Jesaja – Verdrukkende regerings kom tot ’n val (14:12-32) – Francois Malan

image_pdfimage_print

14:12-20 Hier is ’n lang gedig wat nadink en feesvier oor die omwenteling in die geskiedenis. Die redes en gevolge van die val van die magsmisbruikers word met feesvreugde bedink deur die verdrukte gemeenskap van getroues. Hulle is getuies van die verdrukkers se val, en hulle vier reeds hulle Godgegewe vryheid, al lewe hulle nog in afwagting daarop.

14:12 Die tema van die gedig word weer, soos in 14:4b, met ‘n retoriese vraag ingelei, wat spottend uitnooi om te rou: ‘Hoe het jy tog uit die hemel geval, Môrester seun van die Daglumier (die rooi skynsel van die daeraad), jy is tot op die grond neergevel, onderdrukker van nasies!’ Die onderdrukker se ambisie om na die hemel op te klim, om ‘n plek tussen die gode in te neem (‘n ster om soos die son te skyn), om as onderdrukker van die onskuldiges die troonkamer van die goeie God oor te neem, eindig in uiterste mislukking – hy is nie eers meer die Môrester nie. Die goeie triomfeer altyd, die wêreld is veilig, ons is verlos!

14:13-14 Die valse ambisie van die verdrukker word verwoord in sy arrogansie in hierdie twee verse. In sy hart het hy gesê – homself verbeel – ek sal opklim…ek sal verhoog…ek sal sit…ek sal opklim…ek sal wees…. So ‘n selfbevorderende verbeelding word oorheers deur ‘n skaamtelose ‘ek’! Hy sê dit miskien nie altyd prontuit nie, maar deur sy optrede beklemtoon hy sy sug na alleenheerskappy, dryf hy die Here uit, en weier hy om hom aan die kragtige hand van die Here te onderwerp (ek sal opklim na die hemel, my troon bokant God se sterre oprig, sit in die vergadering op die godeberg in die hoogstes van die Noorde, opstyg bo die hoogtes van die wolke, ek sal myself beskou as die Hoogste/as God). Dit is waaroor onderdrukkende maatreëls in die politiek gaan.  Dit sal nie werk nie, sê verse 15-17.

14:15-17 Teenoor die verbeeldingsvlugte van grootheid om selfs die hemel oor te neem, kom die Here se oordeelswoord: ‘Maar jy…! vir jou selfverhoging en jou arrogansie is daar nie plek in die hemel nie. Die opkomende ster word ‘n verskietende ster wat (deur die Here) verlaag word tot in die onderwêreld, Sjeool, die plek van die uiterste magteloosheid. Sy ambisie lei toe nie na die hemel nie, maar word neergeslaan. Hy kry toe nie die hemel nie, maar die onderwêreld; nie die hoogste godeberg in die Noorde wat na die hemel lei nie, maar  die onderste deel van die put wat na die doderyk lei.

Dié verlaging is skielik, totaal en verbysterend, sodat toeriste kom om na jou lyk te kyk, en hulle te verwonder oor die geweldige omkering. Hulle kyk na die dop van mag en verwonder hulle oor die pad van die man wat gister nog die wêreld beheer het, nasies laat bewe het, die aarde verwoes het in die naam van ontwikkeling, stede ingeneem het en mense in die tronk gestop het. Die man wat met mense gemaak het wat hy wou sonder om twee keer daaroor te dink. En nou?  Die Bybel weet dat daar ‘n Mag is wat ver meer betroubaar is as hierdie terroriseerder van die aarde. As die Môrester, wat die dag aankondig, misluk in die lewe, word sy mislukking al duideliker in die dood:    

14:18-20a Gewoonlik word konings geëer na hulle dood, met volle eerbewys begrawe in hulle eie praalgrafte in rots uitgekap.  ‘Maar jy… word nie eers begrawe nie. Sy lyk word soos die armstes s’n weggegooi – die grootste skande wat ‘n mens destyds kon oorkom was om nie begrawe te word nie – tussen die lyke van dié wat met die swaard deurboor is – in sy veldtogte, en op getrap word – in die massa as kos vir die roofvoëls.

Anders as konings wat volgens ordelike reëls regeer en met eer begrawe word, word hierdie tiran nie eers begrawe nie, want hy het sy eie nes vuil gemaak deurdat hy sy eie land verwoes het en sy eie mense doodgemaak het. Eer wat gebou word op dreigemente, geweld en prag wat deur uitbuiting verkry word, kan nie stand hou nie.

14:20b-21 Die gedig kyk verder as die weggegooide lyk en die diepte van die doderyk.  Ná die dood van ‘n tiran is daar gewoonlik volgelinge en familie wat sy gewelddadige en uitbuitende regering voortsit. Daarom moet sy nageslag saam met hom uitgeroei word sodat die naam van die slegte mense nie eers genoem word nie, van hulle nageslag nie eers ‘n herinnering oorbly nie. Die permanente uitwissing van ‘n dinastie is die enigste seker manier  om te verseker dat dit nie weer sal gebeur nie (vgl. 1 Konings 15:29-30 Jerobeamfamilie; 2 Kon 10:17 Agabfamilie). Die Assiriërs, Babiloniërs, later die Grieke en daarna die Romeine se regeerders het graag hulle eie versterkte hoofstede gebou om hulle naam vir altyd te verseker. Maar die digter voorsien die uitwissing ook van hulle stede.

14:22-23 Aan die begin en einde word die Here van die leërskare en sy uitspraak genoem, om te verseker dat dit van Hom af kom, en deur Hom, wat die leërs van die aarde bestuur, uitgevoer sal word. Die vernietiging van Babel is totaal. Sy naam sluit sy reputasie, roem en waarde in. Vir Babilon sal nie eers ‘n oorblyfsel van die stad en sy bevolking voortbestaan nie. Dit word die blyplek van ystervarke/krimpvarkies/uile (dieselfde Hebreeuse woord word vir al drie gebruik), wat geen bedreiging vir Israel en die land inhou nie. Vir die heersers is dit onheilspellende nuus, vir Israel goeie nuus van verlossing uit die verdrukking.

14:24-27 Die gedig brei die Here se straf uit, eers oor Assirië, die oorheersers in Jesaja se tyd vanuit die noorde, in vers 25 en in die ander verse oor enige wrede oorheerser;

14:28-32 Daarna kom die Filistyne aan die beurt, Juda se suidelike bure, wat ook onder die Assiriërs gely het. Hulle moet hulle nie verheug oor Assirië se val nie, daar kom nog erger onderdrukking wanneer die Babiloniërs oorneem. Vir Jerusalem/Sion se armes is daar egter uitkoms uit die aanslag van die Assiriërs (vgl. Jes 36).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...