Vraag oor die gesag van die woord van God

image_pdfimage_print

 

How much larger your life would be if your self could become smaller in it  – G. K. Chestertom

Vraag oor die gesag van die woord van God

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Hoekom kom verskillende groepe Christene tot uiteenlopende teologiese gevolgtrekkings as hulle die Bybel lees? ‘n Belangrike deel van die antwoord het te doen met gesag – wie is die eindgesag van ons gevolgtrekkings? Nie almal antwoord dit op dieselfde wyse nie. Vir party (soos die Rooms-Katolieke Kerk) is tradisie net so belangrik soos die Skrif. Vir ander (baie van die liberale teoloë) is die menslike rede en ondervindings net so belangrik soos die Skrif – die Skrif moet in lyn wees met ons rede en ondervindings. Vir ander (soos gereformeerdes)  staan die Skrif bo tradisie, rede en ondervindings – dit is die finale gesag.

 

In alle godsdienste is gesag belangrik – ons gee altyd aan iets of iemand die laaste woord. Dit mag ons ouers, die kultuur, die regering, meningspeilings … wees. Ons het almal ‘n finale arbiter in ons oordeel oor wat waar is en wat nie waar is nie. Vir Christene is dit God se woord – Ou en Nuwe Testament. Natuurlik kan ons God se woord verkeerd verstaan of verkeerd interpreteer of verkeerd toepas. Korrek geïnterpreteer is die Skrif nooit verkeerd in wat die bevestig nie.

God openbaar Hom in die heelal en die natuur (sy algemene openbaring) en in die Skrif (sy spesiale openbaring). Beide is belangrik, ons kry beide in die Skrif, beide kom van God af, beide verkondig dieselfde waarheid. Daar is geen teenstrydigheid tussen wat God in die Skrif en in die natuur openbaar nie. As ons al die kennis gehad het, sou die wetenskap en die Bybel mekaar nooit weerspreek het nie. Daarom moet ons nie die Skrif verwerp as die wetenskap met oënskynlike teenstrydige resultate na vore kom nie. Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend … Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is (Psalm 19:2, 8). Christene moet bereid wees om te verander as dit blyk dat hulle interpretasie van die Skrif verkeerd was.

Daar is dinge in die Bybel wat nie maklike antwoorde het nie – hier dink ons aan sekere datums en getalle wat moeilik versoenbaar is. Daar is ook oënskynlike teenstrydighede. Ons moenie sleg voel as ons sukkel om iets te verstaan nie. So skryf Petrus van Paulus: Daar is dinge in sy briewe wat moeilik is om te verstaan. Oningeligte en onstandvastige mense gee daaraan ‘n verkeerde uitleg, soos hulle trouens ook doen met die res van die Skrif, en dit tot hulle eie ondergang (2 Petrus 3:16).

Ons moenie toelaat dat hierdie probleme en oënskynlike teenstrydighede ons intimideer nie. Baie van hulle kan maklik verduidelik word;  vir baie is daar ‘n redelike oplossing; ander is taai vrae. Vir hulle is daar moontlike antwoorde, maar ons is onseker of ons al werklik die antwoord ontdek het. Die Bybel is ‘n getuienis van God self – dit is sy boek. Om die Skrif te vertrou, moet ons die karakter en beloftes van God vertrou – meer as ons vermoë om te redeneer en te verduidelik.

J. I. Packer sê dat die Skrif nie al die vrae wat ons graag wil vra direk antwoord nie. Dit vertel ons net genoeg – dit wat ons nodig het vir ons geloof, sal ons daar kry. Daar is sekere vrae wat God nie antwoord nie. Hoe moet ons hierop reageer? In nederige vertroue op God se geloofwaardigheid. Ons moenie vra of dit redelik is om dit of dat te glo nie, maar is dit redelik om God se versekering dat dit so is, te aanvaar? Is dit redelik om God se woord te aanvaar al verstaan ek dit nie ten volle nie? Ons moenie geloof oorboord gooi net omdat ons nie al die probleme kan oplos nie. Ons intelligensie is nie die maatstaf van die waarhede van God nie. It is not for us to stop believing because we lack understanding, but to believe in order that we may understand (J. I. Packer).

Die mense van Berea het die Skrif met eerbied benader Ons moet ons ook toewy aan die gesag van die Skrif, want dit getuig van God sodat ons Hom kan ken en sodat ons weet wat om te doen.

image_pdfimage_print

You may also like...