Die oorblyfsel van Israel

image_pdfimage_print

Die oorblyfsel van Israel – Marius Nel

Jan vra:

In die OT lees mens telkens van ‘n “oorblyfsel” van Israel as hulle in ‘n oorlog was of eerder van ‘n bannelingskap vrygelaat word waarmee God dan voortgaan om met hulle te deel. In Romeine 10 sê Paulus dat Israel God se geregtigheid verwerp en hulle eie geregtigheid probeer oprig het met ‘n ywer vir God maar sonder kennis.

In hoofstuk 11 sê hy dat God die volk wat Hy vantevore geken het nie verstoot het nie. Elia het hulle destyds by God verklae maar vers 4 sê: Ek het vir Myself 7000 manne soos jy laat oorbly wat hulle knieë voor Baal nie gebuig het nie. Dan vers 5: Net so is daar in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van genade, ens.

Vers 25 sê dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het (v26) en so sal die hele Israel gered word.

Rom 9: 27 : En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word.

Sou mens kon sê dat die “oorblyfsel” waarna Jesaja verwys vooruit wys na die “oorblyfsel” in Romeine 11? Indien so, wie is die oorblyfsel in die teenwoordige tyd” en dan die “hele Israel” wat gered word? In die lig hiervan hoe sal Israel as volk figureer sodra die genadetyd vir die “heidene” tot ‘n einde kom? asb.

 

 Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

 

U raak ‘n belangrike kwessie aan wat vir Paulus belangrike emotiewe waarde het. Hy het onder die heidene gewerk en waarskynlik dikwels die verwyt van sy volkgenote gehoor, selfs van Joodse Christene, dat hy sy volk versaak het ten gunste van nie-Jode. Hy antwoord daarop dat die Here nie die Joodse volk afgeskryf het nie, alhoewel Hy in sy genade na die heidene uitgereik het.

 

Hy sluit aan by die profetiese gedagte dat God sy volk verwerp het as gevolg van hulle ongehoorsaamheid, maar dat Hy steeds ‘n verhouding met dié Jode het wat gehoorsaam aan Hom leef. Dit verwys na die oorblyfsel, die tak wat uit die stam groei nadat die stam afgekap is.

 

Dié groep bly steeds in ‘n verhouding met God, en God se genade reik nog steeds na die Jode uit, beklemtoon Paulus. En selfs nadat God die volle getal uit die heidene gered het, sal sy genade steeds oor die oorblyfsel van Israel wees om hulle te red.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel

 

image_pdfimage_print

You may also like...