Ons word oud – God se pad vir ouer gelowiges

image_pdfimage_print

Traditional religion still has ways to make life miserable for those who question the status quo – Gene Edwards

Ons word oud – God se pad vir ouer gelowiges

J. I. Packer het onlangs ‘n kort boekie oor oud word geskryf: Finishing our Course with Joy. Ek gaan ‘n hele aantal blogs oor oud word skryf en van hierdie boek gebruik maak

In die NT lees ons op ‘n paar plekke dat die Christelike lewe as ‘n resies beskryf word. Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus (Hebreërs 12:1 – 2). Paulus gebruik dieselfde beeld as hy met die ongedissiplineerde Korintiërs redeneer (1 Korintiërs 9:24 – 27).

As Paulus die beeld gebruik kombineer hy vier begrippe:

 

  • Duidelike oriëntering ten opsigte van ‘n doel – jy hardloop om te wen.
  • Doelgerigte beplanning –jy dink hoe jy moet hardloop, die pas wat jy moet volhou en die vinnige eindpoging.
  • Konsentrasie – alles is ondergeskik aan oefening en dan hardloop jy met die oog daarop om die resies te wen.
  • ‘n Groot poging – jy hardloop so vinnig as wat jy kan, jy gee alles.

Dit is hoe Paulus die lewe van ‘n getroue Christen sien.

Maar volharding is ook vir Paulus belangrik. Aangesien julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel in Hom, gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof (Kolossense 2:6 – 7 – OAV). Niks moet jou aandag aftrek nie. 

Die beeld van hardloop staan sentraal in Paulus se verstaan van sy eie lewe. Dit moet  ook die sentrale fokus in die denke en hart van bejaarde Christene wees. Die feit dat ons fisiese liggame stadiger funksioneer, beteken nie dat ons geestelik ook stadiger moet funksioneer nie. Wat sal ons aan die gang hou? Ywer. Ywer is eintlik nie meer ‘n woord wat vandag nog algemeen gebruik word nie. Nehemia 3 – 6 vertel vir ons dat ten spyte van fel teenstand die mure van Jerusalem binne 52 dae herbou is. Dit is ywer in aksie. In die evangelie volgens Johannes lees ons van Jesus wat die tempel gereinig het. En sy dissipels het onthou dat daar geskrywe is: Die ywer vir u huis het my verteer (2:17 – OAV)

Ywer beteken prioriteit, passie en inspanning vir God se saak. Dit is ‘n brandende begeerte  om God tevrede te stel, om sy wil te doen en om Hom hier op aarde te verheerlik. Natuurlik mag ons geheue en ons vermoë om te konsentreer agteruitgaan; ons energievlakke sal daal, maar ons kan steeds ons dae met ywer leef. Ywer moet met hoop gevoed word.

image_pdfimage_print

You may also like...