Die belydenis van Petrus (6:67-71)

image_pdfimage_print

Die belydenis van Petrus (6:67-71) – Francois Malan

 6:67 Vir die eerste keer word in hierdie Evangelie na ‘die twaalf’ verwys (vgl. ook 20:24 toe Thomas nie by hulle was nie). Hulle het die binnekring van Jesus se volgelinge/leerders gevorm. Johannes vertel net van die eerste ses se roeping (1:35-51). Jesus se vraag suggereer ‘n ontkennende antwoord: ‘Julle wil nie ook weggaan nie?’ Hy weet ook wie dit is wat in Hom glo, maar hier stel Hy die twaalf voor ‘n beslissing.

6:68,69 Petrus antwoord namens die twaalf. Sy antwoord behels drie uitsprake wat sy besluit en sekerheid beklemtoon:

(i) Here, na wie toe sal ons gaan – ons kan na niemand anders gaan nie. Hulle wat Jesus waarlik ‘gesien’ en ‘gehoor’ het, weet daar is niemand anders nie (vgl. Jes.49:9 ‘Ek is God, daar is geen ander nie. Ek is God, daar is niemand soos Ek nie’). Later  sou Petrus voor die Joodse Raad oor Jesus verklaar: Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie (Hand. 4:12).

            (ii) U het die woorde wat ewige lewe gee – daarmee bevestig Petrus dat hulle die selfgetuienis van Jesus in 6:48,63 aanvaar.

            (iii) En ons glo en weet dat U die Heilige van God is – die twee werkwoorde ‘glo’ en ‘weet’ is altwee in die voltooide tyd. Dit beteken hulle het reeds geglo en het geweet, en dit bly so. Hulle is oortuig. ‘Die Heilige van God’ is ‘n uitsonderlike benaming vir die Messias (vgl. Mk 1:24; Lk 4:34 in die mond van duiwelbesetenes). Israel het van God gepraat as ‘die Heilige van Israel’ (2 Kon 19:22; Ps 71:22; Jes 1:4; Jer 51:5; Eseg 39:7). Om Jesus die Heilige van God te noem, is ‘n reaksie op Jesus se ‘Ek is’ van v20; en omdat hulle Hom as God erken, kan Hy die ewige lewe aan hulle gee. (In die ander drie Evangelies bely Petrus Jesus as die Christus; Matteus voeg by: die Seun van die lewende God; Mt 16:16, Mk 8:29; Lk 9:20). 

 

6:70 Jesus ken die mens deur en deur (2:25). Hy het die twaalf uitgekies, en van die begin af geweet, een van hulle sal Hom verraai (6:64). Dit is deelhê in sy lydensweg. Hier noem Hy daardie dissipel ‘n duiwel (die Griekse woord diabolos kom van die werkwoord diaballoo  ‘skinder, kwaadpraat’; vir Petrus noem Jesus ‘Satan’ toe hy probeer om Jesus te keer teen sy lydensweg; Mt 16:23; Mk 8:33; satan is ‘n Aramese woord vir ‘teenstander’). Jesus ken die planne van die duiwel (Johannes het nie die versoeking in die woestyn van Mt 4; Mk 1; en Lk 4 opgeteken nie). In Jn 13:18-30 wys Jesus sy verraaier aan, ook sonder om sy naam te noem, as ‘n laaste oproep tot Judas om tot inkeer te kom. Maar Jesus verwys daar na Ps 41:10 wat lui ‘Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, wat altyd by my geëet het, het my in die rug gesteek (letterlik: ‘het sy hakskeen teen my opgelig’ – sy rug op sy vriend draai en wegstap). Jesus sien Judas se verraad as ‘n vervulling van die Skrif (13:18).  Hy weet Hy is op sy lydensweg na die kruis om die sonde van die wêreld te dra.   

 

6:71 Johannes gee die naam van die verraaier as Judas, die seun van Simon Iskariot (‘man van Keriot’, in die gebied van Juda; Josua.15:24). Hy is die enigste van die twaalf wat nie van Galilea af kom nie, maar soos Jesus in Judea gebore is. Johannes voeg by dat Judas een van die twaalf was, een van die vertroude binnekring, om daarmee die afskuwelikheid van die daad skerp in die lig te stel. In Jn 12:4,6 verwys Johannes weer na Judas wat Jesus sou verraai, en noem hom ‘n dief, wat nogal die dissipelgroep se beursie gehad het en van die bydraes gevat het. Johannes 18:2-5 noem ook dat Judas die soldate en wagte wat Jesus gaan vang het na Getsemane gelei het.

 

Die Evangelie volgens Johannes het nie die instelling van die nagmaal deur Jesus soos Mt 26:26-30; Mk 14:22-25; Lk 22:31-23; 1 Kor 11:23-25 nie. Maar wat die wese van die nagmaal is, word in Jn 6 duidelik uiteengesit, met die reaksie van Jesus se volgelinge op sy openbaring van Homself as die Brood wat lewe gee – party glo, ander nie. Met kos- en drank -metafore word die intieme geloofsverhouding tussen Jesus en die gelowiges verduidelik: wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom (v56). Met Jesus wat in ons bly, hét ons reeds die ewige lewe (vv57,58), want Hy ís die lewe (vv47-51). Hy bly in ons deur die Heilige Gees wat in ons kom woon (v63). Ons bly in Hom deur in Hom te glo en Hom gehoorsaam te volg (vv29,45,57).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...