Die Eerste Brief van Johannes (2)

image_pdfimage_print

Die Eerste Brief van Johannes (2) – Jan van der Watt

Ons begin nou in alle erns met ons studie van 1 Johannes.

Deel 1: Uit god se hart van liefde—’n kerk gebore

Hoofstuk 1: Pasop vir dodelike dwalings

Wie is die antichris? En wie is die ware Christen? Die onderskeid raak ons elkeen op die een of ander manier. Selfs baie mense wat vir Jesus aanhang, is antichriste.

Om ’n reis na die gemeente aan te pak aan wie Johannes sy eerste brief geskryf het, is ’n avontuur. Dit is byna asof ’n mens in ’n tydmasjien klim en twee duisend jaar in die geskiedenis teruggaan.

 

Daar in Efese—waar die gemeente waarskynlik gewoon het—vind jy mense wat anders gelewe en gedink het as wat ons dit vandag doen. Die mense het dinge geglo wat vir ons snaaks mag klink.

Tog, as ons so tussen 90 en 100 n.C. in Efese uit die tydmasjien klim, is daar soveel dinge wat vir ons so bekend lyk. Oor twee duisend jaar het die mens maar baie dieselfde gebly. Ons, vandag, trek wel anders aan as in daardie tyd, ry vinnige motors, praat met telefone en kyk televisie, maar as mense is ons steeds baie dieselfde.

Die avontuur wat vir ons voorlê wanneer ons 1 Johannes lees, is om uit te vind hoe God deur sy boodskap aan daardie mense ook direk met ons praat.

 1.   Ons toer deur die gemeente

Die gemeente wat ons in Efese teëkom, is baie interessant. ’n Groot makrogemeente is dit beslis nie. Hulle is maar ’n handjie vol wat gereeld in verskillende huise deur die stad bymekaarkom. As hulle in die oggend markplein toe gaan, word hulle verswelg tussen die massa mense voor die groot standbeeld van die keiser.

“Ons is baie spesiaal!” vertel die gemeente

Die massa mense van Efese glo die keiser is bomenslik. Hy is magtig en doen immers vir hulle soveel. Hy beskerm hulle en maak dit moontlik dat hulle in vrede in die stad kan bly. Daarbenewens is hier ook ’n menigte ander gode wat op allerhande maniere by die stad betrokke is. So glo hulle.

Die Christene sê egter hulle het iets wat hulle tussen die groot skare heidene met al hulle gode spesiaal maak: húlle ken die ware Seun van God.

Hulle weet ook Hy gee nie net vir hulle gewone aardse dinge nie! Nee, Hy sorg baie beter vir hulle as wat die keiser ooit kan doen.

Dit is Hy wat vir hulle die weg kom oopmaak het na die lewende God.

Deur Hom kan hulle die krag en vrede van die ewige lewe deur hulle voel vloei.

Kyk wat sê Johannes in 1 Joh. 5:11–13 oor die ewige lewe en die Seun van God. Lyk dit of hy vreeslik ruimte laat vir ander godsdienste? Verduidelik waarom jy so sê. (Skryf die redes in jou boek.)

Hierdie wete dat hulle baie spesiaal is, maak hulle baie geheg aan mekaar. Dit is soos ’n onsigbare, maar onbreekbare band wat hulle tussen die groot skare heidene saambind.

Maar, het alles so goed gegaan?


Ons eerste besoek

Ons is skaars uit die tydmasjien en hier sluit ons by ’n groepie “Christene” aan! Dit is met ’n gevoel van opgewondenheid dat ons die deur sien opgaan en ons ingenooi word.

In die huisie sit ’n groepie mans en vroue rondom ’n vuurtjie bymekaar. Hulle is druk in gesprek.

Hulle praat veral oor Jesus, wie Hy was. Die voorganger vertel uitvoerig hoe Jesus uit die hemel afgekom het, hoe Hy alles voor die tyd geweet het, hoe Hy aan die kruis verheerlik is. Kopskuddend maak een van hulle elke nou en dan ’n opmerking oor wat hulle daaruit vir hulle eie lewe kan leer!

Af en toe haal die voorganger ’n boekrol uit wat mooi in ’n doek toegewikkel was en lees ’n stuk daaruit voor. Aan die gedeeltes wat gelees word, herken ons duidelik die Johannes-evangelie.

