Volg My (1)

image_pdfimage_print

 

Be careful, be careful of your private lives … and I believe your public lives will be sure to be right. Remember that it is upon your public life that the verdict of the world will very much depend – Charles Spurgeon

 

Volg My (1)

David Platt het ‘n kort boekie: What did Jesus really mean when He said: Follow me? geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Jesus loop eendag langs die See van Galilea en roep vier vissers om Hom te volg, en Ek sal julle vissers van mense maak (Matteus 4:19). Petrus, Andreas, Johannes en Jakobus los hulle nette net daar en volg Hom. Hulle lewens, en die hele wêreld, was nooit weer dieselfde nie. Maar Jesus se uitnodiging om Hom te volg, geld ook vir elkeen van ons.

 

Hierdie oproep van Jesus is nie iets wat ons sommer kan ignoreer nie – selfs nie in ons besige lewens nie. Dit vereis ons volle aandag. Jesus het gesê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6). Jesus is nie een gereg van die buffet waaruit ons die elemente waarvan ons hou, kan kies nie. As sy aansprake waar is, het ons geen keuse nie – soos die vier vissermanne moet ons alles los en Hom volg.

 

Jesus se roeping van die vissermanne is duidelik: hulle los hulle nette en volg Hom. Hulle loop saam met Hom waar Hy ook al gaan. Na sy dood en opstanding volg hulle Hom deur sy lewenswyse na te boots en deur die goeie nuus oor wat Hy op aarde gedoen het, te versprei. Maar wat beteken dit vandag om Hom te volg?

 

Ons moet ons mees fundamentele probleem voor God hanteer. Ons probleem is nie dat ons ‘n klompie slegte besluite geneem het nie. Ons probleem is dat ons almal in opstand teen God is. Die opstand is wat die Bybel sonde noem en dit hou ons weg van God. In die Bybel is dit duidelik dat sonde en sondaars gestraf word. Lot se vrou is ongehoorsaam – sy kyk terug na Sodom en Gomorra – en sy verloor haar lewe. Daar is baie sulke voorbeelde. Mense lees hierdie verhale en is verward. Is God dan nie ‘n God van liefde nie? Is hierdie strawwe darem nie ‘n bietjie te erg nie

 

Hierdie vrae is eerlik, maar maak ‘n probleem van ons perspektief duidelik. Ons sien sonde deur die oë van ‘n mens. Die straf vir sonde word nie deur ons maatstaf daarvan bepaal nie. Die straf vir sonde word bepaal deur die grootte van die Een teen wie ons gesondig het. As ek teen die oneindig heilige en ewige God sondig, is ek skuldig en verdien die ewige straf.

 

Volgende keer kyk ons na die betekenis van dood in ons sonde.

 

 

image_pdfimage_print