Die bediening van konfrontasie

image_pdfimage_print

 

Hy wat geen vyande het nie, word deur sy vriende verraai.” – Takitus

 

Die bediening van konfrontasie

As die kerk suiwer in sy geloof wil wees, moet hy dwaalleer en dwaalleraars konfronteer. Die Bybel waarsku gereeld teen vals lering en die gevaar daarvan vir God se mense.

  • Jesus: Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe (Matteus 7:15).
  • Paulus: Ek weet dat daar na my vertek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei (Handelinge 20:29 – 30).
  • Petrus: Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar onder julle ook vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën … Baie mense sal hulle losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense kwaad praat van die Weg van die waarheid. In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit (2 Petrus 2:1 – 3).
  • Johannes: Daar het baie misleiers te voorskyn gekom in die wêreld. Hulle erken nie dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. Dit is wat ek met “die misleier”,”die antichris” bedoel (2 Johannes 7).
  • Judas: Maar julle, geliefdes, moet die dinge onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen reeds vir julle geleer het. Hulle het vir julle gesê: “Daar sal in die laaste dae mense wees wie se lewe deur hulle eie goddelose begeertes beheers word, en hulle sal met julle die spot dryf.” Hierdie mense bring verdeeldheid (Judas 17 – 19)

 

God roep sy kinders vir ‘n bediening van versoening, maar ook vir ‘n bediening van teregwysing. Hy het ons ook geroep vir ‘n bediening van konfrontasie. So kry ons ‘n voorbeeld van konfrontasie in Titus 1:10 – 16. Paulus verwys na dwaalleraars wat in hulle spore gestuit moet word en wie se monde gesnoer moet word. Hulle is verfoeilik en koppig en deug vir geen goeie werk nie.

 

Die bediening van konfrontasie is nie maklik nie, maar dit is noodsaaklik. As die integriteit van die evangelie ter sprake is, kan ons nie weghardloop en wegkruip nie – ons moet staan en veg. Gewapen met die waarheid, gemotiveer deur liefde en geklee met ‘n rein lewe, kan ons ander konfronteer. Die waarheid is belangrik. Jesus sê: En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak (Johannes 8:32).

 

 

image_pdfimage_print