepla en hom verward gemaak (9:7). Hy het gesoek om Jesus te siene te kry. Slegs Lukas van die vier Evangelies het hierdie opmerking, en die verhoor van Jesus voor Herodes in 23:6-12. Hy wou ’n wonderteken wou sien wat Jesus sou doen. Sonder enige reaksie van Jesus het hy Hom teruggestuur na Pilatus om geoordeel te word. Volgens Luk 13:31 sê Fariseërs vir Jesus dat Herodes Hom wil doodmaak.

image_pdfimage_print

You may also like...