Jesus het die wêreld klaar oorwin (16:25-33)

image_pdfimage_print

Jesus het die wêreld klaar oorwin (16:25-33) – Francois Malan

16:25 Tot nou toe het Jesus met hulle gepraat in beelde, metafore, om sy boodskap te verduidelik vir dié wat glo, en te verberg vir die ongelowiges (vgl. Mark. 4:11 se geheim van die koninkryk van God). Maar daar kom nou ‘n tyd waarin Hy reguit (openlik, met vrymoedigheid) vir hulle van die Vader sal vertel, sonder om iets te verberg. Dit sal Hy doen deur die inwoning van die Heilige Gees wat ons die volle waarheid sal inlei, en Jesus se woorde en werke vir ons sal laat verstaan  (Joh.16:12-15), sodat ons die God van liefde as ons liefdevolle Vader sal ken en vertrou (Joh.3:36; Rom.8:31,32) en Hom eendag  ten volle sal ken (1 Kor.13:12).

16:26-27 Jesus se opstanding lei ‘daardie dag’ in, waarop ‘n nuwe verstaan van sy openbaring begin, en die nuwe vrymoedigheid en effektiwiteit van gebed in sy Naam, namens Hom, op grond van wat Hy vir ons gedoen het, en deur ons eenheid met Hom (16:23-24). Hier lê die klem op die gemeenskap met die Vader, vir wie hulle sal ken as een met Jesus (lote in die ware wingerdstok). Die Vader hoor hulle gebede, want Hy het hulle self lief. In 15:13-15 het Jesus hulle sy vriende genoem, in sy vriendekring opgeneem. Hier sê Jesus, sy vriendekring is ook die Vader se vriendekring (die woord fileoo praat van liefde onder vriende). Die Vader het ons lief, omdat ons deel is van Jesus se vriendekring, mense wat aan Jesus met liefde verbind is.

 

16:28 Sonder beeldspraak som Jesus sy hele bediening en die hart van die evangelie op:  Hy, wat God is, het van die Vader af na die aarde gekom, mens geword; nou gaan Hy van die aarde af, nadat Hy sy versoeningswerk aan die kruis voltooi het en uit die graf opgestaan het, terug na die Vader. Hy het die mens se gemeenskap met God kom herstel en God se gemeenskap met die mens; Hy gaan sit ook as mens aan die regterhand van sy Vader as regeerder oor die ganse skepping, en sal ook altyd by ons wees (Mat.26:64; 28:18-20;Openb.5:6-7; 1 Kor.15:27-28). 

 

16:29-30 Vir die dissipels is dit nou duidelik dat Jesus alles weet van die verhouding tussen God en die mens, van oordeel en verlossing, en van God se koningskap oor die skepping. Hulle begryp nou Hy praat nie in beelde as Hy sê Hy kom van die Vader en gaan na die Vader nie. Niemand hoef Hom of sy kennis met vrae te toets nie (soos hulle in 16:16-24 gedoen het nie). Hulle glo dat Hy waarlik van God af kom, nou dat hulle weet (oortuig is) dat Hy alles weet (vgl. 16:27 vir die Vader se liefde).

 

16:31-32 Hulle entoesiastiese vertroue word egter deur Jesus geskok. ‘Glo julle nou?’  Hulle dink die tyd vir reguit praat het gekom, maar die donkerste uur/tyd in die skepping  is voor die deur. Dan gaan hulle getrouheid aan Jesus soos nog nooit tevore getoets word, en die broosheid van hulle geloof en hulle ontrou aan Jesus vir hulle duidelik word. Elkeen gaan net aan sy eie veiligheid dink en Jesus verlaat (Mark. 14:50). Die voorspelling van Sagaria 13:7 gaan nou in vervulling, en die skape gaan verstrooi word. Daarteenoor staan die getrouheid van die Vader wat Hom nie sal verlaat nie, en by Hom wees ook in sy diepste verwerping (vgl.8:29). 

 

16:33 Jesus sluit die tweede gesprek met sy dissipels af met ‘n bemoediging. Hy verwag ‘n spoedige herstel ná hulle ontsteltenis en lafhartigheid (Joh.14:27) tydens die toets van hulle geloof met sy gevangeneming, verhoor, kruisiging, en dood.  ‘Hierdie dinge,’ eintlik altwee sy gesprekke met hulle (hoofstukke 13-14 en 15-16), het Hy vir hulle gesê, sodat hulle in Hom, in die nouste verbondenheid met Jesus deur die Gees wat in hulle kom woon, vrede kan hê (bly in My en Ek in julle,14:.4-5,7). In 15:11; 16:22,24 het Hy aan hulle vreugde beloof; hier vrede, soos in 14:27, ‘n innerlike vrede wat voortvloei uit die regte verhouding met God. Hierdie vrede verdryf alle ontsteltenis uit die hart en verban die vrees/lafhartigheid (deilia), selfs in die grootste moeilikheid, lyding en vervolging in die wêreld (thlipsis), want God het self in ons kom woon as ons Helper wat ons bystaan  (16:7).  Jesus roep hulle op om met vertroue op Hom, dapper te wees in gevaar en beproewing (tharseite 1983-vertaling: hou moed), want Hy het die wêreld met sy boosheid en sy owerste klaar oorwin (die werkwoord in die perfektum;  vgl.12:31) deur sy gehoorsaamheid aan sy Vader en sy onwankelbare liefde vir die Vader en sy skepping (14:30-31). In gemeenskap met Jesus het elke gelowige deel aan sy oorwinning. 1 Joh 5:4 sê ons oorwin die wêreld deur ons geloof/vertroue in/op God.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...