Psalm 15 (4)

image_pdfimage_print

“Woe to us if, in men’s eyes, we outrank the angels and enjoy the world’s praise, but fail to trust God!” – Johannes Calvyn

 

Psalm 15 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese Implikasies

Die psalmis gee nie reëls nie, maar skilder vir ons ‘n prentjie van ‘n man wat in God se teenwoordigheid mag bly. Dit is interessant dat ander aspekte wat die Israeliete as baie belangrik beskou het, nie hier vermeld word nie – geen melding van toepaslik geklee en gereinig, gedoop of die regte ondervinding (spreek in tale … ) nie. Die kenmerke waarna God kyk, lê op ‘n ander vlak (lees net Jesaja 33:14 – 16). Onderhouding van die sakramente sonder die morele integriteit is nie genoeg nie.

 

Mense met mag en geld is onderhewig aan sekere versoekings. Hierdie psalm waarsku hulle dat hulle die versoekings moet weerstaan en tyd in God se teenwoordigheid spandeer.

 

So beskryf die digter weer twee vereistes vir ‘n standvastige lewe:

  • ‘n Verhouding met God; en
  • ‘n Verhouding met God wat ook prakties gestalte kry in ‘n verhouding met my medemens.

As ek so lewe, kan ek elke aanslag die hoof bied. Met sy uittrede het Pres Franklin Rooseveld hierdie teks aangehaal en toe bygevoeg: “Die ou boot van die staat is steeds op dieselfde koers, want die volk het sy lewe op morele beginsels gebaseer.”

 

Hoe moet ons hierdie uitsprake verstaan? As die inhoud van Psalm 15 voorwaardes was, sou niemand ooit naby God kom nie. Niemand van ons is in staat om volmaak uit te voer dit wat die digter hier sê nie. Gelukkig is so iets nie nodig nie. Die psalm bestaan uit gewone stellings. Hier word nie gepraat van die sondaar wat nog plek by God moet verdien nie. Die digter beskryf hier iemand wat dankie sê vir die genade wat hy klaar van God ontvang het. Hierdie psalm wys vir ons duidelik dat ware geloof meer is as onderhouding van die gebooie. Ware geloof dra vrugte. Hierdie vrugte kom van ‘n liefdevolle, vrygewige persoonlikheid; van iemand wat nie verander nie; van iemand wat betroubaar is.

 

As dit waar is, praat Psalm 15 van mense soos ons. Vroeër was ons sondaars wat verdien het om verlore te gaan. Nou is ons begenadigdes wat reeds van Christus gehoor het: Ek gaan na my Vader se huis om vir julle plek gereed te maak (Johannes 14:2). As ons naby God wil lewe, moet ons aanhou om vir Hom dankie te sê. Dan sal ons nie net ‘n tydjie by hom kan bly nie. Ons sal by Hom veilig kan bly tot in ewigheid. Toegang tot die tempel is nie meer vir ons belangrik nie. Daarom kan Paulus sê: Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het (Romeine 5:2).

 

 

image_pdfimage_print