1 Petrus 3:19 – 21

image_pdfimage_print

1 Petrus 3:19 – 21 – Francois Malan

Willie vra:

 

My vrae handel oor 1 Petrus 3:19-21 “So het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en Sy oorwinning daar aangekondig ( alternatief – en vir hulle gepreek ).Hierdie geeste is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy baie geduldig met hulle was”. 1) Wanneer sou Jesus Christus na die Geeste in die gevangenis gegaan het ? 2) Hoekom sou Hy Sy oorwinning aan hulle wou gaan verkondig want is die nie die geeste van mense vir wie die genadetyd reeds verby was nie ? 3) Is die vertaling van “Die doop red julle deur die opstanding van Christus” wel korrek vertaal uit die Grieks?

 

 

Antwoord

 

Prof. Francois Malan antwoord:

 

 

1 wanneer, 2 hoekom

 

Die skrifverklaarders stem almal saam, dit is van die moeilikste tekse in die Bybel, en die verklaring van elkeen van die oorspronklike Griekse woorde het ook probleme om te weet watter betekenis weergegee moet word.

 

 Daar was al baie uiteenlopende verklarings deur die eeue, wat veral in drie groepe verdeel kan word:

(1) dit verwys na Christus se verkondiging in die tyd van Noag, toe die mense nie na die boodskap van Noag se ark geluister het nie – so bv. Augustinus;

(2) dat dit geskied het tussen Jesus se sterwe en sy opstanding:

(2a) die Griekse Ortodokse kerk en die Roomse kerk sê dat Jesus na sy kruisiging na die doderyk gegaan het om die vromes van die Ou Testament se tyd uit die limbus patrem, die plek in die doderyk vir die vaders, na die hemel oor te bring;

(2b) die Lutherse kerk sê dat Jesus sy mag en oorwinning aan die Satan gaan bekend maak het; (2c) party verklaarders meen die geeste is gevalle engele aan wie Christus die oordeel aankondig; (3) dat dit  Christus se sterwe en opstanding is wat die verkondiging is, sy oorwinning oor die bose en die dood wat aangekondig is.

   

 

Die artikel in ons geloofsbelydenis ‘wat ter helle neergedaal het’ het o.a. uit hierdie tekse ontstaan teen die einde van die 4e eeu n.C., en is toe eers in die belydenis opgeneem. Calvyn se verklaring vir die artikel is dat Jesus die helse straf gedra het toe Hy aan die kruis uitgeroep het: My God , my God, waarop het U My verlaat. Die hel is volgens Matteus 25:41; Openb 19:20; 20:15 die plek wat God gereedgemaak het vir die straf van die duiwel en sy engele, en die ‘vervloektes,’ mense wat aan Jesus ongehoorsaam was (ook die mense in die Ou Testament se tye, want Jesus is en was nog altyd die Woord van God wat mense geglo het of verwerp het; vgl. Johannes 1:1-3. Die straf op die sonde van die hele wêreld het Jesus, uit selfopfferende liefde,  aan die kruis op Hom geneem (vgl. Johannes 1:29). So het God self die regverdige straf op mense se bose dade deur die eeue in ons plek gedra, die straf wat bly op die mense wat nie aan Jesus gehoorsaam is nie (Johannes 3:36).   

 

1 Petrus 3:18 kan verwys na die Heilige Gees wat vir Jesus lewend gemaak het; sommige vertaal vers 18 egter as: Christus is doodgemaak na die vlees en lewend gemaak na die gees.

 

vers19 begin met die Griekse woorde en hooi (in/deur wie – persoonlik, of: in/deur  wat – onsydig), wat dan vertaal kan word dat Christus deur die Gees wat Hom lewendig gemaak het, vir die geeste gaan preek het;

Die woorde kan egter ook onsydig vertaal word as ‘deur wat’ – dan kan beteken

(i)             dat Jesus na die gees (‘n onsydige woord; en nie met sy liggaam nie) vir hulle gaan preek het. 

(ii)            dat Jesus  se opstanding uit die dood, wat in v18 genoem word, vir die geeste die aankondiging van Jesus se oorwinning is. Dit sou pas by Calvyn se verklaring. 

