Vasgehou deur God

image_pdfimage_print

God is the decisive keeper of my soul – John Piper

 

Vasgehou deur God

Daar is niks meer belangrik as die toestand van ons siele voor God nie. Al weet ek ek het vryspraak deur geloof in Christus alleen en dat God besig is met ‘n lewenslange proses van heiligmaking in my, voel dit soms vir ons dat die proses pynlik stadig is. Dan kan ons aan ons verlossing begin twyfel. Veral omdat ons soms nog ongeduldig of kwaad word of allerhande begeertes ondervind. Beteken dit dat jy jou verlossing verloor het? Oppas nou vir uiterstes as ons na onsself kyk en ons sonde. Aan die een uiterste kan ons in angs en vrees leef waar ons gereeld oor ons verlossing twyfel. Nou kan ons maklik obsessief of perfeksionisties word. Ons begin twyfel of God werklik ons soos ‘n aardse vader hanteer – en ons reghelp. Die ander uiterste is om te dink dat jy jou geloof in Jesus Christus bely het en daarom het jy “versekering” – jou leefstyl is nie van belang nie. Hierdie is ‘n verwringing van God se genade en kan lei tot ‘n skokkende ontdekking by die finale oordeelsdag: Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree (Matteus 7:23).

 

 

Die eerste les wat ons moet leer, is: Dit is God wat my bewaar – nie ekself nie. Die tweede is: As ek waarlik weergebore is, sal ek in die Christelike geloof volhard. Dit beteken nie dat ek nooit sal val nie – sondig of ongeloof – maar ek sal nie ewig wegval nie. As ek nie volhard in die geloof nie, is dit ‘n aanduiding dat daar nie werklik opregte geloof was nie. Ek sal volhard tot aan die einde van my lewe. Maar dit is God wat ons bewaar. Hierdie persone is waarlik weergebore.

 

‘n Bemoedigende ontdekking in die Bybel is dat God ons nie alleen laat as Hy ons verlos nie. Ons het die verantwoordelikheid om te volhard in ons geloof , maar die wonderlike nuus is dat dit God is wat ons gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Filippense 2:13). God is aan die werk in ons, sodat ons graag sy wil uitvoer. Aan Hom wat magtig is om ons van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te aanskou, aan die enigste God. Aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen (Judas 24 – 25). Let op: Hy kan ons van struikeling bewaar; Hy kan ons onbevlek sy heerlikheid laat aanskou. Dit moet ons vertroos en hoop gee.

 

My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een (Johannes 10:27 – 30). Hier is dit duidelik: as God die ewige lewe aan sy kinders waarborg, is dit verseker. 

God is die bewaarder van ons siele. Hy werk in ons sodat sy wil wil doen en nie van Hom af wegdraai nie As God aan ons die ewige lewe gee, beskerm Hy ons sodat ons nie sal vergaan nie – niemand sal ons uit hand ruk nie.

image_pdfimage_print