Johannes die Doper se getuienis oor Jesus (Johannes 1:29-34)

image_pdfimage_print

Johannes die Doper se getuienis oor Jesus (Johannes 1:29-34) – Francois Malan

1:29 Die Doper onderbreek sy prediking, en voor die volk wat by hom vergader het, lewer hy die hoogtepunt van sy getuienis, die volle openbaring van die naamlose verhewe ‘Iemand’: ‘Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (die woord airoo beteken: om op te tel en weg te dra, weg te neem, of verwyder soos die skare later geroep het: vat Hom weg, vat Hom weg, kruisig Hom, 19:15). 

Volgens Jesaja 53 ly die Kneg van die Here onskuldig, soos ‘n lam geduldig vir ander se sonde:  ‘óns lyding het hy op hom geneem’ (53:4a), ‘oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir óns vrede moes bring, was op hom’ (53:5), ‘die Here het ons almal se sonde op Hóm laat afkom (53:6), soos ‘n Lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie (53:7). ‘My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra’ (53:11). Johannes herken Jesus as  Jesaja 53 se lydende Kneg, wat volgens die Evangelieskrywer die ewige Woord van God is. Volgens Jn 19:31  word Jesus gekruisig op die dag voor die Paasfees, op dieselfde dag waarop die Paaslammers vir die fees geslag word, ter herinnering aan die Here se verlossing van Israel uit Egipte, toe hulle die nag die bloed aan die kosyne moes smeer (Eks 12:7,13,14) en geen been van die lam gebreek moes word nie (Jn 19:36; Eks 12:46; Num 9:12) . So noem Paulus vir Christus as ‘ons paaslam’ wat geslag is (1 Kor 5:7; vgl. 1 Petr 1:19), en die lammers word op die dag van die voorbereiding geslag by die tempel op Moria (2 Kron 3:1), waar Abraham vir Isak moes offer (Gen 22:2).

            Die Jode het uitgesien na ‘n Messias (‘n Gesalfde koning) om  hulle, soos ‘n leeu uit die stam van Juda (Gen 49:8-10), met geweld uit die Romeinse verdrukking te verlos. En kom hier ‘n lam wat deur sy lyding, verwerping en dood die hele wêreld verlos.

 

1:30 Die Iemand wat Johannes aangekondig het (1:15,26,27), is nou hier! Hierdie man  kom wel nadat sy koms voorberei is, maar Hy kom uit die ewigheid, voor die skepping (1:1-3). Hy is ten volle mens, en ten volle God.

 

1:31 Soos die skare (1:26) het Johannes  Hom ook nie geken nie; moontlik wel as ‘n familielid (Luk.1:36) wat in Galilea groot geword het en Johannes in Judea. Maar hy nie kon droom dat Hy die verwagte Messias is, oor wie hy preek nie. Totdat hy vir Jesus self moes doop. Toe het die lig vir Johannes opgegaan.

‘Israel’ wat net vyf maal gebruik word, is nie in hierdie Evangelie dieselfde as ‘die Jode’ (54 maal) wat teen Jesus is nie. Israel is in die Johannes-Evangelie die nuwe volk, wat deur God geheilig is en aan Hom verbind is. Aan hulle word Hy geopenbaar.

 

1:32 Die Gees, wat God se nuwe bedeling inlei, het uit ‘n geopende hemel afgedaal, en bly op Jesus, soos die profete voorsien het (Jes 11:1-2; 42:1). Jesus is die blywende draer van die Gees van God, toegerus vir sy Middelaarswerk (Jn 3:34).

 

1:33 Johannes herhaal dat hy nie geweet het dat Jesus die Messias is nie. Maar Hy wat my gestuur het (God), wat aan Johannes die opdrag gegee het om met water te doop (hier verwys Johannes nou na sy gesag waarna die Fariseërs gevra het, 1:25),  het vir hom die teken gegee waarmee die doel van sy hele doop duidelik sou word. Die Doper met water, simbool van afwassing van sonde,  moet getuig van die Doper met die Heilige Gees, van God wat in die mens kom woon. Die teken wat God vooraf aan Johannes gegee het was dat die Gees soos ‘n duif op die ‘Doper met die Heilige Gees’ afkom en op Hom bly.

 

1:34 Die toppunt van Johannes die Doper se getuienis, waarvoor hy gekom het (vgl. 1:7,8), en as ooggetuie van die neerdaling van die Gees geword het, is: ‘Hy is die Seun van God.’ Die Johannes-Evangelie begin in 1:1-3 duidelik sê dat Hy die Woord van God is en self God. Johannes die Doper is die eerste getuie daarvan en ongelowige Tomas die laaste in hierdie boek, met sy erkenning: ‘My Here en my God’ (20:28). Die hele boek is geskryf sodat mense sal glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God (20:31; en nog 7 maal).  Johannes die Doper, die getuie van die Lig, getuig oor Jesus: Hy is die Lam van God, Draer van die Gees van God, Doper met die Heilige Gees, Seun van God. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...