Hulle verduidelik aan ons dat hulle lankal by Johannes die evangelie gehoor het. Die Johannes-evangelie—en hulle wys na die boekrol in die doek—is hulle bron (“Bybel”) as hulle oor iets onseker is of nie weet wat om te doen nie.

Toe hulle die boodskap oor Jesus aangeneem het, is hulle ook deur die Heilige Gees gesalf, soos hulle dit stel. “Soos die Evangelie sê: ‘Die Gees lei ons in die waarheid,’” voeg een van hulle by.


Twee dinge staan uit

Ons kom eers laat die aand daar weg. Twee dinge is vir ons duidelik:

Jesus, asook sy invloed op hulle optrede, is vir hulle baie belangrik.

Die Johannes-evangelie is hulle “bron van openbaring” waarin hulle voel die Heilige Gees hulle aktief lei.


Ons tweede besoek!

Na ons gisteraand by die groep Christene was van wie ons nou net vertel het, hoor ons dat hierdie nie die enigste gemeente in die stad is nie.

Dit word aand en ons kom by ’n huisie om die hoek van waar ons gisteraand was.

Die deur swaai oop en byna dieselfde toneel as die vorige aand begroet ons. Eenkant lê ’n boekrol met ’n doek oor op ’n lae tafeltjie. Selfs die temas van bespreking is dieselfde. Ook hulle gesels oor Jesus; en gebruik die Evangelie as “Bybel”.

Die voorganger is juis besig om die verhaal van die Samaritaanse vrou uit die Evangelie te vertel (Joh. 4). Die voorganger was blykbaar al self by die put van Sigar, want hy skets Jesus so lewensgetrou en menslik by die put. Hy vertel hoe warm die son daar kan wees en hoe moeg en honger Jesus op die betrokke dag moes wees. Ten spyte van sy eie menslike behoeftes was dit vir Jesus belangriker om aan die vrou die ewige lewe aan te bied.

Aan die einde van die gesprek vra hy drie jongerige seuns uit oor wat dit vir hulle alledaagse lewe beteken. Dit is opvallend hoe hulle beklemtoon dat hulle soos Jesus moet optree (1 Joh. 2:6). Hier in Efese is hulle Jesus se gestuurdes om die evangelie te verkondig (Joh. 20:21).

“Hoe?” wil die voorganger meer by hulle weet.

“Ons ken mos die waarheid, want ons is deur die Gees gesalf ,” antwoord hulle dadelik. Hulle is duidelik bewus van die teenwoordigheid van die Gees wat in hulle werk. Hulle is ook sterk daarvan oortuig dat hulle die waarheid van God self het.


Het julle die regte waarheid beet?

Die temas waaroor hulle gesels en die manier waarop hulle daaroor praat, stem merkwaardig ooreen met wat ons gisteraand gehoor het.

Een van ons vra hulle hoe hulle so seker kan wees dat hulle die “waarheid” het. “Johannes, die oudste en ons vader in die geloof, het aan ons ’n brief geskryf waarin hy ons weer daarvan verseker het!”

As ons reg onthou, was dit dieselfde Johannes wat Jesus se geliefde apostel was. Hy het ook agter die skryf van die Evangelie gestaan. Die mense vertel ook dat hierdie Johannes ’n interessante boek, Openbaring, geskryf het.

Die ware Christen is die een wat die evangelie glo soos dit

oorgelewer is. Hy glo in Jesus as die Messias, die Christus wat mens

geword het en ons verlos het.

Hulle haal onder die doek nog ’n boekrolletjie uit wat heelwat kleiner as die Evangelie is. Versigtig word dit oopgerol. Ons herken dit as die brief 1 Johannes wat ons in ons Bybel het. “Hier,” sê een, “hier staan dit: ‘Julle ken die waarheid’” (1 Joh. 2:21).

Hulle is duidelik trots op die brief en rol dit weer versigtig toe. “Hierdie brief het die oudste Johannes aan ons gestuur nadat ons en daardie ‘antichriste,’ wat hulleself kamma Christene noem, hewig gebots het. Hulle het gesê ons is op die verkeerde pad en toe was dit al die tyd hulle wat met ’n dwaalleer besig was! Ons het immers dadelik vir Johannes ’n boodskap gestuur en hom gevra wat die waarheid is. Ja, ons het hom in soveel woorde gevra wie en wat ’n ware Christen is. Hier, in hierdie brief, het hy ons reguit geantwoord.

