Die Handelinge van die Apostels: Paulus word aan Agrippa voorgestel (Hand 25:23-27) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Die verse beskryf ’n tronktoneel as inleiding tot Paulus se getuienis. Hiermee tree Paulus en die Christendom in die openbaar voor konings en nasies en Israel, soos die Here gesê het (Hand 9:15; Luk 21:12; Matt 10:18). Die hele toneel herinner aan Jesus se verskyning voor koning Herodes Antipas wat vir Jesus graag te siene wou kry (Luk 23:6-12). Jesus en Paulus het albei geboeid voor ’n Herodes gestaan. Die groot verskil is egter dat Jesus geen woord voor Herodes gepraat het nie, en Paulus sy boodskap oor Jesus op ’n indrukwekkende manier voor die groot groep heidene en enkele Jode aangebied het.

25:23 Die volgende dag het Herodes Agrippa II en sy suster Bernice wat ook sy gesellin was, met groot vertoon en seremonie (pollês fantasías) daar aangekom. Hulle was vergesel van Romeinse kommandante in ampsdrag (wat elkeen bevel voer oor 1 000 soldate) en die vooraanstaande mans van Sesarea. Die groep militêre leiers en hoogwaardigheidsbekleërs het Agrippa en Bernice die ontvangssaal (akroatêrion gehoorsaal, auditorium) in gevolg. Toe het Festus opdrag gegee dat Paulus – met kettings geboei (26:29 tà desmà) – ingebring moes word. Die naam Paulus beteken ‘kleintjie’ (vgl. 1 Kor 15:9), die man wat juis oor sy swakhede roem, hom verheug in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer hy swak is, juis dan is hy sterk, want Christus se krag sal hom beskut (2 Kor 12:9-10).

25:24  Festus spreek die teenwoordige mans toe (nie Bernice nie), stel die geboeide Paulus aan hulle voor en verduidelik wat die aanklag teen Paulus is, maar verdraai effens die feite van die vorige berigte om homself in ’n beter lig te stel en die Jode in ’n slegter lig. Eerstens word ‘die leiers van die Jode’ wat die klagtes teen Paulus by Festus ingedien het (25:2,7,15) hier ‘die hele menigte van die Jode,  wat ’n ernstige beroep op my gedoen het (entunchánō) in Jerusalem en hier’ in Sesarea. Hulle het geskreeu dat hy nie langer behoort te lewe nie. Die ‘aanklag’ van vers 2, die ‘ernstige aanklagte’ van vers 7 en die ‘veroordeling’ van vers 15 word in vers 24  ’n ‘doodsvonnis’  in stygende orde om die klag wat by hom ingedien is, al erger te maak. In Lisias se brief aan Feliks het gestaan dat die Jode op die punt was om Paulus dood te maak toe hy en sy soldate hom gaan verlos het (23:27). Die luide geskreeu van die Jode waarna Festus hier verwys lyk asof die Jode hom wou afdreig. Dit klink egter glad nie na Tertullus se vleitaal waarmee hy die klagtes voor Festus ingelei het, rustig aan hom voorgelê het en deur die Jode ondersteun en bevestig is nie (24:2-9). Die hele prentjie wat Festus skilder verwring die feite van die verloop van die saak. Dit lyk veel meer na wat met Jesus voor Pilatus gebeur het, toe die volk drie maal al harder geskreeu het ‘Weg met hom!, Kruisig, kruisig hom!’  (Luk 23:18,21,23).

25:25 Vir Agrippa het Festus gesê dat die Jode geen beskuldiging teen Paulus ingebring het van die soort misdrywe wat hy verwag het nie (25:18). Hier verklaar hy openlik dat hy niks kon vind wat Paulus gedoen het om die dood te verdien nie., soos Lisias ook destyds aan Feliks geskryf het (23:29). Daarmee verklaar Festus openlik Paulus se onskuld. So ly Paulus onskuldig as getuie van dié Jesus wat Pilatus driemaal onskuldig bevind het (Luk 23:14,15,22) en tog oorgelewer het om gekruisig te word. ‘Maar aangesien Paulus self hom op Sy Majesteit beroep het, het ek besluit om hom (na die keiser toe) te stuur.’ Festus is verleë om ’n onskuldige man na die keiser toe te stuur. Hy het nie ’n wettige aanklag wat so ernstig is dat dit na die keiser verwys moet word omdat dit nie deur ’n amptenaar met ’n laer rang verhoor kon word nie – veral nie as dit deur ‘n goewerneur is wat pas deur die keiser as sy gevolmagtigde verteenwoordiger aangestel is nie. Festus is duidelik deur Paulus se appél onkant gevang.

25:26 ’n Groot strydpunt tussen die Christene en die Romeine was die Romeine se belydenis: ‘Sy Majesteit die keiser is die Here (kúrios)’ en die Christene se belydenis ‘Jesus Christus is die Here (Kúrios).’ 1 Kor 8:5-6: ‘Selfs al is daar inderdaad sogenaamde gode in die hemel of op die aarde, en net so ook baie ‘gode’ en baie ‘here’ – vir ons egter is daar

één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één Here Jesus Chrustus, deur wie alles is en ons deur Hom. In Paulus se brief aan die Romeine, net voor hy na Jerusalem vertrek het, het hy byvoorbeeld sewentien maal verwys na Jesus Christus as ons Here.

Hier in verse 26-27 sê Festus Paulus het hom self op Sy Majesteit beroep en dat hy niks konkreets het om oor Paulus aan sy here te skryf nie (kúrios kan met respek verwys na ’n man as ’n heer, of na ’n regeerder, of na die eienaar van ’n slaaf, of as ’n titel vir God). Na sy verwysing na Nero as Sy Majesteit het Festus waarskynlik met ‘here’  Nero (54-68 n.C) se semi-goddelikheid met vrees in gedagte gehad. Keiser Caligula (37-41 n.C.) het al vereis dat sy onderdane hom aanbid as ’n lewende god.

Festus verwag dat hy, nadat hulle Paulus se saak ondersoek het, iets sou hê om aan die keiser te skryf. Dit is die eintlike rede vir die voorverhoor wat Festus in sy onsekerheid vir Agrippa gereël het. Sy hoop is veral op Agrippa wat die Jode se gebruike en wette goed sou kon ken  (26:3) en selfs toesig oor die hoëpriester gehad het in opdrag van die keiser.

25:27 Ewe vernaam beklemtoon Festus die noodwendigheid van ’n begeleidende brief aan die keiser. Dit lyk vir hom absurd, onlogies om ’n gevangene vir verhoor te stuur sonder dat die aanklagte of redes vir die aanklagte teen hom aangedui word. Rome kon vra waarom hy dan nie vir Paulus losgelaat het nie (’n moontlikheid vir gebeure na die boek Handelinge afgesluit het in 28:30). Dit is die dilemma waarin Festus beland het toe hy die Jode se guns probeer wen het (25:9). Intussen bestuur die Here die gang van die hele proses om sy doel te bereik

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...