Ons is slawe van Christus Jesus

image_pdfimage_print

God creates faith the same way that hy made the universe, he found nothing and he made something – Martin Luther

Ons is slawe van Christus Jesus

Paulus en Timoteus, slawe van Christus Jesus, aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is, saam met die ouderlinge en diakens (Filippense 1:1 – Interliniêre Bybel se direkte vertaling)

Ongelukkig is dit vandag algemeen om die woord slaaf met dienaar te vervang. (Sien NAV). Ongelukkig is dit ‘n baie sagter woord vir ons moderne lesers. ‘n Slaaf in Paulus se tyd was iemand wat wettig deur iemand anders besit is. Hy het geen vryheid gehad nie behalwe dit wat sy eienaar hom toegelaat het. Dit word bereken dat in Paulus se tyd 30% van Rome en 20% van Filippi se inwoners slawe was. In al die gemeentes wat Paulus gevestig het, was slawe ‘n algemene verskynsel. ‘n Goeie voorbeeld is Filemon en sy slaaf Onesimus.

 

Paulus en Timoteus gebruik die geskiedkundige krag van hierdie woord as hulle sê dat hulle slawe van Christus Jesus is. In Romeine 6:19 lees ons: Want soos julle liggaamsdele as slawe tot beskikking gestel het van die onreinheid en die wetteloosheid, met die oog op wetteloosheid,stel nou so julle liggaamsdele as slawe tot beskikking van die geregtigheid, met die oog op heiliging (Direkte vertaling). Die woord vir die eienaar van ‘n slaaf kan ook met heer vertaal word. Die woorde slaaf en heer was ‘n algemene toedrag van sake in die Grieks-Romeinse kultuur.

Die woord slaaf word soms letterlik en soms metafories in die Ou Testament gebruik:

  • Letterlik: Israel was slawe in Egipte. In Eksodus 21:2 – 27 kry ons ‘n reeks wette wat die hantering van slawe reguleer.
  • Metafories: nou word die woord slaaf meestal vertaal met dienaar: Maar met my dienaar Moses is dit anders (Numeri 12:7). So ‘n persoon het nou die gesag om te praat en op te tree namens God.

Paulus gebruik hier waarskynlik die letterlike en metaforiese betekenisse van die woord slaaf. 

Die vraag wat elkeen van ons vir onsself moet antwoord, is: Kan ek soos Paulus en Timoteus, sê dat ek ‘n slaaf/dienaar van Christus Jesus is? Behoort ek volledig aan Hom? Is Hy my eienaar?

image_pdfimage_print