“Daardie ander groep wil dit nie aanvaar dat hulle verkeerd is nie. Hulle hou vol met hulle dwaalleer. Nou groet ons hulle nie eens meer op die markplein nie en maak nie eers die deur van die huis vir hulle oop nie. Ons beskou hulle nie meer as Christene nie,” vertel die voorganger.

“Is dit nie ’n bietjie onvriendelik nie?” wil ons weet.

“Nee, Johannes self het gesê ons moet dit doen. As hulle hier inkom, moet ons saam met hulle eet en gesels. En dan lyk dit of ons al die dwaallerings goedkeur! En dit kan tog nie. Daarvoor is die waarheid tog te kosbaar.”

Vir interessantheid, slaan 1 Joh. 2:18–19 en 2 Joh. :10–11 na en kyk hoe skerp Johannes oor sulke dwaalleraars praat. Hoe sou jy sy reaksie teen die dwaalleraars opsom? (Nog iets vir jou boekie.)

“Wie is hierdie ‘antichriste’?” vra ons taktvol, onbewus dat die grootste skok nog op ons wag.

“Hulle bly hier om die hoek,” kom die antwoord.

Dit is sowaar die groep by wie ons die gisteraand gaan kuier het! Kon dit waar wees? Waarom noem een groep Christene ’n ander groep Christene ‘antichriste’?


 2.   Deur ’n raaisel na ’n antwoord

Ons ervaring met die twee groepe Christene laat ons oorbluf. Waar lê die verskil, wonder ons! Wat hulle gesê het, het immers so dieselfde geklink. Watter verskille kan so groot en belangrik wees dat dit die kerk, die gesin van God, so uitmekaar kan ruk?


Ons raaisel

Hoe kan die Christene toelaat—juis terwyl hulle in Efese so in die minderheid is—dat hulle in twee skeur?

  Immers, beide groepe gebruik die Evangelie as bron vir wat hulle sê.

  Daarmee saam is hulle nie skaam om te sê dat hulle deur die Heilige Gees gesalf is nie.

  Beide groepe praat oor Jesus en oor wat hy vir hulle alledaagse lewe beteken.


Alles begin in die bad!

Hoewel daar oënskynlik ooreenkomste is, blyk dit duidelik dat daar ook verskille is. Ingrypende verskille, soos ons uit 1 Johannes kan aflei.

Om die verskille tussen die twee groepe presies te verstaan en in te sien waarom dit so ingrypend is, is die volgende agtergrondinligting handig.

Daar was ’n beweging wat in die eerste eeu nog in sy kinderskoene was—ons noem die beweging die gnostiek. Later sou hierdie beweging vir die kerk in die algemeen probleme verskaf en sou die kerk hom ook formeel van hierdie beweging distansieër. Dit is ’n denkrigting wat na alle waarskynlikheid verantwoordelik was vir die probleme waaroor dit in 1 Johannes gaan.

 

Dit is bekend dat daar in Efese ’n belangrike geleerde, Serintus, was wat gnosties verwante leerstellings verkondig het.

 

Die interessante verhaal word vertel van Johannes wat juis eendag in Efese op pad was na die publieke bad. Iemand sê toe vir hom dat Serintus ook in die bad is. Hy vlieg toe om en sê dat hy vir die duiwel vlug.

 

In daardie tyd het elke huis nie ’n eie bad gehad nie. Daar was groot komplekse deur die Romeine opgerig wat eintlik ’n groot ontspanningsoord vir die mense was. Daar was verskillende baddens wat van koue tot heel warm water gehad het. Die mense kon byvoorbeeld ook op die terrasse ontspan. Dit was ’n groot samekomsplek in die ou tyd en natuurlik ook die groot geselsplek.

Hierdie agtergrond is nuttig om 1 Johannes beter te verstaan. As ’n mens jou verbeelding so ’n bietjie kan gebruik, is dit maklik om te verklaar hoe ’n deel van die gemeente onder die invloed van Serintus se gnostiek kon gekom het.

Kom ons stel ons voor dat die gemeentelede van tyd tot tyd in die bad gesit het terwyl Serintus ook daar was.

Dit kon seker ook op die markplein gewees het. Daar was ook baie kontak met mekaar, waar godsdienstige en filosofiese sake dikwels bespreek is.

