Die betekenis van die doop

image_pdfimage_print

Die betekenis van die doop – Francois Malan

Thys vra:

Wat is die betekenis, doel en verskil m.b.t. die Gelowige Doop, die Heilige doop, die klein(kinder/baba) doop, die groot(volwasse doop) en doping met die HeiligeGees. Doping met vuur. Water doop besprinkeling en /of onder dompeling.?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die betekenis van die doop:

Die doop is die uiterlike bevestiging deur God dat die dopeling verbind is aan Jesus Christus, die Seun van God, wat uit sy genade en groot liefde aan die kruis gesterf het vir die sonde van die wêreld, en deur sy opstanding die dood as straf op die sonde oorwin het. Die verbinding aan Jesus Christus word gedoen deur die Heilige Gees wat reeds in die dopeling kom woon het soos God belowe het. Deur die werking van die Heilige Gees is die dopeling weergebore tot kind van God. Die doop is ‘n uiterlike teken wat God gee, om daarmee sy seël van eienaarskap op ons te plaas – die dopeling behoort nou aan God, die Vader en die Seun en die Heilige Gees. 

 

            Romeine 6:3-4: Of weet julle nie dat ons wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood ingedoop is nie? Deur die doop is ons dus saam met Hom in sy dood begrawe sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, so ook ons ‘n nuwe lewe sal lei.

 

`           Johannes 3:3: As iemand nie van bo weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie (die Griekse woord het ‘n dubbele betekenis en beteken altwee: ‘van bo gebore’ en ‘weer gebore’).

 

Johannes 3:8: die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan  nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.

 

Johannes 14:16-17 Die Vader sal die Heilige Gees gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees…en in julle sal wees.

 

Romeine 8:11: As die Gees van God, wat Jesus uit die dood opgewek het, in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

 

Romeine 8:15 Julle het die Gees van kindskap ontvang deur wie ons roep ‘Abba, Vader!’(Abba is die Aramees vir Vader)  Die Gees self bekragtig aan ons gees dat ons kinders van God is.

 

Doop met die Heilige Gees, en doop met vuur:

Johannes die Doper het gesê: Ek doop julle wel met water met die oog op bekering, maar Hy wat ná my kom…sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop…die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand (Matteus 3:11-12; vgl. Markus 1:8; Lukas 3:16) – hier is die vuurdoop die ewige vuur as ewige straf vir die ongelowiges (Matteus 18:8; 25:41 die vuur wat God vir die duiwel en sy volgelinge berei het). Jesus Christus kom as Regter om te oordeel tussen gelowiges en ongelowiges (Matteus 25:31-33).

 

Die doop met die Heilige Gees word verduidelik in Johannes 7:38-39:  Jesus het gesê: Hy wat in My glo, soos die Skrif sê (vgl. Jesaja 58:11): ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ Dit het Hy van die Gees gesê, wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie – volgens die Evangelie van Johannes begin Jesus se verheerliking aan die kruis, as die hoogste liefdesoffer van God vir ons. Deur sy liefde trek Hy ons na Hom toe (vgl. Jn 12:32-33). Die vrug van die werking van die Gees in ons is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23). So lyk ‘n mens wat met die Heilige Gees gedoop is.

 

Die Heilige Gees is God wat in ons kom woon om ons daagliks te lei en te leer en te ondersteun; Johannes  16:7-8: As Ek weggaan sal Ek die Heilige Gees na julle stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid  en van oordeel – Hy wys ons op ons sonde; Hy oortuig ons dat die enigste manier om ons sondaars se verhouding met God reg te kry, is om aan Jesus Christus verbind te wees in die geloof en help ons om soos kinders van God te leef. Paulus sê in 2 Kor 3:18 dat die Heilige Gees ons verander om al meer soos Jesus te word. Hy sal ons ook oortuig van God se oordeel oor die duiwel en oor die bose in die wêreld (Jn 16:11).

 

Die doop met die Heilige Gees verwys na God se onsigbare werking in ons lewe. Dit gaan van God uit en Hy werk ons hele lewe lank aan ons.

 

Kinderdoop:

Die doop is God se uiterlike teken aan ons dat Hy ons sondes vergewe deur die bloed van die Here Jesus wat vir ons gestort is. Soos water ons liggaam reining, is die water van die doop die uiterlike teken dat ons sonde gereinig is deur die bloed van Christus. Sy ‘bloed’ is ‘n beeld van sy offer. Hy het in ons plek die straf op ons sonde gedra. Die Seun van God is deur God verlaat aan die kruis, deurdat Hy, uit sy genade en liefde vir ons, Homself oorgegee het in die dood. God het die dood as straf op die sonde gegee (Genesis 2:17). Deur self die straf van die dood op Hom te neem het Jesus ons bevry van die straf op die sonde, met die een offer wat vir God aanneemlik is, dat God ons straf op Homself neem. En die doop is God se seël wat nou bevestig dat ons vir ewig aan Hom behoort as sy kinders. Hy het ons losgekoop uit die straf op die sonde, en ons dood verander in die deurgang na die ewige lewe saam met God. 

