JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (6)

image_pdfimage_print

JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (6) – Jan van der Watt

deel 3 – Jesus word gedoop

Jesus is ook deur Johannes gedoop. Daarvan lees ons op die volgende plekke:

  • Matt 3:13-17
  • Mark 1:9-11
  • Luk 3:21-22
  • Joh 1:31-34

 

 

  • Lees die gedeeltes. Watter ooreenkomste en verskille merk jy op?

…………………………………………………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………………………………………………….

 

i) Waarom moes Johannes Jesus doop?

Een van die groot vrae is waarom Johannes Jesus moes doop. Ons het gesien Johannes doop sodat mense tot inkeer kan kom omdat die koninkryk van God hier is. Die ironie is dat Jesus die Messias, die Koning, is wat die koninkryk bring. Nou word Hy ook gedoop… moet Hy dan ook tot inkeer kom? Dit is die probleem. Lukas en Markus ignoreer die probleem, maar Matteus en Johannes verduidelik.

 

Waarom is Jesus gedoop?

Matteus se antwoord

Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word en U kom na my toe?”Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Johannes se antwoord

(Johannes sê:) “Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.”

 

Daar word twee redes gegee: 

  1. Dit is die wil van God en daarom moet dit gedoen word.
  2. Deurdat Jesus gedoop is, kon mense sien wie die Messias is. Dit was die manier waarop God Hom geïdentifiseer het. En hoe? Deurdat die Heilige Gees op Jesus neergedaal het. 

 

ii) Die Heilige Gees en die doop

Nadat Jesus gedoop is, het die Heilige Gees op hom neergedaal. Vergelyk die ooreenkomste en verskille in die vier dele (sien bo).

……………………………………………………………………………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………………………………………………………

 

Die volgende feite is belangrik:

  1. Die Heilige Gees het op Jesus gekom. Waarom is dit so belangrik, dink jy? Het Hy nie voor die tyd die Gees gehad nie? Hy was immers deur die Gees gebore.

………………………………………………………………………………………………………………………………………

 

Uit die Ou Testament weet ons dat mense met spesiale opdragte, soos die koning (1 Sam 10:1,6; 16:13), priesters (Ek 40:15) of die profeet (Jes 61:1), gesalf is. Dit was die teken dat hulle nou met hulle spesiale opdrag moes begin en dat God by hulle sal wees. Die manier waarop God by hulle sal wees om hulle te help om die spesiale opdrag uit te voer, is deur sy Gees. Nêrens in die Nuwe Testament staan daar dat Jesus gesalf is nie, maar wat hier gebeur is baie dieselfde as wat met die ou konings en profete gebeur het.

 

Hoewel die Heilige Gees natuurlik by Jesus was, dui sy doop die punt aan waar sy openbarebediening begin. Nou kan Hy deur die krag van die Gees God se spesiale opdrag aan Hom begin uitvoer. Van hierdie punt af lees ons ook alles wat Jesus gedoen het. Wat hy voor die tyd (sy kinderdae tot hier rondom sy 30e verjaardag) gedoen het, weet ons eintlik niks van nie. Die oomblik toe die Gees op Hom kom, begin Hy met dit waarvoor God Hom gestuur het, of anders gestel, van daardie oomblik is wat Hy doen vir ons belangrik. 

 

Nou ʼn vraag aan jou: waarom moes Jesus eers die Heilige Gees kry voor Hy kon begin optree? Was Hy nie God self wat op sy eie kon optree nie? Hoe dink jy?

……………………………………………………………………………………………………..

 

Ons vergeet dat Jesus nie alleen opgetree het nie, maar dat Hy as gestuurde van die Vader na die wêreld gekom het. Natuurlik het Hy die Heilige Gees gehad, maar die krag van God, spesisfiek vir sy opdrag en wat deur die Gees kom, is na sy doop in alles wat Hy doen sigbaar. Johannes sê daarom dat toe Jesus gedoop is, Johannes die Doper gesê het dat Hy nou weet wie die wêreld met die Gees gaan doop (Joh 1:33). Deur Jesus word die Gees dus op ʼn baie spesiale manier sigbaar. Dit gaan dus nie hier oor die algemene optrede van die Gees nie, maar oor die spesifieke bekragtiging deur die Gees vir spesifieke taak. Jesus tree dus altyd deur die krag van die Gees op. (Dit sê iets van die drie-eenheidsleer).

 

Skrywer: Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...