Serintus is ’n dinamiese persoon wat sy woord goed kan doen. Wat hy gesê het, het vir die gelowiges so naby geklink aan wat hulle van Johannes gehoor het, dat hulle gevoel het hulle kan dit maar glo. En dit het sommige inderwaarheid gedoen.

Die werklike angels in die argumente van Serintus het hulle egter nie raakgesien nie. Dit het hulle die afgrond in gehelp.

As ’n mens onthou dat die gemeentes nie dominees gehad het wat opgelei was nie, kan ’n mens makliker verstaan waarom gemeentelede so maklik mislei kon word. Af en toe het ’n apostel of iemand uit Jerusalem, wat iets meer geweet het, by hulle ’n draai gemaak. Intussen moes hulle maar self sien en kom klaar met die kennis wat hulle tot hulle beskikking gehad het.


Wat is sleg, en wat is goed?

Wat presies het Serintus vir hulle in die bad vertel wat hulle so op die verkeerde spoor gesit het?

Voor ons verder na Serintus se verdigsels luister, kyk ons eers na die vertrekpunt van die gnostiek:

Die gnostiek is op ’n ou mitologiese skeppingsverhaal gebaseer. Die basiese vertrekpunt was dat alle materie sleg was. Met ander woorde, alles waaraan jy kon vat, was sleg. Daarteenoor was die gees weer goed.

Op die een of ander manier het die materie in ’n stadium ’n stuk gees, bekend as “wysheid,” in die hande gekry en dit in stukkies verdeel. Die stukkies “gees” is toe in die “materie”—oftewel die menslike liggaam—as gevange opgesluit.

Die gees sit dus soos ’n gevange in ’n tronk binne-in die liggaam.

Die gees in die mens het natuurlik in die omstandighede begin traag en bedwelmd word en aan die slaap geraak. Die gees moet wakker geskud word deur die hoor van ’n boodskap of die verkryging van kennis wat van God gestuur word. Met die krag van die openbaring van bo moet die gees dan uit die gevangeskap van die vlees geruk word. So vind redding plaas.

Nou klink dit met die eerste hoor nie so vreemd nie. ’n Mens kan jou goed voorstel hoe ’n Christen saam met Serintus in die bad kon sê: “Ja, die vlees is mos sondig en sleg.” “Ja, my ‘siel’ moet gered word.” “Ja, ons het ’n Boodskapper van God nodig om ons te kom leer.” So het wat Serintus gesê het al meer aantreklik geword.

Maar, was dit nou ’n rede vir die Johannese gemeente in Efese om uitmekaar te skeur en mekaar soos vyande te behandel?


’n Klein botteltjie gif met vernietigende gevolge

Waar lê die werklike “gif” in Serintus se siening?

Die werklike probleem, soos dit ook uit 1 Johannes blyk (in 2 Johannes tree dit nog duideliker na vore), gaan oor twee sake:

Die Christologie (= die leer oor Christus), en

Die etiek (= die leer oor wat reg en verkeerd in ’n mens se optrede en gedrag is).

Dit is ook die twee sake waaroor altwee huise wat ons besoek het, gesels het. En dit is in hierdie twee sake—hulle siening van Christus, en hulle siening van wat die regte optrede vir ons mense is—waar die verskil tussen hulle lê.

Laat ons weer mooi luister na wat elkeen van die huise gesê het.


Is Jesus ’n mens of nie?

Serintus het gesê dat alle materie sleg is. Wat beteken dit ten opsigte van Jesus Christus se liggaam?

As alle materie sleg is, beteken dit eenvoudig dat Jesus Christus—wat ten volle goed was—nie werklik mens kon gewees het nie. Hy kon nie ’n menslike, slegte materie-liggaam hê nie. Dit wil sê: Christus was net skynmens; dit het net gelyk of Hy ’n mens was, maar Hy was dit nie regtig nie.

Daar is gesê dat Jesus Christus eintlik in “twee gedeel” moes word, naamlik in die mens Jesus en die Gees Christus. Soos ’n motor ’n bestuurder nodig het om iewers te kom en omgekeerd, so het die “Gees” Christus die “liggaam” Jesus nodig gehad om sy aardse bediening uit te voer. Jesus was dus nie Christus nie, maar net die manier waarop of die “voertuig” waarmee Christus op aarde rondbeweeg het.

