Bevry deur genade (1)

image_pdfimage_print

The existence of hypocrites does not prove the non-existence of true believers. —C.H. Spurgeon

Bevry deur genade (1)

Die idee van God se onverdiende guns is uniek, rewolusionêr en lewensveranderend. Mense sukkel om die begrip van God se genade te verstaan. Ons glo ons kan ons eie pad na God oopbreek. As iemand aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het – die vloek van God sal hom tref ( Galasiërs 1:9). Galasiërs is natuurlik dié brief wat oor genade skryf.

 

Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring (1:7). Maar wat het dit nou met ons te doen? Daar is tog nie meer Judaïseerders onder ons nie. Daar is altyd bedreigings vir die suiwerheid van die evangelie waarteen ons moet waak. Wettisisme, in een of ander vorm, kom gereeld in die kerk na vore. Ons gaan na twee aspekte van wettisisme kyk: wettisisme gedefinieer en wettisisme vernietig.

 

  1. Wettisisme gedefinieer

Om wettisisme raak te sien en korrek te diagnoseer is belangrik. Ons kan hier drie verskillende aspekte van hierdie begrip oorweeg.

 

  • Werk in jou eie krag

In die Judaïseerders se prediking was Jesus Christus belangrik, maar dit was Jesus plus nog iets. Jy moet in Christus plus jou vermoë om die wette en rituele van die Ou Testament na te kom, glo. Ons glo dat ons deur genade verlos is, maar dan leef ons die Christelike lewe in ons eie krag.

 

  • Werk volgens ons eie reëls

Ons voeg reëls by bo en behalwe wat God op grond van sy verhouding met ons neergelê het Dit is onnodig om nog reëls by dié wat God aan ons gegee het, by te voeg.

 

  • Werk om God se guns te verdien

Ons glo dat deur sekere dinge te doen ons God se guns kan verdien. Die Judaïseerders het geglo dat deur God se wette te gehoorsaam hulle God se guns kan wen – jy verbeter jou posisie voor God deur wat jy doen. Doen ons dit nie nog steeds nie? Ons glo dat as ons die Bybel lees, bid, die eredienste bywoon en ‘n paar goeie goed doen, sal ons God se guns verdien. As ons dit nie doen nie, moet ons besef dat God ontevrede met ons is.

 

Die waarheid van ons geloof is dat God se guns nie deur ons prestasies bepaal word nie. Maar ons as mense kan nie aanvaar dat ons niks hoef te doen nie. Dit maak die godsdiens van die Judaïseerders so aanloklik. Maar Paulus sê dat hulle ‘n ander evangelie verkondig (Galasiërs 1:6). Hulle verdraai die evangelie en verwar die mense. Maar al sal een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref (1:8).

 

Die evangelie moet met ywer verdedig word – wettisisme moet aangeval en vernietig word. Hoe moet ons dit doen? Hoe oorwin ons die denke wat so diep ingewortel is? Ons kry die antwoord in Galasiërs 1. Daarna kyk ons volgende keer.

 

 

image_pdfimage_print