Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vodeselsoorte en Etes(3)

image_pdfimage_print

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vodeselsoorte en Etes(3) – Hennie Stander

Vrugte

Vrugte was ‘n. verdere belangrike bestanddeel van die Jode se dieet. Beide vars en gedroogde vye is gebruik (Jeremia 24:2; 1 Samuel 25:18). Ook druiwe en granate was bekende vrugsoorte (Numeri 13:23; Deuteronomium 8:8). Druiwe is gedroog en as rosyntjies gebruik en rosynekoeke is daarvan gemaak (1 Samuel 25:18; 2 Samuel . 6:19; 1 Kronieke 12:40). Neute en amandels is van die vroegste tye af gebruik (Genesis 43:11). Die vrugte van die appelboom is as lekker .beskou (Hooglied 2:3) en dit het ‘n aangename reuk gehad (Hooglied 7:8). Ook olywe is geëet maar olywe is dikwels uitgedruk en dan is dit vir die maak van olie aangewend. Hierdie olie is dan of vir die lampies (Eksodus 27:20), of vir bak en kookdoeleindes gebruik (vgl. Levitikus 2:5).

Heuning

In die Bybel is daar talle verwysings na die soetheid van heuning. Dawid sê byvoorbeeld dat die bepalings van die Here soeter is as heuning (Psalm 19:10-11). Die Israeliete het heuning as versoetmiddel gebruik aangesien hulle nie suiker gehad het soos wat ons dit vandag ken nie. Daar is etlike gevalle in die Bybel waar ons lees dat heuning geëet is: Simson het dit in die karkas van ‘n leeu gekry (Rigters 14:8-9); Jonatan het dit in ‘n bos gekry (1 Samuel 14:25-27); heuning is ook uit klipskeure gekry (Deuteronomium 32:13). Toe Jerobeam se seun siek was, het hy sy vrou met, onder andere, ‘n kruik heuning na die profeet toe gestuur (1 Konings 14:3). Johannes die Doper het van sprinkane en veldheuning geleef (Matteus 3:4).

 

Volgens die Ou Testamentiese wette was dit egter verbied om heuning te verbrand as ‘n offer vir die Here (Levitikus 2:11).

 

Sout

Baie groot voorrade sout was by die Dooie See beskikbaar. Aan die een kant is southope en -panne gebruik as simbool van verlatenheid en dorheid (Deuteronomium 29:23; Sefanja 2:9). Aan die ander kant was sout simbool van dit wat vrugbaar en waardevol was. Wanneer daar byvoorbeeld vriend­skap met iemand gesmee is, het dit gepaard gegaan met die skenk van sout (Die Arabiere doen dit vandag nog). Daarom is die verbond tussen God en mense dikwels ‘n soutverbond genoem omdat dit onverbreekbaar was (Numeri 18:19; 2 Kronieke 13:5-vgl ook ons uitdrukking in Afrikaans naamlik. om ‘n sak sout met iemand op te eet”). Maar sout is verder gebruik om smaak aan kos te verskaf (Job 6:6). Dit is ook in graanoffers gegooi (Levitikus 2:13). Daar is voorts geglo dat sout medisinale waarde gehad het, en dus, is pasgebore babas daarmee ingevryf (Esegiël 16:4).

soutpanne

Hope voorrade sout was naby die Dooie See beskikbaar.

 

Handewas

Die hande is altyd voor ete gewas omdat daar met die hande self, en nie met messe, vurke en lepels nie, geëet is. In ‘n ryk huis was dit die taak van die dienskneg om diegene wat op die punt gestaan het om te eet, se hande te was. Ons lees byvoorbeeld dat Elisa die een was wat gewoonlik die water oor die hande van Elia gegooi het (2 Konings 3:11). In hierdie geval het die uitdrukking “om water oor iemand se hande te gooi” eintlik al idiomaties geword vir die betekenis van “iemand se assistent te wees”. In Genesis 18:4 stel Abraham aan sy gaste voor dat by water sal gaan haal, sodat hulle eers hulle voete kon was, rus en ‘n bietjie eet.

 

In die tyd van die Nuwe Testament is die hande nie meer om slegs higiëniese redes gewas nie, maar dit was veel meer seremonieel van aard. Die dissi­pels van Jesus is dan ook gekritiseer omdat hulle met ongewaste hande geëet het. Jesus het egter gereageer teen die ritualisering van hierdie praktyk (Markus 7:1-8). Hy het self ook die rol van ‘n dienskneg aangeneem deur die dissipels se voete te was voordat hulle die Laaste Avondmaal saamgeëet het (Johannes 13:4-5).

 

Voordat die maaltyd genuttig is, is God daarvoor gedank. Ons lees nie in die Ou Testament van tafelgebede nie, maar moontlik is dit net nie ge­noem the (maar lees 1 Samuel 9:13). Dit lyk egter wel of dit in die tyd van die Nuwe Testament reeds ‘n vaste gebruik was (Matteus 15:36; 26:26-27).

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

image_pdfimage_print

You may also like...