’n Mens kan vra hoe op aarde hulle uit die Johannes-evangelie kon aflei dat Jesus en Christus nie een was nie. Hulle het dit nogal vernuftig gedoen. Kom ons kyk wat dalk gebeur het:

Hulle het naamlik gesê dat Jesus geen wonders gedoen of gepreek het vir die eerste sowat dertig jaar van sy lewe nie. Na sy doop begin Hy skielik wonders doen.

Wat het by die doop gebeur? Lees maar Joh. 1:32–34: Die Heilige Gees het op Jesus neergedaal. Nou skielik begin Jesus wonders doen en preek! Die liggaam Jesus is dus by die doop met die Gees Christus verenig.

So beweeg die Gees, Christus, dan met die liggaam, Jesus, deur Galilea en Judea.

As Jesus egter gekruisig word, staan daar in Joh. 19:30 dat Hy sê: “Dit is volbring”. Daarna laat Hy sy kop vooroor sak en dan staan daar in die Grieks: “Hy gee die G(g)ees”. Daar verlaat die Gees “Christus” duidelik weer die liggaam “Jesus”.

Jesus was dus nooit Christus nie en Christus was nooit ’n mens nie, aldus Serintus. Dit is die implikasie van Serintus se bewering dat alle materie sleg is!

Inderdaad ’n klein stelling met groot betekenis.

Kan ’n mens maar so ’n leer oor Jesus Christus aanvaar? Of anders gestel, is dit so verkeerd om so oor Jesus te dink?

Vir Johannes raak dit die wese van die Godsdiens. In sy brief (1 Joh. 4:2–3) stel hy dit so reguit as wat dit maar kan kom: “Elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie” (vgl. ook 1 Joh. 2:22; 2 Joh.:7).

Johannes verdedig die leer van Jesus op die skerpste manier moontlik. Jesus is God (1 Joh. 5:20) én mens; Hy is God wat mens geword het. Om Hom in die een of ander nie-menslike wese te verander, beteken om ’n ander Jesus Christus te aanbid.

Dit beteken om die adres van die weg na die hemel te verander!

Dit beteken ook dat Jesus nie regtig vir ons versoening met God kon bewerk nie, want Hy is nie ’n werklike mens wat as ons plaasvervanger vir ons sondes aan die kruis kon sterf nie.

So draai die mens wat hierdie leer glo in werklikheid teen die ware Jesus Christus; so word hy ’n antichris (“anti” = “teen” in Grieks).

Die felheid waarmee Johannes hier die korrekte belydenis oor Jesus verdedig, moet ons as gelowiges op ons hoede stel om nie sommer enigiets oor Jesus te glo of te sê nie. Ons moet nie ’n ander leer aanhang as die leer wat aan ons in die Skrif oorgelewer is nie (2 Joh.: 9). Mense wat dus op allerlei maniere die Jesusbelydenis verdraai, moet vermy word.

As ons nou weer na ons verhaal van die twee huise teruggaan, blyk dit dat die eerste “huisgemeente” wel oor die heerlikheid van Jesus gepraat het, maar volgens 1 Johannes het hulle die mensheid van Jesus ontken. Hulle was nie vyandig teenoor Jesus nie, maar het doodgewoon die korrekte leer oor Jesus verdraai. Johannes se oordeel is vernietigend: “Hulle is antichriste.”


Gelowige sondigheid met oorgawe

Ook wat die gedrag van mense betref, het die klein stelling van Serintus—dat materie sleg is en die gees goed—groot gevolge gehad. Ons kyk na twee implikasies.

Die eerste duidelike gevolg van die gnostiese stelling is die praktyk om die liggaam te verwaarloos:

As die liggaam van die mens (materie) sleg is, sal ’n mens mos nie veel moeite doen om die liggaam vreeslik te versorg nie, veral nie as dit die liggaam van iemand anders is nie. Waarom moet jy ’n liggaam wat buitendien sleg is, versorg?

In dié verband kry ons ’n interessante uitspraak in 1 Joh. 3:17 waar Johannes sê: “Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie—hoe kan die liefde van God in hom wees?” ’n Mens moet jouself hier afvra hoe dit moontlik is dat Johannes so iets aan ’n gemeente skryf, veral as die gemeente maar uit ’n handjie vol mense bestaan.

