Die Jode weier om te glo (5:41-47)

image_pdfimage_print

Die Jode weier om te glo (5:41-47) – Francois Malan

5:41,42 Die Jode het nie die woord van God in hulle nie (5:38), ook nie die lewe van God nie (5:40), of die liefde van God nie (5:42).  Jesus weet dat hierdie beskuldigings oor wat hulle nie het nie die Jode nog meer vyandig teenoor Hom maak. Maar Hy is nie oor die eer van mense gesteld nie, Daarom kan Hy vry uit die Jode wys waar die fout in hulle godsdiens is. Hy ken hulle en weet dat ware liefde vir God by hulle ontbreek. Hulle is so gesteld op hulle godsdiens, maar deur hulle godsdienstige ywer sê hulle dat Jesus godslasterlik praat wanneer Hy God as ‘My Vader’ noem (5:18).

5:43 Jesus het in die Naam van die Vader gekom – dit beteken dat Hy in opdrag van die Vader gekom het, met die gesag van die Vader, namens die Vader, om die wil van die Vader uit te voer; in Hom is die Vader teenwoordig. Die Jode weier om Hom te aanvaar as God, wat in die Naam van die Vader gekom het.  Maar wanneer iemand in sy eie naam kom – met sy eie volmag optree – word die Jode deur so iemand se woorde en optrede gefassineer, en volg hom sonder kritiek, want hy verwoord gewoonlik ‘n sentiment van sy hoorders. Jesus se boodskap gaan juis teen die mens se selfsug en eiegeregtigheid in, en word daarom verwerp.

 

5:44 Die eer van God en die eer van mense word teenoor mekaar gestel as motief vir ons optrede. Die Jode en veral die Fariseërs was gesteld op die eer van mense (Mat 6:1-6; 23:5). Die Vader word genoem ‘die enigste God’. Die Jode roep die Here daagliks aan met die belydenis: Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here (Deutr. 6:4). Daarby is die opdrag gegee: Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou kragte (Deutr 6:5). Maar dit is nie moontlik as jou optrede bepaal word deur die eer wat mense vir jou sal betoon, of wat hulle van jou sal dink nie. Om van mekaar eer aan te neem maak dit onmoontlik om in Jesus te glo en sy weg van selfverloëning te volg.

 

5:45 Jesus is nie hulle aanklaer voor die Vader nie. Sy aanklag teen die Jode is ‘n waarskuwing en oproep tot bekering, en dit doen Hy dikwels. Die Jode het gehoop dat Moses hulle voorspraak by die Vader sal wees – daarmee word verwys na die eerste vyf boeke van die Bybel, veral na die wette wat hulle probeer vervul om van God ‘n gunstige oordeel oor hulle lewe te kry. Maar in plaas daarvan dat hulle goeie werke volgens die wet van Moses tot hulle vryspraak deur God sal lei, sal Moses se geskrifte hulle juis aankla, dat hulle dié wette oortree het, deur hulle self daarmee te regverdig. Al is hulle so trots op die besit van die Torah (die eerste vyf boeke), het dit hulle nie tot liefde vir God gelei nie, maar  tot trots en liefde vir hulle self.

 

5:46 Hulle ondersoek die geskrifte van Moses daagliks, maar kyk vas teen wette, sonder om die belofte van verlossing en ‘n Verlosser te glo; watter hoop is daar dat hulle Jesus se woord sal glo? Hy praat die woorde van God wat in die Skrif opgeteken is (30,37-39). Hulle verwerping van Jesus en sy woord is ‘n verwerping van God en sy woord, ook die God van die Ou Testament en sy woord deur Moses. Daarom sal Moses (die Torah en die hele Ou Testament) die ongelowige Jode aankla

 

Terugblik oor hoofstukke 1-5 .

 

Die overture het Jesus aangekondig as God, die Skeppingswoord, die enigste Seun van die Vader, wat uit genade mens geword het en met die waarheid oor God se wet onder ons kom woon het (1:1-18) – die Jode moes leer die enigste Here van Deutr.6:4 is ‘n Vader met ‘n enigste Seun as medeskepper.

Die eerste dissipels volg die Lam van God as die verwagte Messias, die Seun van God, die Koning van Israel (1:29-51) – Hy kom Ou-Testamentiese offers vervul en die Joodse offerkultus vervang.

Hy verander die Joodse reinigingswater in goeie wyn en reinig die tempel, wat Hy vervang met sy opgestane liggaam vir toegang tot God (2:21) – Hy vervang die Joodse reinigingsgebruike en bring vir die Jode ‘n  ‘n nuwe manier om God te dien. 

            Uit liefde vir die wêreld stuur God Hom om die ewige lewe oop te maak vir die mense wat deur die Gees van God van Bo af weer gebore word en tot geloof gelei word in die enigste Seun van die Vader (3:1-36) – kindskap van God word bewerk deur God die Heilige Gees.

Die heidense Samaritane luister na Hom en glo dat Hy waarlik die Messias is, die Verlosser van die wêreld; ‘n heidense regeringsamptenaar met sy hele huisgesin kom tot geloof in Jesus, wat deur sy woord die lewe gee aan ‘n sterwende kind (4:1-54) – God se doel met Israel is steeds: ‘in jou sal al die volke van die aarde geseën wees (Gen.12:3).

Die genesing van ‘n jarelange lamme op die sabbat lei tot ‘n diepgaande gesprek met die ongelowige Jode oor die eenheid tussen die Vader en die Seun (5:1-47). Die Seun doen niks sonder die Vader nie, en alles wat Hy doen, is werke van die Vader. Dit sluit in die opwekking van die mensdom en die oordeel, wat aan die gelowiges die ewige lewe gee. Die Seun is geheel en al gehoorsaam aan die Vader, maar ook een met die Vader. God se rus op die sewende dag beteken nie ledigheid nie, maar voortgang van die onderhouding van die skepping. Die versorging van die skepping op die sabbat is nie ‘n skending van die sabbat nie, so ook Jesus se genesing van lydendes, sy bevryding van dié wat deur die sonde gebind is, sy herskepping van die hele skepping. As die Lig in die wêreld skyn Hy oor elke dag en nag. As beeld van die werkende God is die mens geskep om te werk, vir liefdesdiens aan God en medemense – Jesus verander die Joodse opvatting oor die sabbat, en verlos die arbeid van die vloek van Gen 3:17-19.   

 

Skrywer:Prof Francois Malan 

image_pdfimage_print

You may also like...