Jesus se verskynings na sy dood (1)

image_pdfimage_print

The desire for even a good thing becomes a bad thing when that desire becomes a ruling thing. —Paul Tripp

Jesus se verskynings na sy dood (1)

William Lane Craig William Lane Craig is Navorsingsprofessor in Filosofie aan die Talbot School of Theology. Ek gaan baie gebruik maak van sy boekie: Did Jesus Rise from the dead.

Het Jesus werklik aan mense na sy dood verskyn? Daar is drie groepe getuienisse in Paulus se lys van ooggetuies (1 Korintiërs 15:3 – 8)

  • Petrus, die dissipels en die vyf honderd

Die evangelies vertel nie al die storie van Jesus se ontmoetings nie. Ons weet dat drie jaar na sy bekering het Paulus ongeveer twee weke by Petrus in Jerusalem vertoef. Die tweede groep wat Paulus beskryf, was die twaalf – die oorspronklike groep gekies deur Jesus sonder Judas. Hierdie ontmoetings word in Lukas 24 en Johannes 20 beskryf. Van die verskyning aan die 500 weet ons min.

Dit is betekenisvol omdat dit ‘n groot getal is, maar ons lees nêrens elders daarvan nie. Paulus moes persoonlike kennis van hulle gedra het, want hy sê dat party van hulle al dood is.  Paulus sê dat die meeste nog lewe. Daarmee sê hy: “As julle my nie glo nie, daar is hulle. Vra hulleself.”

  • Jakobus en die ander apostels

Dat Jesus aan sy jonger broer Jakobus verskyn het, is verbasend, want nie een van sy broers het in Hom geglo nie. Hulle het nie geglo dat Hy die Messias of ‘n profeet was nie. Dit is dus verbasend om te lees dat kort na sy opstanding sy broers saam met ander Christene in die bovertrek was (Handelinge 1:14). Ons lees eers weer van hulle nadat die engel vir Petrus uit die tronk bevry het (Handelinge 12:17). Petrus se eerste woorde na sy bevryding uit die tronk was: Vertel dit vir Jakobus en die ander gelowiges. Later skryf Paulus dat hy met Jakobus, Sefas en Johannes – wat beskou is as die pilare van die gemeente – in Jerusalem vergader het (Galasiërs 2:9). In Handelinge 21:18 is Jakobus  die hoof van die gemeente in Jerusalem. Volgens Josefus is Jakobus tereggestel deur hom te stenig. Later het Jesus se ander broers ook geglo. Hoe verklaar ons dit? Jesus se kruisiging sou nie hierdie transformasie verklaar het nie. Maar tog was Jakobus bereid om vir sy geloof in Jesus te sterf. Is dit nie omdat Jesus na sy opstanding aan Jakobus verskyn het nie? Die volgende groep aan wie Jesus volgens Paulus verskyn het, was die ander apostels. Wie hulle presies was, weet ons nie. Miskien is dit meer as net die twaalf. Dat daar so ‘n groep was, lees ons in Handelinge 1:21 – 22.

  • Saulus van Tarsus

Dit is die laaste verskyning wat Paulus vermeld. In Handelinge 9:1 – 9 lees ons dat Jesus aan Saulus op die pad na Damaskus verskyn het. Paulus verwys self hierna in sy briewe. Hierdie gebeurtenis het Paulus se hele lewe verander. Hy was ‘n Fariseër, ‘n geëerde Joodse leier. Hy het die Christelike dwaalleer gehaat; hy het alles in sy vermoë gedoen om dit uit te roei. Hy sê selfs dat hy verantwoordelik was vir die teregstelling van Christen gelowiges. Skielik los hy alles en word ‘n Christen sendeling. Nou leef hy in armoede, swaarkry en lyding. Hy word geslaan, gelaat vir dood, hy leef voortdurend in gevaar. Uiteindelik sterf hy ‘n marteldood vir sy geloof. Alles as gevolg van sy ontmoeting op die pad na Damaskus.

Paulus se getuienis sê vir ons dat verskeie individue en groepe by verskillende geleenthede Jesus na sy opstanding gesien het. Volgende keer kyk ons verder na Jesus se verskynings na sy dood.

image_pdfimage_print

You may also like...