Ananias en Saffira teenoor Barnabas

image_pdfimage_print

Public opinion is a weak tyrant compared with our own private opinion. What a man thinks of himself, that is which determines, or rather indicates, his fate – Henry David Thoreau

Ananias en Saffira teenoor Barnabas

Ons lees die verhaal van Ananias en Saffira in Handelinge 5. J. D. Greear glo dat hulle dood ‘n waarskuwing vir die kerk vandag is en dat ons baie uit die verhaal kan leer.

  • In die kerk is daar twee soorte mense en van buite is dit feitlik onmoontlik om hulle te kan onderskei

Ananias en Saffira, van buite, lyk net soos Barnabas. In Handelinge 4 lees ons dat Barnabas ook sy grond verkoop het en die geld vir die apostels gebring het. Vir ons lyk dit asof Ananias en Saffira dieselfde doen.

Maar diep in hulle hart is daar ‘n liefde vir geld en ‘n begeerte om deur mense geprys te word. Hulle sweer saam om ‘n deel van die geld terug te hou terwyl hulle die indruk skep dat hulle die volle bedrag aan die apostels oorbetaal het. Hulle gesindheid verskil radikaal van dié van Barnabas al lyk dit dieselfde.

Ons mag tydelik met hierdie valsheid wegkom, maar as iemand dit nader bekyk sal hy die leuens sien.

 

  • Ons kan nie van God wegkruip nie

Dit mag vir ons moeilik wees om te onderskei tussen ware en vals berou, maar niks is vir God verborge nie. Die Heilige Gees ken ons gedagtes; daar is geen geslote deure vir die Heilige Gees nie. Hulle mag die mense bluf, maar nie vir God nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie (Matteus 10:26). Glo ons dit? Ananias en Saffira het dit geweet … maar daarvan vergeet.

Die geheime van ons harte is nie geheim vir God nie. As jy sê: “Jesus is die Here,” maar jy leef nie asof Hy jou Here is nie, moet jy nie dink dat jy God gebluf het nie.

 

  • Hoe nader ons aan die genade is, hoe groter is die oortreding van sonde

Nie almal wat jok, val dood neer nie. Hoekom gebeur dit met Ananias en Saffira?

Een: Hulle dood dien as ‘n teken.  God doen dit nie met almal wat vir die Heilige Gees lieg nie, maar hierdie dood is die beeld van hoe God daaroor voel. Dit is ‘n teken van die toekomstige oordeel oor almal wat soos Ananias en Saffira optree.

Twee: Ananias en Saffira het die optrede van die Heilige Gees van so naby gesien dat dit die erns  van hulle sonde vermeerder het. Hulle was waarskynlik ooggetuies van Jesus se dood.

Moenie heilige dinge sommer ligtelik aanvaar nie.

 

  • Vrees is deel van aanbidding

Toe Ananias dit hoor, het hy dood neergeval; en al die ander wat dit gehoor het, het baie bang geword. Tog lees ons dat meer en meer mense  algaande by hulle getal gevoeg is. Ons glo in ‘n God wat ons oneindig liefhet, maar dit maak slegs sin as ons bewus is van sy heerlikheid en mag. Daarom skryf John Newton: Tis grace that taught my heart to fear. Soos ons vrees vir God toeneem, so neem die sin van sy liefde toe – ons besef nou eers waarlik waarvan ons gered word.

Ons word uitgenooi in die mees intieme verhouding met God, maar hierdie intimiteit mag nooit die majesteit van God oorskadu nie.

 

  • Sonde is ‘n baie ernstige saak vir God

Ons vra: Waarom het hulle gesterf? Dit dui op onkunde van ons sonde en God se heiligheid. Die vraag wat ons eintlik moet vra, is: Hoekom leef ons nog? God is geduldig; God word nie gou kwaad nie. Hoekom? Om ons na berou en bekering te lei … beslis nie om meer te sondig nie. Dink aan wat Christus aan die kruis deurgegaan het. Hoe sal ons dat ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? (Hebreërs 2:3).

 

image_pdfimage_print