Dag 24: Ons Advent roeping van Christus

image_pdfimage_print

 

Dag 24: Ons Advent roeping van Christus

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Tydens Kersfees fokus ons dikwels op diere en meubels: watter diere was daar en waarin het Jesus gelê. Wat gebeur as ons na die Kersboodskap deur die Evangelie volgens Johannes kyk? Johannes begin so: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. In vers 13 lees ons: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en wysheid.

 

So dikwels word volgelinge van God so vasgevang in die diere en meubels dat hulle heeltemaal vergeet van die geheimenis van God wat sy Seun na die wêreld toe stuur om ons van ons sonde te verlos – Hy wat aan ons hoop en lewe gee. Om ons te help om Jesus hierdie Kersfees beter te verkondig, moet ons ontslae raak van al die tierlantyntjies rondom Jesus se koms. Ons moet na sy koms self kyk.

 

Die wonder is dat God – wat van altyd af as Vader, Seun en Heilige Gees bestaan het – sy Seun gestuur het en dat hierdie Seun mens geword het en onder ons kom woon het. Dit is die menswording – God tussen ons. In Jesus se menswording verstaan  ons die diepte van God se liefde, maar ook die passie vir sy sending. Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle.

 

Hierdie Kersfees moet ons dit altyd onthou: net soos God vir Jesus gestuur het, stuur Jesus nou vir ons. Ons is nou op ‘n sending vir sy Naam. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (Johannes 1:5). Die menswording van Jesus gee aan ons ons missie: Wys vir diegene wat in die duisternis is die lig van Christus.

 

Vraag: Gaan ons hierdie Kersfees op die diere en meubels fokus of gaan ons op Jesus Christus se sending vir ons fokus?

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en wysheid (Johannes 1:14).

 

 

 

image_pdfimage_print