DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (1)

image_pdfimage_print

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (1) – Jan van der Watt

Deel 1 – Verskeie Evangelies met een boodskap

 

i) Waar kom die Evangelies vandaan?

Die mense het nie destyds boeke geskryf soos ons nie – die meeste kon nie skryf nie en die materiaal was baie duur. (Daar was nie CNA’s waar mens vinnig papier kon koop nie). Omdat alles nie neergeskryf is nie, is die mense van kleins af geleer om te onthou – hulle moes dinge memoriseer. (Daar word vertel dat van Griekse kinders verwag is om bv. die Iliad – ‘n reuse dik boek – te memoriseer). Juis omdat niks neergeskryf is nie, was dit ‘n storiekultuur. Die aand om die vuur is die stories wat belangrik was oor en oor vertel en die mense het daaruit geleer. So deur en saam met stories het hulle baie belangrike kennis opgetel oor die lewe.

 

 

So het dit ook gewerk met Jesus. Hy het niks neergeskryf nie. Sy dissipels het alles gehoor en… onthou. Na Jesus se hemelvaart het die dissipels die verhale oor wat Jesus gesê en gedoen het, oorvertel aan die Christene. Hulle het dit weer onthou en vir ander vertel. Dit was die eerste wortels van die Evangelies – die verhaal van Jesus was in die koppe van die Christene bewaar. Die dissipels/apostels het gesorg dat die ouens nie sommer die stories verander nie. Hulle was die waarborg vir die waarheid van die stories.

 

Toe die apostels begin doodgaan en die kerk begin uitbrei het dit nodig geword om ‘n ander plan te maak – die verhale is neergeskryf. So is die verhale “bewaar” – nou kan mense dit nie verander nie en het dit outentiek gebly soos die dissipels dit vertel het. Markus was die eerste evangelis wat die verhaal van Jesus neergeskryf het. (Die Markusevangelie is dus ons oudste evangelie). Dit het so 30-40 jaar na Jesus se hemelvaart gebeur, dus so tussen 60 en 70nC. Dit is belangrik om net weer te sê: die evangelie het nie toe tot stand gekom nie. Dit is net toe neergeskryf. Dit wat van die begin af in die geheue van die Christene was en elke dag aan mekaar oorvertel is, is toe net neergeskryf.

 

Dus:

 BybelstudieMarkus1

 


          

 

Hoewel dit altyd moeilik is om vas te stel wie ‘n boek geskryf het (hoe weet ‘n mens presies as jy nie die persoon self sien skryf het nie), is daar tradisioneel aanvaar dat Markus die skrywer was. Dit is ook nie seker waar hy presies was toe hy die evangelie geskryf het nie, maar Antiogië aan die Orontes (die hoofstad van Sirië) is ‘n goeie moontlikheid. Dit was in die eerste eeu die hoofstad van die Christene buite Jerusalem en was ook die stad vanwaar Paulus sy sendingreise onderneem het.

 

Die kerkvader Eusebius haal vir Papias aan wat weer by iemand anders gehoor het dat ‘n ouderling die Evangelie geskryf het. Markus, volgens die berig, was Petrus se interpreteerder en het alles mooi en akkuraat opgeskryf. Hoewel daar baie onsekerheid bestaan oor wie die skrywer was, kon dit die Markus wees van wie ons in die Bybel lees.

Lees die volgende gedeeltes en teken dan jou prentjie van die moontlike skrywer: Hand 12:12 – sy familiebande; Hand 13:5,13 saam met Hand 15:37 – sy sendingwerk; 1 Pet 5:13 – sy verhouding met Petrus; Hand 15:37-39 – Paulus se indruk van hom; Kol 4:10 – Paulus maak tog vrede…………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………………

 

 

Volgende keer kyk ons verder na die Markusevangelie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...