Jesus sit sy werk uit die hemel voort deur die Heilige Gees in ons (14:12-19)

image_pdfimage_print

Jesus sit sy werk uit die hemel voort deur die Heilige Gees in ons (14:12-19) – Francois Malan

14:12 Met ‘n plegtige verklaring bring Jesus ‘n asemrowende bemoediging vir sy volgelinge. Omdat Hy na die Vader toe gaan, sit Jesus sy werk in die wêreld voort vanuit die hemel, en doen Hy groter wonderwerke deur die mense wat in Hom glo. Toe Hy nog op aarde was, was sy wonderwerke beperk tot die mense  wat met Hom en sy volgelinge in aanraking gekom het. Vanuit die hemel, aan die regterhand van die Vader, bereik Hy die ganse wêreld deur sy volgelinge wat uitgestuur word na alle nasies (vgl.Joh. 10:16; 12:32).

14:13 Die wonders geskied deur gebed; deurdat mense wat glo dat Jesus in die Vader is en die Vader in Hom, in sy Naam dinge van die Vader vra, dinge wat sal lei tot die verheerliking van die Vader, deurdat die Seun dit sal uitvoer deur sy volgelinge.         

 

14:14 Vers 12 se belofte word herhaal met die byvoeging dat die gebed ook tot Jesus gerig kan word. Of die gebed tot Jesus of tot die Vader gerig word, dit word in elk geval gedoen in Jesus se Naam. Omdat Hy die Middelaar tussen ons en die Vader is, wat die verhouding tussen ons en die Vader reggestel het deur sy offerdood vir ons sonde en sy opstanding as oorwinning oor die sonde en die dood, belowe Hy om te doen wat ons vra op grond van ons gemeenskap met Hom – Hy in ons en ons in Hom. ‘In sy Naam’ verwys na die volheid van sy wese en sy werk, ‘n gebed op grond van wie Jesus is en van sy liefdesoffer vir ons. Dit beteken om te bid volgens sy wil (1 Joh 5:14) en volgens sy opdrag (Joh. 5:30) vir die voortsetting van sy werk op aarde, tot verheerliking van God.

 

14:15 Die belofte van gebedsverhoring bring ‘n verpligting mee – die opdragte van die Here moet uitgevoer word sodat Hy deur ons kan werk. Waar daar ware liefde vir Jesus is, volg blymoedige gehoorsaamheid. Liefde vir Jesus lei tot die hou van sy opdragte (gebooie). In 14:21, 23,24 word ‘my opdragte’, ‘my woord’ (1983-vertaling: woorde) en ‘my woorde’ afwisselend gebruik vir dieselfde saak.  Dit suggereer dat Jesus se opdragte nie slegs etiese opdragte is nie, maar dit is al sy woorde wat Hy van die Vader af aan ons  kom openbaar het (vgl. ook 8:31-32; 12:47-49; 17:6). Wie vir Jesus liefhet se liefde kom tot openbaring in die gewilligheid om die wil van die Here te doen. Liefde is nie slegs ‘n sterk gevoel van verbondenheid aan Jesus, soos Petrus nie (13:37), maar die bereidheid om sy woorde te aanvaar, al gaan dit teen jou wil en begrip in. Die liefde waarvan Jesus se nuwe gebod praat (13:34), omvat al sy woorde en sy voorbeeld (soos Ek julle liefhet) vir die hele lewe van sy volgelinge.

 

14:16 Dié soort liefde en gehoorsaamheid is slegs moontlik saam met ‘n ander helper, bemoediger, middelaar  (parakletos – ‘iemand wat geroep is as bystander/ondersteuner’,  1983-vertaling: Voorspraak), ‘n ‘ander’ goddelike Persoon soos Jesus, wat vir ewig by hulle sal wees, om hulle te help. Dit is die eerste van vyf uitsprake oor die goddelike Helper (14:26; 15:26; 16:7-11, 12-15).

 

14:17 Jesus noem Hom die Gees van die Waarheid – in 14:6 het Hy gesê ‘Ek is die waarheid.’ God sal die Gees stuur op Jesus se gebed, en die Gees is ook, soos Jesus, die Waarheid van God. Dit verwys na die innige band tussen Jesus en die Heilige Gees, die derde Persoon in die godheid. Die ‘wêreld’ verwys hier na die mensdom wat in teenstand teen God is. Hulle kan die Gees nie ontvang nie, soos hulle Jesus se woord/openbaring ook nie aangeneem/geglo het nie, maar dit verwerp het; want hulle sien Hom nie, soos hulle Jesus nie as die beliggaming van God se openbaring gesien het nie, en hulle ken Hom nie, soos hulle Jesus nie geken het nie en so kennis van God misloop. Daarteenoor sal die volgelinge van Jesus die Helper ken, want Hy bly by hulle en sal in hulle wees, met die waarheid oor God wat in Jesus geopenbaar is. So sal Jesus sy werk voortsit deur sy volgelinge.

 

14:18-19 Jesus los hulle nie as weeskinders nie. Benewens die belofte van die koms van die Helper wat vir ewig by hulle sal bly, kom  Jesus self na ‘n kort rukkie na hulle toe. Die wêreld sal Hom nie na sy opstanding kan sien nie, maar sy gelowige dissipels sal Hom kan sien omdat Hy lewe as oorwinnaar oor die sonde en die dood. Daarom sal hulle ook nuut lewe, in ‘n nuwe verhouding met Jesus, wat vir hulle die ewige lewe saam met Hom verkry het. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...