 

Die Griekse werkwoord poreuomai beteken ‘gaan’ van een plek na ‘n ander; of ‘reis,’ maar verwys nie na opgaan of afdaal nie,; in 3:22 word daarby gevoeg dat Hy in die hemel ingegaan het. Daarom meen party verklaarders dat Jesus met sy hemelvaart vir die geeste in die lug (waarvan Ef 6:12 praat) gepreek/aangekondig het. Die antieke beeld van die heelal het gepraat van die wolke-hemel, die lugruim of sterre-hemel, en die derde hemel waar God woon (vgl 2 Kor 12:2). Maar in ons ruimte-eeu weet ons dat die hemel ‘n ander dimensie is, dat God alomteenwoordig is en dat die hemel daar is waar God is.  

 

Die woord pneumata geeste, kan verwys na bo-natuurlike wesens, engele of bose geeste (gevalle engele). Vers 20 verwys egter na hulle in die tyd van Noag, sy tydgenote, waarskynlik word gedink aan die geeste van die mense wat oorlede is in die vloed, as verteenwoordigers van almal wat reeds gesterf het van die begin van die mensheid af.

 

Die woord fulake kan verwys na ‘n gevangenis, of ‘n (nag)waak, of ‘n plek waar bose geeste bly. Volgens Ef 6:12 bly die bose geeste in die lug/hemelruim; volgens Openbaring 11:7 kom die dier uit die bodemlose diepte (abussos) waar die leier van die bose engele ook bly (Openb 9:11). In Bybelse tyd was die gedagte dat mense wat sterf na hades die ‘doderyk’ gaan.

Die woord gehenna word vir die hel gebruik, die Griekse vertaling vir die Hinnomdal by Jerusalem, na aanleiding van die ashope van Jerusalem in die Hinnomdal, wat altyd gebrand het, en waar kinders in die gloeiende arms van die beeld van die afgod Molek geoffer is (Lev 20:2)..

 

 Die Griekse werkwoord kerusso word gebruik vir ‘aankondig, vertel en preek’. Is dit ‘n boodskap van veroordeling vir die ongehoorsames, of ‘n boodskap van oorwinning vir die gehoorsames, of moontlik albei? Vir die verkondiging van die evangelie word gewoonlik die woord  euangelizoo gebruik. Dit laat dink dat Hy sy oorwinning oor die bose en die dood aangekondig het.

            1 Petr 3:22 sê van Jesus: Hy wat aan die regterhand van God is nadat Hy die hemel binnegegaan het, en engele, magte en kragte aan Hom onderwerp het.

            1 Kor 15:24-26 sê dat die einde kom wanneer Christus alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. Hy regeer as koning totdat Hy al die vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood.  

 

As die en hooi onsydig vertaal word, kan dit beteken dat Christus se kruisiging en opstanding sy oorwinning oor die sonde en die dood is wat aan die geeste in die gevangenis van die sonde en die dood aankondig, dat Hy die sonde en die dood met sy liefdesoffer oorwin het, en nou hulle Regter is aan die regterhand van God – aan almal wat nie in Hom wou glo nie, soos die mense van Noag se tyd.  

 

3. Doop – vertaling

 

1 Petr 3:20 verwys na die paar mense in Noag se ark wat deur die vloedwaters heen gered is. Daarby skakel vers 21 aan, letterlik met: ‘en waarvan die teenbeeld (antitupon iets wat in vorm en struktuur met iets anders ooreenkom, as ‘n vervulling van ‘n realiteit wat vooruit gewys het) julle nou red, die doop, wat nie die aflegging van die vuilheid van die liggaam (is nie), maar ‘n versoek (of: ‘n plegtige belofte) aan God  vir ‘n goeie gewete, deur die opstanding van Jesus Christus…’

            Die woord eperootema word vir ‘n bede gebruik, maar ook vir ‘n bepaling in ‘n kontrak tussen twee persone, ‘n verpligting, ‘n bindende onderneming, ‘n belofte om ‘n bepaling getrou na te kom – Engels ‘pledge’ – wat die dopeling met God aangaan by die doop dat hy/sy hulle gewete sal skoon hou. Hierdie vernuwing/reiniging van die mens word nie bewerk deur die water of die doophandeling as sodanig nie, maar deur die opstanding van Jesus Christus. Die doop is die teenbeeld of uiterlike teken van wat die opgestane Jesus met ons doen as ons aan Hom verbind is, aan sy dood en opstanding verbind om te sterwe aan die sonde en te lewe vir God (Romeine 6:1-14). Ons is verbind aan Hom wat volgens 1 Petr 3:23 aan die regterhand van God is, as die regeerder oor die hele skepping.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...