Saul raadpleeg ‘n dodebesweerster

image_pdfimage_print

 

Sunday is the golden clasp that binds together the volume of the week.” –H.W. Longfellow

Saul raadpleeg ‘n dodebesweerster

The Gospel Coalition is besig met ‘n reeks oor verwarrende gedeeltes uit die Bybel. Kundiges verduidelik hierdie gedeeltes.

Saul se besoek aan die dodebesweerster in 1 Samuel 28 is sekerlik die laagtepunt in sy tragiese koningskap. Hy maak van okkulte praktyke, wat hy self in Israel verbied het, gebruik. Hoekom? Hy wou weet wat gaan gebeur tydens die naderende geveg met die Filistyne by Gilboa. Hierdie is ‘n keerpunt in Israel se geskiedenis. Die einde van die eerste koningskap is naby – Saul gaan val.

 

In hierdie gedeelte kry ons allerhande teologiese vrae: Het hierdie vrou die vermoë gehad om afgestorwe geeste van dooie mense  terug te bring om die toekoms te voorspel? Wat van ander bronne van openbaring afgesien van God se woord?

 

Kom ons begin om die verhaal op te som:

  1. Hierdie gebeurtenis vind plaas die dag voor Saul en sy seuns op Gilboa sterf in ‘n geveg met die Filistyne. Sedert die Gees van God Saul verlaat het omdat hy God nie gehoorsaam het nie, probeer hy bonatuurlike insig en leiding vir sy koningskap kry. Hier, voor ‘n belangrike geveg, probeer Saul, die militêre leier, bonatuurlike leiding kry. In die antieke wêreld was dit normaal voor enige veldslag. Hy kry geen oplossing nie, want God antwoord nie – nog deur drome, nog deur die urim, nog deur profete. Saul is nie hiermee tevrede nie en hy betree nou verbode terrein – sy amptenare moet vir hom ‘n dodebesweerster soek. Sy was tradisioneel as die heks van Endor bekend.
  2. Saul vermom homself en neem twee manne saam met hom. Hy mislei die vrou oor sy identiteit. Hy vra die vrou om die gees van Samuel te laat opkom. Sy doen dit, maar toe sy vir Samuel sien, herken sy ook vir Saul. Saul identifiseer vir Samuel nadat die vrou hom beskryf het. Toe Samuel uiteindelik praat, sê hy vir Saul wat hy reeds weet: die Here het hom verlaat en sy teëstander geword. Hy sê ook dat die Here die koningskap van Saul weggeskeur het en aan Dawid gegee het. Môre sal jy en jou seuns by my wees. Toe Saul dit hoor, slaan hy op die grond neer. Die volgende dag word Israel by Gilboa verslaan en Saul en sy seuns sterf.
  3. Dit is duidelik dat Samuel verskyn het en gepraat het. Ons kan vers 15 en 16 op geen ander manier verklaar nie. Weer is daar ‘n aaantal vrae. Hoekom was die vrou geskok toe sy die gees van Samuel gesien het? Hoekom het sy nie self vir Samuel herken nie?

 

Hoe kan ons hierdie storie verklaar? Daar was ‘n donker bonatuurlike mag waardeur mediums en besweerders toegang tot die antieke wêreld gesoek het. Vir Israel was hierdie magte verbode. God was hulle uiteindelike mag en sy bonatuurlikheid beteken dat Israel net op Hom moet vertrou. Hierdie donker magte was ondergeskik aan God – hulle was skadelik. So byvoorbeeld kon al die demoniese magte agter die Baälkultus nie staande bly teen God se profeet (Elia) op Karmelberg nie.

 

Saul se ondergang is die gevolg van sy eie opstand. Tot aan die einde het hy nie vir God gehoorsaam nie. Die diepte waartoe Saul gesink het toe hy die heks geraadpleeg het, bevestig Samuel se woorde toe hy nog gelewe het. Hy het Saul vir sy ongehoorsaamheid veroordeel:Weerspannigheid is net so erg soos die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp (1 Samuel 15:23).

 

Saul het waarskynlik gedink dit is ‘n profetiese oordrywing. Hy was verkeerd. God bring die profeet terug om vir Saul aan hierdie waarheid te herinner. Die feit dat Saul die volgende dag uitgaan en teen die Filistyne gaan veg, bevestig die woorde van Abraham: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan (Lukas 16:31). Die storie van Endor herinner ons aan die belang en duidelikheid van God se woord.

 

 

 

image_pdfimage_print