Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word gekruisig (Luk 23:33-43) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Lukas se verhaal van die kruisiging gebruik ses gedeeltes uit Markus wat hy verwerk: verdeling van die klere, kruis opskrif, spottende volksleiers, duisternis, voorhangsel wat skeur, Romeinse offisier onder die kruis. Die meeste ander dele kom slegs in Lukas voor, wat uit ander bronne kom, soos hy in 1:1-4 gesê het.

 Lukas bied die verhaal in vier afdelings aan. Elke afdeling het drie onderdele. Die driedeling word ook gesien in die drie kruiswoorde, in vers 34 ‘n gebed vir hulle wat Hom gekruisig het, vers 43 ’n woord aan die misdadiger, vers 46 tot sy Vader.

 23:33-34 kruisiging van drie, voorbidding, verdeling van sy klere

23:35-43 bespotting om Homself te red deur drie groepe: die volksleiers, die soldate, die een misdadiger

23:44-46 drie tekens: die son wat verduister, die voorhangsel wat skeur, Jesus se selfoorgawe in die dood

23:47-49 die uitwerking van sy dood op: die Romeinse offisier, die skare, Jesus se kennisse.

 Die middelpunt van die kruisverhaal is die toneel met die gelowige misdadiger 23:40-43. Dit wys die blye laaste moontlikheid, dat die dood van Jesus ’n laaste geleentheid vir bekering selfs in die laaste minute bied. Met die bekeerde misdadiger, die volgelinge van Jesus, en die Romeinse soldaat, skep die Here die nuwe volk van God daar aan die kruis.

 23:33 Hulle, die hele prosessie, kom op die plek wat Kopbeen genoem word. Die heuwel het blykbaar soos ’n kopbeen gelyk. Die ander drie Evangelies verskaf ook die Hebreeuse naam Golgota. (Vir sy Griekse lesers laat Lukas ook die Hebreeuse naam Getsemane uit. Hy verwys slegs na ’n plek by die Olyfberg; Luk 22:39-40). Jesus word in die middel van die twee misdadigers gekruisig as die ergste/leier misdadiger. Daarmee word Jesaja 53:12 vervul: ‘Hy is as midadiger beskou omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het,’ soos in Luk 22:37. Die naam Jesus beteken ‘die Here verlos.’ Hy is die Verlosser van sonde (Matt 1:21), die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29), die Vriend van sondaars (Luk 7:34) en sterf tussen twee misdadigers as teken daarvan.

 23:34 Die oudste manuskripte het nie hierdie gebed van Jesus in Lukas nie, maar dit is reeds vroeg in die teks van Lukas ingevoeg, moontlik uit die mondelinge oorlewering daarvan, en word aanvaar as ’n egte deel van die teks. Stefanus bid dieselfde woorde in Handelinge 7:60. Eusebius 2,23,16 verwys na Hegesippus, ’n Joodse Christen uit die 2e eeu n.C. se getuienis dat Jesus se broer Jakobus dieselfde gebed gebid het toe die Skrifkenners en die Fariseërs hom met klippe doodgegooi het.

 Die ‘hulle’ vir wie Jesus bid verwys moontlik na die Romeinse soldate en almal wat verantwoordelik was vir Jesus se kruisiging. Lukas sien die ‘hulle’ waarskynlik as ’n verwysing na die hele Joodse volk, volgens sy weergawe van Petrus  se woorde in Handelinge 3:11,17. Met Jesus se gebed om hulle vergewing, bevestig Hy sy sending om die genadejaar van die Here aan te kondig (Luk 1:19), dat Hy die volmag het om sondes te vergewe (Luk 5:24), ook van die sondige vrou (7:48). So vervul Hy die aankondiging van sy geboorte in Luk 2:11 as die Verlosser wat vir hulle gebore is. Die bekering van sy medekruiseling (23:42-43), van die Romeinse soldaat (23:47) en van die skare wat op hulle bors slaan as teken van rou (23:48)  wys in die rigting van ’n vervulling van sy gebed vir hulle. Sy gebed is tot sy Vader, soos sy laaste woord in 23:46. Dit tipeer Jesus soos Lukas Hom gesien het as die Middelaar tussen God en die mense vir wie Hy gekom het om aan hulle vergewing van sonde te kom bewerk. Hulle vergewing kan beteken dat hulle sal begin insien wie Jesus is en wat hulle aan Hom gedoen het.

