Die woord gesindheid

image_pdfimage_print

Die woord gesindheid – Francois Malan

Derick vra:

Hoeveel keer kom die woord gesindheid in die Bybel voor?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Dit hang af watter vertaling van die Bybel gebruik word. In die 1983-vertaling in Afrikaans word die woord ‘gesindheid’ bv. gebruik as vertaling/verduideliking vir die volgende woorde in die Hebreeuse Ou Testament, die Griekse vertaling van die Ou Testament, en die Griekse Nuwe Testament, in vergelyking met die 1953-vertaling van die Afrikaanse Bybel, en die 2014-Direkte-vertaling van die NT en Psalms in Afrikaans.

 

Numeri 14:24: die gesindheid van Kaleb, vir die Hebreeuse ruag gees, in Grieks pneuma soos die 53-vertaling dit letterlik met ‘gees’ vertaal het – so ook in Spreuke 16:2.

 

1 Kronieke 29:18: hierdie gesindheid in die gemoed van die volk, vir die Hebreeuse: as die gestalte jezêr van die gedagtes van die hart van u volk, 1953: so ‘n gesindheid in die gedagtes van die hart van die volk.

 

Spreuke 21:2 die Here toets die gesindheid, vir Hebreeuse libot ‘harte,’ Grieks kardias ‘harte’  in die 1953-vertaling letterlik vertaal met ‘harte.’ So ook in 1 Samuel 10:9; Esra 6:22; Psalm 105:25 (ook die 2014-vertaling); Spreuke 17:3; 21:2; Jeremia 12:3; Esegiël 18:31

 

Sagaria 6:14 aan die goeie gesindheid van.., vir Hebreeus gen ‘gewilligheid,’ Grieks charis ‘guns,’ 1953-vertaling ‘vriendelikheid.’

 

In die Nuwe Testament gebruik die 1983-vertaling gesindheid vir die volgende Griekse woorde:

 

Matteus 10:13 as die huismense se gesindheid goed is, vir die Grieks: as die huis dit aksia ‘waardig’ is, soos 1953 letterlik vertaal; 2014 ‘as hulle dit werd is.’ Aksios druk ‘n waarde-oordeel uit, en ‘n optrede wat by die verwagting pas.

 

Lukas 2:35 so sal die gesindheid van baie mense, vir die Griekse ‘so sal die ‘gedagtes/redenering/beredenering’ dialogismoi uit baie harte kardias (vir 1983 se ‘mense’),’ 1953: sodat die gedagtes uit baie harte; 2014-vertaling: sodat die ‘bedoelinge’ van baie mense

 

Handelinge 8:21 jou gesindheid teenoor God, vir die Griekse ‘jou hart teenoor God’ wat 1953 en 2014 met ‘hart’ vertaal. Die Griekse figuurlike gebruik van ‘hart’ kardia dui die innerlike dryfveer vir jou dade aan, met klem op jou gedagtes wat in dade omgesit word, wat eintlik meer sê as net jou gesindheid wat nie noodwendig tot dade lei nie.

 

Handelinge 8:22 hierdie gesindheid van jou hart, vir die Griekse ‘hierdie bedoeling epinoia van jou hart; 1953: die gedagte van jou hart; 2014: die bedoeling van jou hart.

 

1 Korintiërs 1:10 ‘in dieselfde gesindheid,’ vir die Griekse ‘in dieselfde nous,’wat veral na die denkwyse verwys waarby die gesindheid ingesluit is; 1953: in dieselfde gesindheid; 2014: ‘eensgesind.’

 

In Efesiërs 6:9 voeg 1983 ‘gesindheid’ in, waar daar in die Grieks slegs staan ‘doen dieselfde,’ 1953: doen dieselfde; 2014: ‘tree net so op’ – ‘dieselfde’ verwys terug na die hele gesindheid van die hart en die optrede wat vereis word in 6:5-8.

 

In Filippense 2:5 word die Griekse sinsnede ‘froneite hierdie onder julle’in 1983 vertaal met ‘dieselfde gesindheid moet in julle wees.’ So ook in 1953 en 2014. Die Griekse werkwoord beskryf deurdagte beplanning met beklemtoning van die houding of gesindheid – om op ‘n spesifieke manier te dink en op te tree met ‘n spesifieke gesindheid van waardering en eerbetoon teenoor die persoon teen wie jy optree soos in 2:4 verduidelik word.

 

In Filippense 2:20 word die Griekse ‘ek het niemand soos hy nie’ in 1983 vertaal met ‘ek het niemand met dieselfde gesindheid as hy nie,’ so ook in 1953 en 2014. Hier word ‘gesindheid’ ook ingevoeg vir duidelikheid vanuit die res van die sin.

 

In Filippense 3:15 gebruik die Grieks twee maal die woord froneoo. 1983 vertaal die eerste met ‘gesindheid’ en die tweede met ‘optrede.’ 1953 twee maal ‘so gesind;’  2014 twee maal: ‘so hieroor dink’ (vgl. hierbo by 2:5).

 

Hebreërs 3:12 ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof, vir ‘n bose hart (kardia ponera) van ongeloof in die oorspronklike Grieks; 1953 ‘n bose ongelowige hart; 2014 ‘n bose hart vol ongeloof.

 

Van die 22 keer wat die 1983-vertaling in die tekste hierbo met ‘gesindheid’ vertaal het, het die 1953-vertaling gesindheid slegs in 1 Kronieke 29:18, 1 Korintiërs 1:10, Filippense 2:5,20 (in Filippense 3:15 vertaal 1953: so gesind);  en die 2014-vertaling slegs in Filippense  2:5,20 (1 Korintiërs 1:10 so gesind).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...