Ons is in ‘n geestelike oorlog betrokke

image_pdfimage_print

He who merely studies the commandments of God is not greatly moved.  But he who listens to God commanding, how can he fail to be terrified by majesty so great? – Martin Luther

 

Ons is in ‘n geestelike oorlog betrokke

Ons kan Paulus se finale opdrag aan Timoteus opsom in die woorde van 1 Timoteus 6:12: In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Reeds in 1:18 het Paulus vir Timoteus gesê dat hy die goeie stryd moet stry. Aan die begin en einde van die brief herinner Paulus vir Timoteus van die stryd/wedloop waarby ’n Christen betrokke moet wees. Timoteus moet besef dat hy in ’n stryd vir sy geloof gewikkel is. As volgelinge van Christus geld dit ook vir ons.

 

As ons Christus volg, is ons in ‘n geestelike oorlog betrokke – of ons dit nou besef of nie. Hierdie waarheid kry ons dwarsdeur die Skrif.

Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ’n stryd om lewe en dood geword het nie – Hebreërs 12:4.

Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus – 2 Timoteus 2:3.

In 2 Korintiërs 6:7 en 10:4 lees ons van die wapens van die gelowiges.

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug – Efesiërs 6:12

 

Elke Christen is in ‘n geestelike oorlog betrokke; sy geloof word op verskillende maniere aangeval. Die Christelike lewe is nie een van rustig voortvaar nie. Ons kan hierdie geestelike styd nie ligtelik opneem nie. In Luther se verwerking van Psalm 46 – ‘n Vaste Burg is onse God – verwys hy na Satan as die vors van duisternis. Die Satan wil God se heerlikheid onteer; God se evangelie verwring; God se mense vernietig. Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind (1 Petrus 5:8). Ons vyand is nie almagtig nie, maar ons kan nie alleen teen hom staande bly nie.

 

Die omvang van die duiwel se geestelike oorlog is universeel – elke taal, volk, familie, ens. Betrokkenheid by hierdie geestelike oorlog is onvermydelik. Staan die duiwel teë (Jakobus 4:7). Geestelik onttrekking beteken outomaties geestelike mislukking.

 

Die stryd is universeel en onvermydelik, maar ook is dit krities belangrik dat ons ons vir die stryd voorberei, want die gevolge is ewig. Verloor ons hierdie stryd, verloor ons alles – selfs jou eie siel. Hoe ons hierdie stryd veg het ewige implikasies. Satan wil nie hê dat ons glo en die evangelie uitleef en verkondig nie. Slaag hy in jou lewe? Is jy bewus jy is in ‘n stryd?

 

 

image_pdfimage_print