 Die soldate verdeel sy klere onder hulle deur te loot. Die tipiese beskrywing van die Ou Testamentiese ellendige in Ps 22:19 word op Jesus toegepas: ’Hulle verdeel my klere onder mekaar, en hulle loot oor my kleed’. Himatia wat deur al vier Evangelies gebruik word, kan al Jesus se kledingstukke aandui, of na ’n bokleed verwys; Joh 19:24 praat van sy klere wat verdeel is en van sy onderkleed waaroor hulle geloot het, die chiton, wat onder die bokleed gedra is. Waarskynlik is Jesus naak gekruisig soos gewoonlik met die Romeine se kruisigings as leedvermaak en skande (vgl. Ps 22:7 ‘bespot deur die mense, verag deur die volk,’ Ps 22:18 ‘hulle staar my aan met leedvermaak;’  Matt 25:43 ‘nakend en julle het my nie geklee nie’). So beroof hulle Jesus van sy eer, sy volgelinge, sy lewe, en nou die laaste oorblyfsels van sy aardse besittings, sy klere. Adam en Eva se beskaming oor hulle naaktheid na hulle sondeval (Gen 3:7,10-11; 20) word deur Jesus op Hom geneem saam met hulle doodstraf vir hulle oortreding (Gen 2:16; 3:19; Rom 5:12).

 So beskryf Lukas drie aspekte van Jesus se kruisiging: Jesus sterf tussen die sondaars vir sondaars (1 Tim 1:15), biddend tot sy Vader vir hulle vergifnis soos Hy steeds vir ons intree by die Vader (Rom 8:34; Hebr 7:25), nakend om die smaad van die sonde te dra (Ps 69:10 aangehaal in Rom 15:3).

 23:35 Lukas vertel van drie groepe se spottende reaksie op Jesus se kruisiging: Volgens Lukas was die volk slegs toeskouers wat die skouspel gestaan en aankyk het (theōreō stip aankyk). Markus en Mattheus vertel ook van die verbygangers dat hulle Jesus, wat die tempel in drie dae sou opbou, belaster/uitgeskel het om Homself nou te red.

 Soos Markus en Matteus vertel Lukas van die volksleiers (Mattheus noem die leierpriesters, skrifkenners en oudstes) wat aanhoudend smalend onder mekaar gesê het: Ander het Hy gered, laat Hy Homself red as Hy die Christus van God is, die Uitverkorene (Ps 22:9 ‘Laat Hy hom bevry, laat Hy hom red as Hy hom goedgesind is’). In Luk 9:35 het God gesê, ‘Dit is my Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom;’ vgl. Jes 42:1 wat van die Kneg van die Here praat as God se uitverkorene. Hulle erken dat Hy ander gered het, maar kan hulle nie indink waarom Hy nie sy mag gebruik om Homself te red nie. Dit sou dan ’n klinkklare bewys wees dat Hy die Messias is wat hulle verwag het. Maar Hy is die Lydende Kneg van die Here van Jesaja 53:4-12 wat ander se straf dra. Vir hulle is so’n Verlosser-Messias onaanvaarbaar.

 23:36-37 Die soldate sit die volksleiers se onderlinge spot voort deur Hom direk met hulle spotwoorde te konfronteer. Hulle het ook met Hom die spot gedryf (empaizō bespotlik maak, om met iemand gek te skeer deur hom na te aap op ’n verdraaide manier): hulle kom plegtig na Hom toe, bied vir Hom suur wyn aan (oksos goedkoop suur wyn) wat ’n mens nie vir ’n koning sal aanbied nie. Lukas beskryf dit nie as ’n gebaar van bejammering nie, maar as deel van hulle spot. En hulle sê: ‘as jy die koning van die Jode is, red jouself’ (vgl. Ps 69:22 ‘vir my dors het hulle my asyn laat drink’) – as dit is hoe die koning van die Jode lyk, kan hulle net lag oor die vreemde en gehate volk.

 23:38 Saam met hulle gespot verwys Lukas ook na Pilatus se minagting van die Jode oor die hofsaak wat hy eintlik verloor het, deur die opskrif met die aanklag daarop: ‘Jesus die Nasarener die koning van die Jode.’

  23:39 Die een opgehangde misdadiger, wat geen skuldgevoel oor sy misdade gehad het nie, het enigeen blameer vir wat hy beskou het as ’n wraakgierige draai van die noodlot teen hom. Hy neem deel aan die bespotting van Jesus. Hy knoop ook by die Messiasnaam aan en het aangehou om Jesus sarkasties te laster ‘Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons’(die vraag impliseer ’n positiewe antwoord, al glo hy nie dat Jesus God se Gesalfde Koning is of hulle kan red nie). Moontlik was hy ’n verharde Seloot, in opstand teen Rome. Dit is die derde maal dat Jesus spottend uitgedaag word om Homself te red: eers deur dié wat sy kruisiging geëis het, toe dié wat Hom gekruisig het, en derdens een van dié wat saam met Hom gekruisig is – hardvogtige priesters, geharde soldate, en ’n verharde misdadiger. So het die duiwel aan die begin van Jesus se bediening Hom ook driemaal in die woestyn versoek: om sy Seunskap van God vir Homself te misbruik, om so die doel van sy koms na die aarde toe te verydel.

 Met enkele strepe skilder Lukas die verskillende houdings van die toeskouers: die vulgêre nuuskierigheid van die gepeupel, die smalende bespotting van die leiers,  die ongevoelige ligsinnigheid van die wagte, en die bitter verwyt van die misdadiger.

