Die Evangelie volgens Lukas: Jesus verskyn voor Herodes (Luk 23:6-12) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Die berig verskyn slegs in Lukas en Lukas verwys ook daarna in Handelinge 4:27, nadat Ps 2:1-2 daar aangehaal is. Volgens Luk 13:31 en Hand 4:27 was Herodes Antipas ’n vyand van Jesus. Ná die dood van sy pa, Herodes die Grote, het Antipas oor Galilea en Perea geheers van 4 v.C. – 39 n.C. Aan die begin van Lukas is daar twee getuies dat Jesus die beloofde Messias is, die vrome Simeon en Hanna (Luk 2:28-38). So is daar aan die einde van hierdie Evangelie twee getuies, Pilatus en Herodes, wat verklaar dat Jesus se Messiasskap geen politiese heerskappy is nie (Luk 23:14-15). Dat sy twee vyande die getuies van sy onskuld word, wys na die oorwinning van die mag van Jesus se martelaarskap (martus getuie, die woord word met die vervolging van die Christene gebruik vir ’n bloedgetuie; Openb 17:6 praat van die bloed van die getuies vir Jesus). Jesus is ’n onskuldige martelaar. In 1 Thessalonisense 2:15 verwys Paulus daarna dat die Jode die Here Jesus doodgemaak het.

 23:6-7 Toe Pilatus hoor dat Jesus van Galilea af kom, stuur hy vir Jesus na Herodes (anapempō aanstuur na ’n ander of hoër gesag), wat miskien vir die Paasfees na Jerusalem gekom het. Sy pa, Herodes die Grote, was ’n Idumeër (’n afstammeling van Esau), Antipas se ma Malthake ’n Samaritaan. Sy vrou Herodias was die dogter van sy halfbroer, Aristobulus IV. Moontlik het hy na die Paasfees gekom om sy Joodse onderdane se goedgesindheid te wen deur deel te neem aan hulle fees, en om raakgesien te word deur die duisende mense wat na die fees gekom het.     

 23:8 Lukas het in 9:9 reeds berig dat Herodes Antipas probeer het om Jesus te siene te kry. Hier sê Lukas dat hy baie bly was om Jesus te sien omdat hy ’n geruime tyd al vir Jesus wou sien, en nuuskierig was om een of ander wonderteken (sêmaion ’n gebeurtenis met ’n spesiale betekenis) van Jesus te sien. So het die mense in Luk 11:16  ook ’n teken uit die hemel gevra om Jesus te toets. Lukas praat egter liefs van die kragtige dade, dunameis wat Jesus gedoen het, en nie van tekens, soos die mense vra nie.

 23:9 Hoewel Herodes vir Jesus uitvoerig (met baie woorde) ondervra het, het Jesus niks gesê/geantwoord nie. Al sy woordryke versoeke stuit op Jesus se swye. Wat kan Jesus vir ’n iemand sê wat net ’n ligte sensasie soek? Jesus gebruik nie sy mag om Herodes se nuuskierigheid te bevredig of om Homself los te praat nie. Jesus swyg as die Kneg van die Here wat soos ’n skaap stil is voor sy skeerders en nie kla nie, en so vervul Hy Jesaja 53:7. Herodes is die enigste persoon vir wie Jesus in die Evangelies niks sê nie.

 23:10 Die leierpriesters was kwaad omdat Hy hulle besighede uit die tempel uitgejaag het, en die skrifkenners teen wie Jesus die volk gewaarsku het (Luk 20:45-47), het sterk aanklagte teen Hom gemaak. Die skrifkenners sou Hom seker aankla vanuit die Skrif soos hulle dit verstaan, dat Hy die volk aanhits met sy leringe wat so verskil van hulle eie verklarings (Luk 23:5), en die leierpriesters, wat vir die volk moet intree by God, sou Hom seker voor Herodes aankla van opstand teen gesag (Luk 20:1-8 teen hulle gesag; 23:2 teen die gesag van Rome).

 23:11 Gefrusteerd met die hopelose vent wat hom nie antwoord nie, probeer Herodes Jesus belaglik maak. Op Jesus se swye antwoord hy met veragting. Vir hom is Jesus nie ’n opruiende vegter nie, maar ’n onskadelike dwaas. Daarom spreek hy geen oordeel oor Jesus uit nie. Aangesien Herodes en sy groepie soldate (strateuma) saam met hom, Jesus geminag het (eksoutheneō om iemand of iets te verag omdat dit waardeloos of geen waarde het nie), het hulle Hom belaglik gemaak deur Hom met ’n glansende kleed om, terug te stuur na Pilatus (lampros glinsterend of kostelik, spoggerig of oppervlakkig. Die hele sin het slegs ‘terugstuur’ as selfstandige werkwoord). Die kastige deftige kleed het sy koningskap belaglik gemaak. Met die blinkende mantel om, as spotkoning, kan Pilatus sien hoe dwaas Herodes die aanklag vind dat Jesus ’n koning is. Vir hom is Jesus nie meer as iemand vir wie ’n mens kan lag nie. Daarmee is die verhoor afgehandel en maak dit van Herodes ’n getuie dat Jesus nie ’n bedreiging is vir die Romeinse ryk nie. Die verskriklike is dat Herodes voor die Seun van God, sy Skepper, net met Hom kan gekskeer.

  23:12 Daar is tog politieke wins uit die hele proses. Herodes en Pilatus wat vroeër vyandiggesind was teen mekaar, word mekaar se vriende op hierdie dag nadat Jesus voor albei verskyn het. Vir die kinders van Herodes die Grote was die Romeinse goewerneur in Judea en Samaria in die plek van hulle broer Argelaus onaanvaarbaar, en die verhouding van Rome se goewerneurs en die viervorste oor die res van Herodes die Grote se ryk, was sleg. Maar dit gebeur omdat Pilatus die Galileër Jesus na Herodes gestuur het, en daardeur die reg van Herodes oor sy onderdane erken het, al was dit om uit ’n moeilike situasie los te kom. Met sy terugstuur van Jesus bewys Herodes sy erkenning van Pilatus om die tameletjie met die kwaai leiers in Jerusalem op te los. Deur hulle wedersydse erkenning van mekaar word hulle twee vriende van mekaar, maar ook mede-skuldiges aan die kruisdood van Christus. Ps 2:2 sê: ‘die regeerders span saam teen die Here en sy gesalfde,’ aangehaal in Hand 4:26-28 en hier toegepas op Pilatus en Herodes.

image_pdfimage_print

You may also like...