Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (3)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (3) – Adrio König

7.2.5 Die opstanding

Tot dusver is net vervullings uit Matteus behandel. Dit mag dus wees dat ons net by hom hierdie vrye vervulling van profesieë kry. Daarom word drie ander vervullings gekies uit die boek Handelinge.

 

Die vervulling van Psalm 16 in die opstanding van Jesus (Hand 2:25-28) is besonder belangrik. Immers ons weet dat ons nie regtig duidelike verwagtings van die opstanding in die Ou Testament kry vóór die baie laat verwysing van Daniël 12:2 nie. ’n Mens verwag dus dat daar nie veel sprake sal wees van profesieë wat in Jesus se opstanding vervul is soos dit geld van die res van sy lewe en sy sterwe nie.

 

Juis dit maak die verwysing na Psalm 16 so belangrik. In hierdie Psalm is iemand aan die woord wat in groot gevaar is. Dis nie duidelik of dit vyande of siekte is wat sy lewe bedreig nie. In vers 1 gebruik die meeste vertalings (soos die 1983-vertaling) woorde wat aan vyande laat dink (“Neem my in beskerming, o God; ek soek skuiling by U”). Hy kry dan van die Here die versekering dat die Here hom bewaar (16:7-8), en dan volg sy loflied (vers 9-11). Hy juig, want hy voel nou veilig (9). Hy weet nou die Here sal hom nie aan die dood oorgee nie. Dit beteken dat hy nie sal sterf nie. Hy sal nie in die graf kom nie (10). Hy loop oor van vreugde (11). Hier is nie sprake van opstanding uit die dood nie, maar van beveiliging teen die dood. Hy sal nie doodgaan nie. Die Here sal hom bewaar.

 

In Handelinge 2 (en ook Hand 13) lees ons nou dat hierdie Psalm vervul is in die opstanding van Jesus, dat Dawid nie hier regtig oor homself kon geskryf het nie omdat almal weet hy het wel gesterf. Maar “hy het die opstanding van Jesus vooruit gesien” (Hand 2:31).

 

Die vraag is nou hoe Petrus die opstanding kon aflei uit ’n Psalm wat handel oor die bewaring teen die dood sodat ’n mens nie sterf nie. En die antwoord is dat hy dit aanhaal uit die Septuagint, soos verreweg die meeste skrywers van die Nuwe Testament doen. En soos in baie ander gevalle, het die Septuagint Psalm 16 anders vertaal as wat die Hebreeus is. Dit gaan eintlik net om ’n paar veranderings, maar hulle is belangrik. Die vertalings word redelik letterlik gegee. Dit gaan oor Psalm 16:9, 10.

 

Hebreeus LXX

My liggaam voel veilig My liggaam lê in hoop (9)

U gee nie my siel aan die doderyk nie

U laat nie my siel oor aan die doderyk nie (10)

U laat nie u vrome die graf sien nie

U laat nie u vrome verrotting sien nie (10)

 

Dit is sonder meer duidelik dat die eerste groep beteken dat die Psalmdigter nie dood is nie, dat hy teen die dood gevrywaar word, terwyl die tweede groep suggereer dat hy dood is, maar nie aan die dood prysgegee is nie. Maar selfs met hierdie veranderings is daar nog nie regtig sprake van opstanding nie. Dit beteken op sy meeste dat die persoon nie prysgegee is aan die dood nie. Dit is hierdie veranderings wat Petrus die ruimte gee om die opstanding uit hierdie Psalm af te lei. Die teologiese implikasies hiervan is nie nou ter sprake nie. Ons weet dit gebeur oor en oor dat die Septuagint vreemde vertalings het en dat die vroeë Christene hierdie vertalings verkies het omdat dit hulle saak gesteun het.

 

Maar die punt waaroor dit nou gaan, is dat niemand ooit uit Psalm 16 in sy oorspronklike vorm die opstanding uit die dood sou kon aflei nie, trouens selfs nie uit die vorm in die Septuagint nie. Niemand sou selfs net kon vermoed dat dit ’n profesie was nie. Dit het gegaan oor die verhaal van iemand wat deur God teen die dood bewaar word sodat hy nie sterf nie. En dit beteken dat ons vir die soveelste keer voor die feit staan dat ’n skrywer van die Nuwe Testament ’n geskiedenis as ’n profesie interpreteer, en ook dat ’n mens nie uit die inhoud daarvan sou kon aflei hoe die vervulling sal lyk nie. Profesieë word op ’n merkwaardig vrye manier vervul. Ons moet eenvoudig wag vir die vervulling om te weet hoe dit sal lyk. En vanselfsprekend geld dit ook profesieë wat nog nie vervul is nie. Ons kan dus nie ’n detailprentjie teken wat dit waarop ons nog wag nie. Ons het op sy beste vae aanduidings.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König

 
 

 

image_pdfimage_print

You may also like...