Alle Paaie lei na Jesus: Siel, Gees en Liggaam

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Siel, Gees en Liggaam – Adrio König

5.5 Siel en liggaam, of gees, siel en liggaam?

Daar is ’n ou verskil oor die “samestelling” of “bestanddele” van die mens. Bestaan die mens uit twee dele (siel en liggaam) of uit drie (gees, siel en liggaam)? Mense gaan uit hulle pad om dan te omskryf presies wat elke deel is. Intussen word die verskil nie opgelos nie. Is dit dalk omdat die uitgangspunt verkeerd is? Bestaan die mens hoegenaamd uit ’n aantal dele? Indien wel, sal dit heelwat meer as twee of drie moet wees. Wat van die hart, die gemoed, die kragte, die verstand, die wil, die gewete – almal terme wat in die Bybel net soos gees, siel en liggaam vir die mens gebruik word? Daar is wel pogings om hierdie ander begrippe onder gees, siel en liggaam in te deel, maar dis sonder grond in die Bybel. 

 

Al hierdie begrippe word in die Bybel vir die mens gebruik, maar op ’n vrye, onsistematiese, willekeurige manier. Jesus som die Tien Gebooie op in twee gebooie. Die eerste is om God lief te hê met jou hele hart, siel, verstand en krag (Mark 12:30). As ons uit vaste dele bestaan het, sou dit dan beteken ons hoef Hom nie lief te hê met ons liggaam, gees, gewete en gemoed nie? As Paulus ons vermaan om ons liggame as ’n heilige offer aan God te wy (Rom 12:1, 1953-vertaling), beteken dit ons kan maar ons siel en ons gees en ons hart vir onsself hou? As die Psalmdigter sê sy siel smag na God (Ps 42:2, 1953-vertaling), bedoel hy sy ander dele, hart, gees, liggaam smag nie na God nie?

Ons moet die beginsel onthou dat woorde nie vaste betekenisse het nie, maar dat ’n woord in ’n bepaalde konteks betekenis kry. Daarom vertaal nuwere vertalings nie meer die Griekse woorde vir gees, siel, liggaam, ensovoorts, altyd met dieselfde betekenis nie. Vroeër was dit so gedoen, en dit is die letterlike vertaling genoem. As ons die Hebreeuse woord nefesj altyd met siel vertaal, sal ons die volgende vertaling kry:

  • Jesaja 29:8: “En soos ’n hongerige droom dat hy eet, maar hy word wakker en – sy siel is leeg … ” (1953-vertaling). Maar as ’n mens honger is, is jou maag leeg. Dis die betekenis van nefesj in hierdie vers. En so vertaal nuwere vertalings dit ook.
  • Jesaja 5:14 lees “letterlik”: “Daarom het die doderyk sy siel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek … ” Maar uit die verband (mond) is dit duidelik dat nefesj hier keel beteken.
  • Jeremia 4:10: “die swaard raak aan die siel” terwyl ’n swaard natuurlik aan ’n mens se nek of keel kan raak as die vyand jou bedreig.
  • Spreuke 16:26 lui “letterlik”: Die siel van die werksman laat hom werk. Die bedoeling is dat hy werk omdat hy honger is; dus sy honger werk vir hom.
  • Psalm 42:2: “My siel smag na God” beteken nogeens nie dat my ander dele nie na God smag nie. Waarskynlik het ons hier ’n intensief sodat ons kan vertaal: “Ek is baie stil tot God.” Ons ken dit in gewone taal ook: “Ek is tot in my siel ontsteld” beteken nie ’n sekere deel van my is ontsteld nie, maar ek is baie ontsteld.
  • Paulus vermaan die gemeente in Rome om hulle liggame aan die Here te wy (Rom 12:1, 1953-vertaling). Hy bedoel nie net ’n bepaalde deel van die mens sodat hulle nie hulle siel of hart of gemoed aan Hom hoef te wy nie. Onder “liggaam” bedoel hy waarskynlik eerder hulle konkrete lewe, of eenvoudig “hulleself” soos baie vertalings deesdae lui.
  • Ons dink altyd jou hart is jou emosies. Ons praat van iemand se “hartsake”. Maar Salomo vra van die Here letterlik ’n “opmerksame hart” en dan gee die Here hom ’n “wyse en verstandige hart” (1 Kon 3:7-12, 1953-vertaling) wat tereg vertaal word met “wysheid en insig”. Die hart verwys dikwels in die Ou Testament na insig en wysheid.
  • In Spreuke 23:26 waarsku die pa die seun teen ’n onsedelike vrou en vra dan: “Gee my jou hart” wat beteken gee aandag aan wat ek sê, luister na my.
  • Ons lees dat elke goudsmid verleë is omdat die beeld wat hy gemaak het, geen “gees” in hom het nie, wat tog duidelik “lewe” beteken (Jer 10:14).
  • Toe die koningin van Skeba Salomo se heerlikheid sien, “was daar in haar geen gees meer nie” (1953-vertaling) wat tog seker beteken dat haar asem weggeslaan het (1 Kon 10:5 – soos 1983 vertaal).
  • Die familiehoofde “wie se gees God opgewek het om te trek” beteken seker dié wat van God die wil/wilskrag gekry het (Esra 1:5, 1953-vertaling).

 

Dit is dus sonder meer duidelik dat hierdie woorde verskillende betekenisse het en dat die verband telkens die betekenis bepaal. Dit beteken dat ’n mens nie uit bepaalde vaste “onderdele” bestaan nie, maar ’n eenheid is. Hierdie woorde word vrylik en taamlik willekeurig gebruik om van verskillende kante na die mens te kyk.

 

Die gedagte dat die mens uit twee of drie vaste dele bestaan, kom nie uit die Bybel nie, maar het onder die invloed van sekere Griekse filosowe  in die Christendom ingekom. Die Bybel sien die mens as ’n eenheid en gebruik ’n hele aantal woorde vrylik en in verskillende betekenisse om na aspekte van ons lewe te verwys, maar nie na vaste dele nie.

 

Maar wat dan van ons “onsterflike siel”? Dit is vir baie gelowiges ’n uiters belangrike saak. “Jou siel moet gered word.” Wat hulle daarmee bedoel, is volkome Bybels. Ons het ’n ewige bestemming, en ons moet ons saak met die Here regmaak. ’n Mens word gered of jy gaan verlore. Maar ons kan dit alles sê soos wat die Bybel dit sê. Ons hoef nie woorde soos “siel” en “onsterflike siel” daarvoor te gebruik nie. God sal ons uit die dood opwek, en dan sal ons op die nuwe aarde in sy ewige heerlikheid deel. En mense wat Hom nie aanvaar het nie, sal verlore gaan. Ons ewige bestemming sal bepaal word deur ons verhouding met Jesus Christus.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...