Chiliaste

image_pdfimage_print

Chiliaste – Francois Malan

Danie vra:

Soms praat predikers van chiliaste en anti-chiliaste. Ek verstaan dit gaan oor Jesus wat sê dat Hy die weg en die lewe is en dat wie in Hom glo nooit sal sterwe nie. Waar het die oorsprong van die Chiliaste vandaan gekom

Antwoord

 

Prof Francois Malan antwoord:

Nee, dit gaan nie oor Jesus as die weg en die lewe nie. Die woord ‘chiliaste’ kom van die Griekse word ‘chilia’ vir 1,000, wat in Openbaring 20:2,3,4,5,6,7 gebruik word saam met die woord ‘jaar’, daarom 1,000 jaar. Die Latynse woord vir duisend is mille en vir jaar annus. Daarom word chiliaste ook millennialiste genoem.

Die stryd gaan eintlik oor die verklaring van Openbaring 20 wat handel oor die Satan wat vir duisend jaar vasgebind word, en die gelowiges wat vir 1000 jaar saam met Christus regeer. Daar is veral drie interpretasies vir Openbaring 20 se duisend jaar:

1 Postmillennialiste (post = ná) glo dat Christus weer sal kom ná duisend jaar van geregtigheid en vrede, wat ons tans beleef, waarin die evangelie van ons verlossing deur Christus verkondig word en die Heilige Gees in die harte van mense werk om in Christus te glo en sy verlossing vir ons te aanvaar.

2 Amillennialiste (a = sonder of deur) sien nie dat hier ‘n letterlike tydperk van ‘n duisend jaar in die geskiedenis bedoel word nie, maar beskou dit as simbolies van ‘n afgeronde of volle getal van 10x10x10=1,000, wanneer God besluit dat dit tyd is vir Christus se koms om te oordeel. In die huidige tyd bestaan die goeie en goddelose langs mekaar in hierdie wêreld tot met die wederkoms van Christus. En met sy koms breek die perfekte koninkryk van God aan.

3 Premillennialiste (pre = voor) is oortuig dat Christus nog twee maal sal kom. Met die eerste wederkoms sal Hy die duisendjarige ryk van vrede en geregtigheid op die aarde oprig en met die tweede wederkoms sal die ewigheid intree. Daar is dan ook ‘n dubbele opstanding, eers van die gelowiges wat saam met Christus vir 1000 jaar sal regeer. Hy sal die antichristelike magte oorwin, die satan bind, Israel tot bekering bring. Daarna sal satan weer losgelaat word en hierdie ryk aanval. Dan kom Hy weer ‘n slag en oorwin die satan en sy aanhangers, alle mense word opwek en Hy sal die eindvonnis oor hulle vel. Dan begin die ewige vrederyk op die vernude aarde.

Die chiliaste is veral die premillennialiste soos in punt 3 beskryf. Maar hulle vergeet dat die Openbaring aan Johannes nie ‘n boek is wat die toekomsgeskiedenis letterlik uitspel nie, maar ‘n profetiese boek waarin die getalle simbolies van aard is, en duisend jaar die volle ontwikkeling van Christus se regering op aarde simboliseer, totdat alles tot volle ontplooiing gekom het en dat God se besluit oor die kerk en die wêreld ten volle vervul is. Johannes praat ook nie van ‘n aardse ryk van vrede nie, maar hy sien die siele van mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het, mense wat op aarde gely het en nou in die hemel saam met Christus is. Daar is nie sprake van ‘n vrederyk op aarde nie.

Die anti-chiliaste sluit die postmillennialiste en amillennialiste in, wat nie daarin glo dat Christus gaan kom om eers vir ‘n 1000 jaar saam met die gelowiges in vrede en geregtigheid op die aarde te lewe en daarna nog ‘n slag kom om te oordeel en die ewige lewe te laat begin nie. Hulle aanvaar dat Christus se wederkoms die finale oordeel oor die mense sal wees, soos Jesus in Matteus 24 en 25 uitgestippel het. In die gelykenis van die onkruid wat tussen die koring groei vergelyk Jesus die koninkryk van die hemel op aarde met ‘n man wat goeie saad op sy land saai en sy vyand in die nag onkruid in die land gesaai. Hy sê: Laat altwee saam groei tot die oes, dan word eers die onkruid bymekaar gemaak en verbrand, en die koring word na sy skuur toe gebring (Matt.13:24-30). Die ewige lewe het reeds vir die gelowiges begin (vgl. Johannes 3:36), en die Heilige Gees is besig om ons te verander na die beeld van Christus (2 Korintiërs 3:18)..

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print