Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (6)

image_pdfimage_print

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (6) – Adrio König

 

2.3.4 Het die vroeë Christene die Sabbat gehou?

Ná die uitstorting van die Gees het die dissipels en die Joodse Christene nog lank ‘n besondere verbondenheid aan die Ou Testamentiese vorm van godsdiens gehad. Ons lees spesifiek van hulle tempelbesoek, die feeste en die besnydenis (Hand 3:1ev; 20:16; 21:20-26). Trouens die vroeë Christene was eintlik nog Jode wat net, anders as hulle mede-Jode,  geglo het die Messias het gekom, is gekruisig en opgewek, en hulle wou net hulle mede-Jode daarvan oortuig.

Dis eers gaandeweg dat daar ‘n afstand tussen hierdie twee groepe begin kom het. En skynbaar was die Sabbat deel van hierdie afstand.

 

So op die oog af lyk dit asof Paulus die Sabbat nog streng gehou het. Immers volgens Handelinge is hy keer op keer op die Sabbat in ‘n sinagoge (Hand 13:14, 42; 17:2; 18:4). Maar wat doen hy daar? Is dit ‘n byeenkoms van Christene? Of ontmoet hy Jode om hulle te probeer oortuig dat Jesus die Messias is? “Hou hulle kerk,” of redeneer hulle? (Hand 17:2, en al die ander gevalle). Paulus gaan op die Sabbat na die sinagoge omdat dit die enigste dag is waarop Hy die Jode daar bymekaar sal kry om die evangelie van Jesus aan hulle te bring en hulle met argumente te probeer oortuig dat Jesus die Messias is (Hand 17:3). Uit 13:42-44 is dit duidelik dat dit net op Sabbatdae kon gebeur. Dit was egter nie byeenkomste van Christene nie.

 

Ná die opwekking van Jesus word daar nooit verwys na ‘n byeenkoms van Christene op ‘n Sabbat nie. Trouens behalwe vir die een negatiewe verwysing na die Sabbat (Kol 2:16), kom die woord Sabbat nooit in die Briewe of in Openbaring voor nie.

 

Hierdie een negatiewe verwysing in die Briewe lui: Moenie “dat iemand vir julle voorskrywe … dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaanfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net ‘n skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus” (Kol 2:16-20). Paulus noem die Sabbat ‘n “skaduwee van wat sou kom”. Dis ook hoe Hebreërs oor die wet van Moses praat (waarvan die Sabbat ‘n deel is). Dit was “slegs ‘n skadubeeld van die weldade wat sou kom,” en hierdie “weldade” het toe natuurlik deur Jesus gekom (Heb 10:1-4). En Paulus vervolg dan in Kolossense dat Christene dood is vir hierdie wettiese godsdienstige reëls (Kol 2:20). Ons kan mos nie terugdraai na die skaduwee as die Een wie se skaduwee dit is, Self gekom het nie. 

 

Dit is dus verstaanbaar waarom die Sabbat skynbaar eenvoudig verdwyn uit die lewe van die vroeë Christene. Trouens indien die Christene uit die heidene wel nog die Sabbat moes hou, sou dit ‘n geweldige probleem geword het. Baie van hulle was slawe wat vir heidense eienaars gewerk het. Hierdie eienaars sou hulle nooit toegelaat het om een dag in die week nie te werk nie. In die meeste gevalle sou hulle lewe op die spel gewees het. Dit beteken dat die apostels in die Briewe baie aandag hieraan sou moes gee. Maar ons kry nie eens ‘n spoor daarvan in die Briewe nie.

 

Selfs ook nie in Handelinge 15 nie. Dáár gaan dit oor die vraag of die heidene wat tot bekering kom, nog die wet moet hou (15:5). Dan is die konkrete voorbeeld uit die wet die besnydenis (Hand 15:1). En die Sabbat kom nie eens ter sprake nie terwyl dit ‘n veel dringender probleem sou gewees het.

 

Dit lyk dus of die Sabbat uit die lewe van die heiden-Christene verdwyn het, al kan ‘n mens aanneem dat baie van die Joodse Christene aanvanklik nog daarmee voortgegaan het, net soos met die besnydenis (Hand 21:20-21).  Ons weet trouens uit ander bronne dat sekere gemeentes nog vir ‘n paar eeue lank sowel die Sabbat as die Sondag onderhou het. Die feit dat hulle albei, Sabbat én Sondag, onderhou het, kan beteken dat hulle deeglik daarvan bewus was dat dit twee verskillende dae was, en nie dieselfde soort dag nie (2.7).

 

Volgende keer kyk ons na Kolossense 2:16.ie Sabbat (6) – Adrio König

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...