Psalm 34(4)

image_pdfimage_print

 

Our doing brings success, but our being bears fruit – Henri Nouwen

 

Psalm 34(4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

34:16 – 23: Stellings

Hier word die beloftes, gekoppel aan die beloftes van verse 8 – 15, verder ontwikkel. Dit gaan hier meer oor die Here as oor gesindhede teenoor die Here.

 

Ajin

16Die oë van die Here is gerig op die regverdiges, sy ore op hulle hulpgeroep.

Hierdie stellings verwys na die kommer van die Here en sy instink om te red. As Hy die regverdiges in nood sien, lei dit tot optrede.

 

Pe

17Die gesig van die Here is gedraai na die kwaaddoeners om hulle gedagtenis uit te roei van die aarde af.

Hier sien ons die teenoorgestelde van die Here se gesig – as die Here se gesig na die kwaaddoeners gedraai is, beteken dit ‘n ramp. Wat beteken ‘n ramp? Hulle gedagtenis word van die aarde af uitgeroei. Mense glo dat hulle gedagtenis onthou sal word – mense sal steeds oor hulle praat. Hier het ons die treurige vooruitsig: hulle sal vergeet word asof hulle net so wel nooit geleef het nie. Ons herdenk ‘n goeie lewe en ‘n goeie persoon; ons vergeet ‘n slegte lewe en ‘n slegte persoon.

 

Tsade

18Regverdiges roep om hulp en die Here luister, uit al hulle benoudhede red Hy hulle.

Die teenoorgestelde geld vir die regverdiges. As mense uitroep, vra hulle die Here om te luister en op te tree. Die Here luister inderdaad, maar Hy luister nie net nie – Hy tree op.

 

Kof

19Die Here is na aan hulle wat gebroke harte het; wie se gees verpletter is, verlos Hy.

Hier gaan dit oor mense se innerlike behoeftes. Hier sien ons ‘n oorweldigende depressie en ontmoediging – iets wat ons dikwels in die psalms kry. Die Here verlos hulle. Sy uiterlike verlossing bring daarmee saam innerlike heling. Hoekom is die Here na aan hulle wat gebroke harte het? Om op te tree. Die Here kom naby, nie net om mense in hulle beproewing te vertroos nie, maar ook om hulle van hierdie beproewing te verlos. Die Here laat mense in moeilike omstandighede beter voel, nie net deur hulle gesindheid te verander nie, maar deur hulle situasie te verander.

 

Resj

20’n Regverdige ervaar baie teenspoed, maar uit dit alles red die Here hom.

Dit is nie onrealisties om te verwag dat regverdiges teenspoed sal ervaar nie; dit is nie altyd slegte dade wat tot slegte ondervindings lei nie. Wat die psalmis wel verklaar, is dat teenspoed nie die einde van die storie is nie. Die Here red hulle – uit alles.

 

Sjin

21Hy beskerm al sy bene; nie een van hulle word gebreek nie.

Die Here beskerm die regverdiges – onder alle omstandighede. Geen been word gebreek nie. Hierdie vers word by Jesus se kruisiging aangehaal. Hoewel dit die Romeinse gebruik was om die bene van tereggesteldes te breek om die dood te verhaas, is nie een van Jesus se bene gebreek nie.

 

Taw

22Boosheid veroorsaak ‘n goddelose mens se dood en wie ‘n regverdige haat, sal daarvoor boet;

Die regverdiges oorleef en oorwin ‘n reeks slegte ondervindings. Slegs een verkeerde daad lei tot die dood van die goddelose. In die goddelike hofsaal sal geregtigheid seëvier.

 

23Die Here red die lewe van sy diensknegte en almal wat by Hom skuil, sal nie boet nie.

Hierdie laaste belofte som die psalm in sy geheel op. Aan die een kant red die Here sy diensknegte. Aan die ander kant sê die psalmis hoe dit gebeur – hulle sal nie boet as hulle by Hom skuil nie. Die verlossing van die Here verseker dat die regverdiges nie skuldig staan en ‘n boete moet betaal nie – nie in enige hof nie. Hierdie opsomming vertel ons ook van die toepaslike reaksie op hierdie feite: deur by die Here te skuil.

 

 

image_pdfimage_print