 

Chrisus het sy bloed nie minder gegee vir die reiniging van die kinders van gelowiges as vir volwassenes nie (vgl. Markus 10:14: Laat die kinders na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God behoort aan mense soos hulle). Daarom behoort kinders van gelowiges die doop te ontvang as die uiterlike teken van wat Christus vir hulle gedoen het. Die Christelike doop is ‘n bevestiging van die doop van Jesus aan die kruis vir die vergewing van ons sonde – in Lukas 12:50 verwys Jesus na sy kruisdood as ‘n doop waarmee Hy gedoop moet word. Die doop op Golgotha raak die ganse wêreld – vgl. Johannes 1:29: Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Die kinders van ‘n gelowige ouer is geheilig = aan God gewy, deur die gelowige ouer (1 Korintiërs 7:14).

 

Kolossense 2:11-12:  In Christus is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige aard weggeneem is, toe julle in die doop saam met Hom begrawe is. In Hom is julle ook opgewek deur die geloof in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.

            So verbind Paulus die doop aan die besnydenis van Joodse seuntjies op die agtste dag, wat die teken was van die ou verbond van God se genade aan Abraham en sy nageslag (Genesis 17:9-14). Die doop is die teken en seël van die nuwe verbond van God met ons en ons kinders,dat seuntjies en dogtertjies van gelowige ouers ook kinders van God is.

            Op die Pinksterdag verklaar Petrus: die belofte van vergifnis van sonde deur Jesus Christus en die ontvang van die Heilige Gees geld vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep (Handelinge 2:38-39). Nadat die Here die hart van Lidia oopgemaak het om ag te slaan op Paulus se getuienis, is sy en haar hele huishouding gedoop (Handelinge 16:14-15); soos almal in die huis van die tronkbewaarder van Filippi (Handelinge 16:32-33).

           

Volwasse doop – gelowige doop:

Die Heilige Gees kom om mense, wat nie gebore is uit gelowige ouers nie, uit ouers wat nie deel het aan God se verbond van genade nie, om ongelowige mense te oortuig dat Jesus die Seun van God is, wat vir hulle die pad na God toe kom oopmaak het. Die Gees gebruik vir sy oortuigingswerk die woord van die Here. wat verkondig word met mense se woorde en lewensvoorbeelde, deur gebeurtenisse, ens. So word mense wat nog nie in Jesus glo nie, deur die Gees gelei tot die besluit om in die Here Jesus te glo, hulle lewe aan Hom oor te gee as die Here van hulle lewe, en te lewe volgens Jesus se woord en sy voorbeeld van liefdediens. 

            So is die mense op die Pinksterdag diep in hulle hart getref deur die woorde van Petrus, en het hulle gevra wat hulle moet doen. Petrus het hulle antwoord dat hulle hulle moet bekeer (die Griekse woord metanoia verwys na ‘n verandering van hulle harte en denke oor Jesus) en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word. En julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang (Handelinge 2:37-38).

            Dit was ook Jesus se opdrag aan sy dissipels ná sy opstanding: Gaan dan en maak dissipels (leerlinge, volgelinge van Jesus) van al die nasies, doop hulle in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees (met die teken en seël dat hulle aan God behoort), en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:19-20).

 

            God se genade word aan mense verkondig, en as hulle besluit om dit te aanvaar, en met geloof daarop antwoord, word dit in die doop bevestig. Met die doop neem God die gelowige op in sy huisgesin, in sy gemeente. (Efesiërs 2:8: Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God.

 

Besprinkeling en onderdompeling 

1 Petrus 1:2 noem die gelowiges in Klein-Asië: hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God die Vader om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word.           

Daarmee knoop Petrus aan by die beseëling van God se verbond met Israel by Sinai: Moses het toe die bloed gevat en op die volk gesprinkel terwyl hy sê: Dit is die bloed van die verbond wat die Here op grond van al hierdie gebooie met julle gesluit het (Eksodus 24:8). So sien Petrus die samehang tussen die besprenkeling met die water van die doop van die nuwe verbond en die besprenkeling met die bloed van die ou verbond.

            Vir die doop van klein kinders is die besprenkeling met water dus aangewys as die teken en seël wat God aan hulle gee. Vir ‘n teken en ‘n seël maak die hoeveelheid water nie saak nie.

 

Die onderdompeling is ‘n baie realistiese teken van die sterwe aan jouself en jou ou lewe, deur jou heeltemal onder die water te druk, en die opstanding tot ‘n nuwe lewe waarin God die beheer oor jou lewe neem met die uithelp uit die waterbad deur die persoon wat jou doop. Romeine 6:4: Deur die doop is ons dus saam met Christus in sy dood begrawe sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, so ook ons ‘n nuwe lewe sal lei.

 

Maar die hoeveelheid water is nie belangrik nie. Dit is ‘n teken wat heenwys na Jesus se sterwe en opstanding, en dat ons hele lewe daaraan verbind word, om saam met Hom daagliks ons sonde af te lê, versoekings te weerstaan, en te lewe in gehoorsaamheid aan wat Hy sê (vgl. Efesiërs 4:22-24 om jou ou lewenswandel af te lê, die aard van jou denke te verander, en die nuwe mens aan te trek wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is). In. Johannes 13:34 sê Jesus: Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê – dit beteken selfs tot die dood toe mekaar liefhê.

 

Die doel van die doop

God beseël met die doop dat die dopeling aan sy Seun verbind is en dat God hom/haar daarom as kind aangeneem het en opgeneem het in die gemeente as deel van die ligaam van Christus. 1 Korintiërs 12:13: Ons is tog almal deur die een Gees gedoop in een liggaam – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. Efesiërs 1:22-23: God het Christus as Hoof bo alles aan die kerk, wat sy liggaam is, gegee, die volheid van Hom wat alles in almal vervul. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...