Opdragte aan engele

image_pdfimage_print

Opdragte aan engele – Francois Malan

Morné van den Bergh vra:

Goeie dag. Ek hoop ek kan leiding kry in my soeke na die volgende: Deesdae is Engele die “inding” in mense se monde en soveel mense kleef Engele aan as ʼn nuwe geloof. Ek stem natuurlik glad nie daarmee saam nie siende dat Jesus as prominente figuur van Redder en Verlosser nou in die agtergrond verdwyn. Nietemin, ek wil graag weet: “Kan ʼn mens aan `n engel opdrag gee?” Ek vra spesifiek hierdie vraag siende dat ʼn vriendin van my wat deesdae Engele aangryp, my meegedeel het dat ons as mense die mag het om aan engele opdragte te kan gee. Volgens my kennis is die mens net geringer as `n engel geskape. Ek sal bly wees indien julle my leiding kan gee op hierdie vraag.

Antwoord:

Dr. Francois Malan antwoord:

Het mense die mag om opdragte aan engele te gee?

Die woord ‘engel’ beteken ‘gestuurde’. Die Bybel vertel egter deurgaans dat hulle deur God gestuur word, nie deur ʼn mens nie. Die slot van Psalm 103:19-22 gee bevele aan alle maaksels van die Here om Hom as Here en Koning te prys. In vers 20 word na die werk van die engele verwys. Hulle voer die Here se opdragte uit en gehoorsaam sy bevele, nie die opdragte en bevele van mense nie. Dwarsdeur die Bybel word vertel van ʼn skare engele wat deur die Here gestuur word om sy opdragte uit te voer. Hulle staan onder sy bevel.

Toe Jesus in Getsemane gevang is, sê Hy vir Petrus wat Hom met die swaard probeer verdedig: ‘Of dink jy nie Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel’ (Matteus 26:53). Selfs Jesus het op aarde as ʼn mens nie opdragte aan die engele gegee nie, maar kan sy Vader vra om hulle te stuur. Jesus is vir ʼn kort tydjie minder as die engele gemaak, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe. Maar nou is Hy met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood (Hebreërs 2:9). As Hy as mens minder as die engele gemaak was, hoe kan ons dit vir ons aanmatig om aan die engele opdragte gee?

Die engele kry hulle opdragte van God. Hulle is almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié mense te dien wat die saligheid gaan beërf (Hebreërs 1:14). Hy stuur die engele uit om te doen wat Hy beveel. Die mens kan nie aan hulle opdragte gee of versoeke tot hulle rig nie. Maar Jesus het die pad vir ons oopgemaak om met vrymoedigheid na God te gaan met ons versoeke. God weet wat die beste vir ons is. Jesus sê: ‘Dit verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee’ (Johannes 16:23). In ons verbondenheid met Christus en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan (Efesiërs 3:12), nie met opdragte nie, maar met nederige versoeke.

In Hebreërs hoofstukke 1 en 2 word die grootheid van die Seun van God geskilder. Hy is net so verhewe bo die engele as die Naam wat God aan Hom gegee het voortrefliker is as hulle naam. Vir die engele het God nooit gesê ‘Jy is my Seun’ nie (1:4-5). God maak die engele sy stormwinde, maar die Seun is vir ewig Koning. Deur Hom het God alles gemaak (Hebr. 1:10). Hy het gaan sit aan die regterhand van God  (vgl. Hebreërs 8:1). Deur die bloed van Jesus het ons nou vrye toegang tot die heiligdom (Hebreërs 10:19). ‘Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word‘ (Hebreërs 4:16).

Toe Johannes voor die engel op sy knieë neergeval het om hom te aanbid, het die engel vir hom gesê: ‘Pas op, moenie! Ek is ʼn mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het’ (Openbaring 19:10; 22:8-9).

Paulus waarsku ‘Moenie dat iemand ʼn behae skep…in die aanbidding van engele nie….So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie‘ (Kolossense 2:18-19). Die verwaande aansprake op verbinding met die geestelike wêreld is eintlik net ʼn diens aan die mens om homself te verhef bo andere. Christus is die Hoof oor alle magte. Wie naas hierdie Hoof ook ander magte wil dien of gebruik, verloën die ware Hoof.

Jesus het ons geleer ‘So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is…‘ (Matteus 6:9). Na ons hemelse Vader moet ons gaan met ons versoeke. En Paulus sê: ‘Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit volgens die wil van God vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet…'(Romeine 8:26-28).

 

Outeur: Dr Francois Malan

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...