Die Groot Geloofswoordeboek: Sending/Evangelisasie

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Sending/Evangelisasie

Sending • Evangelisasie

Sending is die doel van die kerk se bestaan. Die tyd is verby om daarvan te verskil. Maar daarmee het ons nog nie by die wor­tel van die saak gekom nie. Die sending is die doel wat die Vader gehad het toe Hy sy Seun gestuur het.

Die sending is God se sending, nie in die eerste plek ‘n paar sendingvriende, sending­organisasies, of selfs die kerk se saak nie. Jesus Christus was die groot sendeling. En ons is in sy Naam met sy werk besig. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle” (Joh 20:21).

 

Dit beteken dat ‘n Christen ‘n sendeling is. Jou doop is jou ordening as sendeling. ‘n Christen kan ‘n ywerige sen­deling of ‘n trae sendeling wees. Hy of sy kan alles insit of niks insit nie, maar is in beide gevalle sendelinge.

‘n Gemeente bestaan op aarde ter wille van die sending. (*Kerk) As God se doel met ‘n gemeente nie sending was nie, sou Hy die ge­meente dadelik weggeneem het hemel toe omdat al die ander dinge wat ‘n gemeente ook moet doen, almal beter in die hemel as op hierdie sondige aarde gedoen kan word. Die jeug sal daar baie beter bearbei kan word, of dalk glad nie meer bear­beiding nodig hê nie omdat daar geen versoekings meer sal wees nie. En die bejaardes sal baie makliker daar versorg kan word, of dalk glad nie meer versorg hoef te word nie omdat siek­te en trane en dood verby sal wees. En die gemeentebou sal daar die maklikste van alles wees, of weereens dalk nie meer no­dig wees nie omdat daar geen sonde sal wees nie.

Sending is ‘n omvattende saak. Dit is meer as evangelisasie. Evan­gelisasie is die taak om die evangelie aan alle nie-gelowiges te bring. Sending is om die kerk te vestig, wat ‘n hele aantal belangrike dinge insluit. Die nuwe kerk moet gelei word om self sy sendingtaak te aanvaar. Maar die nuwe kerk moet ook al die ander nodige be­dienings ontwikkel en uitbou. Dit sluit in dat die nuwe kerk so­siaal bewus gemaak sal word indien dit nog nie sosiaal bewus is nie. Die evangelie moet ook in die samelewing gestalte kry.

Die negentiende eeu is bekend as die groot sendingeeu. Veral Afrika het baie aandag gekry. Ongelukkig was die sendingwerk dikwels met ‘n meerderwaardige motief gedoen, wat teen die laaste helf­te van die vorige eeu ‘n slegte smaak nagelaat het in die mond van die lande wat onafhanklik geword het. (*Godsdiensgelyk­heid, *Godsdiensvryheid) Maar desondanks het die evangelie sterk in­gang in Afrika gevind en brei die kerk tot vandag vinniger in Afrika uit as in enige ander gebied ter wêreld.

Sending is egter lankal nie meer beperk tot die “heidenlande” nie. Sedert die begin van die vorige eeu is ons al daarvan bewus dat sending in al ses kontinente nodig is. Dikwels is dit juis swaarder om mense wat vroeër al op verskillende maniere met die evangelie in aanraking was en later belang verloor het, terug te wen. Sending in baie Europese lande is uiters moeilik en lewer relatief min vrug.

Daar is ook huiwering oor sending en selfs weerstand teen sen­ding. Die huiwering kom al meer as ‘n halfeeu sedert teoloë begin aanvaar het dat God alle mense in en deur hul eie gods­dien­s­te wil red en dat almal net toegewyd aan hul eie godsdiens moet leef. Die weerstande kom uit die onlangse oortuiging dat daar nie so iets is soos absolute waarheid nie (*Postmodernisme), en dat dit beteken dat elke mens of groep hulle eie waarheid het en dat Christene vermetel is om hulle waarheid aan ander op te dring.

Daar sou wel nog ruimte wees vir dialoog tus­sen mense van ver­skillende godsdienste om mekaar beter te ver­staan en van mekaar te leer.

Al hierdie sienings kan ‘n mens inderdaad versigtiger en be­ter ingelig maak in jou sendingroeping, maar dit neem nie die roeping weg wat die Here ons gegee het om Hom aan alle mense te verkon­dig nie. Wie Hom ken, weet ook Hy is oor en oor die moeite werd om te ken en te dien. Wie in Hom glo, kan nie anders as om te wens en te bid en te werk dat Hy deur alle mense as Verlosser aanvaar moet word nie.

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...