Kruisiging – die oorsaak van dood (4)

image_pdfimage_print

Kruisiging – die oorsaak van dood (4)

 

Die aard van die wond in Jesus se sy

Maar een van die soldate het met ʼn spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom (Johannes 19:34).

Wat was hierdie water? Was dit urine of vog wat in die buikholte opgehoop het? Dit sou dan ʼn wond in die middellyn van die buik aandui. Die woord wat Johannes egter gebruik, dui daarop dat die wond aan die kant was. [Pleura – kant van die liggaam, rib.] Dikwels dui dit op ribbes. Ons kan dus aanvaar dat die wond waarskynlik in die borskas was.

Johannes maak geen melding oor die kant van die wond nie. In meeste afbeeldings word dit as regs aangedui. Dit mag so wees, want dit sou makliker vir ʼn spies wees om die dun regter hartkamer te deurboor as die dik spier van die linker hartkamer. Ons sal nooit heeltemal seker wees of dit links of regs was nie.

Die tweede aspek: Hoe verduidelik ons dat daar bloed en water by die wond uitgekom het? Een van die probleme is dat sommige mense aanvaar dat die bloed eerste gekom het en daarna die water. Dit is nie noodwendig korrek nie. In antieke Grieks dui bloed en water nie noodwendig op volgorde nie, maar op belangrikheid – die bloed was vir die skrywer belangriker as die water.

Maar waar kom die water vandaan? Of uit die longholte (pleura) of uit die sak (perikardium) om die hart. As dit die geval was, sou die water eerste uitgekom het en dit sou maar ʼn klein volume gewees het – minder as die bloed. As gevolg van die bloedverlies kon Jesus in hartversaking gegaan het. In gevalle van akute hartversaking kry ons vog in die longholte en hartsak. Die bloed se oorsprong was waarskynlik die regter hartkamers.

Die presiese oorsaak van Jesus se dood is interessant, maar die belangrikste vraag is nie hoe Jesus gesterf het nie, maar of Hy wel gesterf het. Mediese en geskiedkundige getuienis dui aan dat Jesus reeds dood was toe die soldaat die spies in Jesus se sy gedruk het. Ons moet onthou dat hierdie deel van die soldate se werk was – hulle het goed geweet wanneer iemand dood is. Die spies in Jesus se sy het waarskynlik sy regterlong, hartsak en hart geperforeer. Dit sou beslis sy dood veroorsaak het. Om te beweer dat Jesus nie aan die kruis gesterf het nie, is teenstrydig met ons moderne mediese kennis.


 Bibliografie:

Matthew W Maslen Piers D Mitchell: Medical theories on the cause of death in crucifixion. Journal Royal Society of Medicine. 2006;99:185-188

 William D. Edwards, MD; Wesley J. Gabel, MDiv; Floyd E. Hosmer: On the Physical Death of Jesus Christ. Journal of the American Medical Association 225:1455 – 1463) 

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

 

image_pdfimage_print

You may also like...