 23:40-41 Jesus se dringende waarskuwing aan die vroue op sy lydensweg om tot berou te kom, word slegs deur Lukas opgeteken. So is ook Jesus se wonderlike nuus aan die berouvolle misdadiger aan die kruis, slegs in Lukas. Die gesprek vorm die middelpunt van Lukas se berig oor Jesus se kruisiging (Markus en Mattheus het slegs ’n enkele opmerking dat sy twee medekruiselinge Hom beledig het).

 Die misdadiger begin deur sy mede-misdadiger wat Jesus aanhou spot, te berispe (epitimaō om sterk afkeur van iemand te verwoord): ‘Het jy nie ontsag vir God nie?’  (fobeomai bang wees, te vrees, om groot eerbied en ontsag te hê). Hulle staan op die drumpel van die dood om voor God rekenskap te gee van hulle dade. Daarby bely hy dat hulle albei skuldig is aan die oortredings waarvoor hulle aan die kruis gestraf word; ‘in ons geval is dit geregverdig, want ons ontvang wat pas by wat ons gedoen het/als wat ons verdien het (apolambanō terug ontvang).’  Maar hierdie mede-kruiseling van hulle word onskuldig gestraf: ‘Hy het niks slegs/verkeerds (atopos) gedoen nie.’  Hoe kan ’n mens in sulke omstandighede jou nog spottend bo Jesus verhef? Soos Pilatus die Romeinse getuie is van Jesus se onskuld, getuig die Joodse misdadiger ook van sy onskuld. Jesus, die Onskuldige, sterf vir die sonde van die wêreld. (Joh 1:29). Met sy erkenning van hulle skuld en van Jesus se onskuld begin die man se bekering. Soos die verlore seun kom die man tot sy sinne (Luk 15:17 letterlik: kom hy tot homself) en sien hy homself in Jesus se lig – die lig wat vir die nasies tot openbaring dien, Luk 2:32).       

 Met enkele sinne in verse 39-42 beskryf Lukas drie kort gesprekke aan die kruis: die een misdadiger se spotwoord oor verlossing aan Jesus sonder ’n antwoord; die tweede misdadiger se bestraffing van die eerste sonder ’n reaksie; die tweede misdadiger se pleit by Jesus met Jesus se wonderlike antwoord. Met die drie gesprekke word berou, geloof, belydenis, gebed en belofte, die hele boodskap van verlossing ter sprake gebring. So word hierdie gesprekke karakteristiek vir die groot lyne van hierdie evangelie en van die verskillende houdings van die mens daarteenoor.

 23:42 Hy sê toe: ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Die woord mimnêskomai onthou, vra ook die gepaste optrede wanneer aan die saak of die persoon gedink word, soos Josef se versoek aan die skinker in  Gen 40:14. (die jonger westerse teks uit die 5e eeu n.C. wat in die 1953-vertaling gebruik is, het die benoemings omgedraai:  ‘En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.’ Die ouer tekste uit die 3e en 4e eeu n.C. het die aanspreekvorm Jesus).

 Sy aanspreekvorm ‘Jesus’ (die Griekse vorm van Joshua beteken Jahweh red) eggo die gebed van Ps 106:4 ‘Dink aan my Here…wanneer U u volk verlos.’ Die teks word as sterwensgebed op grafskrifte in Galilea gevind. Met die verwysing na Jesus se koninkryk word Jesus erken as die Jode se verwagte Messiaskoning. Die Griekse idioom erchomai eis ‘inkom in’ veronderstel dat Jesus ná of met sy dood as Koning in sy Koninkryk begin regeer.

  23:43 Ons weet nie hoe die berouvolle misdadiger die betekenis van die naam Jesus verstaan het, of hoe hy oor Jesus se koninkryk gedink het nie. Hy kon die naam op die vonnisbordjie gelees het. Maar wat hy ook al verwag het, was Jesus se belofte aan hom buite alle verhouding tot sy versoek. Dit is aan hom gegee met die bevestigende ‘amen,’ en met die volmag wat die Vader aan sy Seun gegee het. Nie in ’n veraf hofsitting nie, maar nóú, hier aan die kruis, is hy vrygespreek voor die regbank van die goddelike Regter. Sy beloning is nie in ’n eeu wat nog kom nie, maar vandag in die Paradys saam met die Regverdige Koning. Vir die misdadiger word die uur van sy dood deur sy gemeenskap met Jesus ’n heilsvervulde hede (vgl. Luk 2:11 ‘Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus, die Here’). Uit die liefde en volmag van Jesus se heerskappy sluit Hy vir die mense wat in sy gemeenskap inkom, die Paradys oop. Paradys is die Persiese woord vir ’n tuin. Genesis 3:23 vertel dat die Here God die tuin van Eden, waar die mens in gemeenskap met Hom geleef het, vir hulle gesluit het, om nie van die boom van die lewe te eet en vir altyd te lewe nie. Jesus ontsluit vir die mense wat in Hom glo en Hom liefhet die ewige lewe saam met God (vgl. Joh 14:23).

image_pdfimage_print

You may also like...