Dit kan eintlik maar net beteken dat daar mense was wat hulle broers sien honger ly en koud kry het. Hulle het eenvoudig—sonder om deur die ander se nood aangespreek te voel—verby daardie mense geleef sonder om te help.

Die rede kan waarskynlik daarin lê dat hulle gedink het dit is nie nodig om die liggaam van ’n ander te versorg nie. En ’n mens hoef nie ’n groot geleerde te wees om te weet dat dit absoluut die teenoorgestelde van liefde is nie (vgl. ook Jak. 2:14–17). Daarom sê Johannes dat die liefde van God nie in iemand kan wees wat so optree nie.

  • Waarom dan nog die slegte liggaam versorg?

Daar was ook skynbaar mense wat beweer het dat hulle wonderlike Christene is, dat hulle aan God deel het, maar dan soos heidene geleef het (1 Joh. 1:6). Hulle sou dan ook nog, ten spyte van hulle verkeerde optrede, beweer dat hulle nie sonde het nie (1 Joh. 1:8 en 10). Hoe is so iets moontlik?

Volgens die gnostiese leer moet die mens se “gees” uit sy gevangenskap binne-in die mens se liggaam deur ’n woord van God “verlos” word. As die “gees” dan van die liggaam verlos is en weer met God verenig is, beteken dit dat die liggaam niks meer aan die gees se saligheid kan verander nie. Die liggaam kan dan maar onsedelik wees, baklei, dronk word en so aan. Dit beïnvloed nie die “gees” wat veilig by God is nie. Alleen die liggaam—wat buitendien sleg is—word geaffekteer. En as ’n appel nou heeltemal vrot is, kan hy nie vrotter nie. Die sondes wat die liggaam doen, “tel” eintlik nie.

Die mens wat in Jesus, die Christus glo, besef hy moet as gees en

liggaam saam in liefde teenoor sy hemelse Vader, maar ook teenoor

sy naaste lewe.

Daarom kan die mense sê dat hulle (hulle gees) nie “sonde” het nie. Net so kan hulle sonder om te blik of te bloos sê dat hulle in noue verbondenheid met God leef (hulle “gees” is mos by Hom) terwyl hulle liggaam nog in die duisternis wandel!

Vir hierdie soort gedagtes is Johannes ewe-eens nie te vind nie. Mense wat so dink, maak God tot ’n leuenaar en die waarheid is nie in hulle nie (1 Joh. 1:6, 8 en 10).

Jy kan nie die mens in twee deel nie. Die mens is ’n eenheid, liggaam en gees, en tree as eenheid op. Om te sê die liggaam tree so op, maar dit het niks met die gees te doen nie, berus op ’n leuen en is ’n leuen.


Johannes se brief eien die ware Christen

Dat die mense uit die eerste huis, met klein veranderings wat hulle aan die evangelieboodskap gemaak het, eintlik op die verkeerde pad beland het, is duidelik.

Gelukkig het ons vandag nog die brief wat Johannes aan sy gemeente geskryf het om hulle en ons vandag van sulke soort dwalings te bewaar.

Kortom, as ons vra: “Wie is ’n ware Christen?” sou Johannes antwoord: “Die ware Christen is die een wat die evangelie glo soos dit oorgelewer is. Hy glo in Jesus as die Messias, die Christus wat mens geword het en ons verlos het.

“Die mens wat in Jesus, die Christus glo, besef hy moet as gees en liggaam saam in liefde teenoor sy hemelse Vader, maar ook teenoor sy naaste lewe.”

In die volgende hoofstukke gaan ons verder saam ondersoek instel na en dink oor wat Johannes alles in sy brief aan die groep gelowiges in Efese oor ’n ware Christen gesê het.


Moenie dat die waarheid oor Jesus Christus wat God aan ons geopenbaar en aan ons laat oorlewer het, by jou verbygaan sonder dat dit jou opnuut aangegryp het nie.

Dink oor hoe belangrik studie en kennis is van die Woord en waarheid wat God aan ons bekend gemaak het.

Sê vir God dankie vir die waarheid oor Jesus Christus wat Hy aan ons geopenbaar het. Vra Jesus dat Hy jou deur sy Heilige Gees sal bewaar van dwaalweë, en dat jy elke dag al duideliker volgens die waarheid in sy Woord sal leef.

 

Skrywer: Prof Jan Van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...