Die Evangelie volgens Lukas: Profetiese rede: die koms van die Seun van die Mens (Luk 21:25-26) – Francois Malan

image_pdfimage_print

21:25-26 Hier gaan Lukas oor van die nabye toekoms van Jerusalem en die tempel, na die wederkoms van die Seun van die Mens. Daarna het Luk 17:24 reeds verwys dat dit soos ’n weerligstraal die hemel van die een kant na die ander sal verlig. Die einde van die tyd van Israel het gekom met hulle smarte tydens die verwoesting van die tempel en van Jerusalem, omdat hulle Jesus nie aanvaar het as hulle Messias, die Gesalfde Verlosser wat van God af gekom het, nie. Die einde van die nasies se tyd breek eers aan met hulle nood wanneer Christus in heerlikheid kom, omdat hulle nie die evangelie van Jesus aanvaar het nie.

 Terwyl Markus 13:24-25 praat van die son en maan wat sal verduister, sterre wat val, hemelse kragte wat geskud word, praat Lukas slegs van tekens in die son, maan en sterre, wat ’n gedreun en hoë golwe in die see sal veroorsaak wat die nasies beangs en ontsteld sal maak, want dit lyk soos ’n tweede sondvloed. (vgl. die voorspelling daarvan in Jes 34:2-4; Joël 2:10-11; Haggai 2:6,21). Lukas voeg by dat die mense sal flou val van vrees en onsekerheid oor wat met die wêreld gaan gebeur, wanneer die kragte van die wêreld geskud word; die ou bekende orde van die wêreld gaan dan verby, so asof dit weer woes en leeg word soos aan die begin (Gen 1:2). Jesaja 34 praat van hemelliggame wat wegsmelt en die hemel wat soos ’n boekrol toegerol word deur die Here se toorn teen al die nasies.

 21:27 ‘En dan sal hulle die Seun van die Mens op ’n wolk sien kom…’ Jesus haal hier vir Daniël 7:13 aan. Hy vul die voorspelling van sy wederkoms aan met die woorde ‘met die grootste krag en heerlikheid (soos ook in Mark 13:26 en Matteus 24:30). Hy kom met die krag en heerlikheid van God. So sal elke oog Hom sien. Hy kom as die goddelike Regter oor die wêreld, met die krag om te oordeel en te veroordeel in sy goddelike heerlikheid. Matteus voeg by dat Jesus gesê het al die stamme van die aarde sal rouklaag. Luk 23:30: ‘dan sal hulle aan die berge sê: Val op ons! en aan die heuwels: Bedek ons!’ (soos in Hosea 10:8).

 Te midde van die duisternis van die oordeelsdag kom die verskyning van die Seun van die Mens as die nuwe skeppende krag met sy Lig wat die duisternis verslind (vgl. sy glansende heerlikheid, in Luk 9:32). Dit sal die teken wees wat hulle gevra het (Luk 11:16; 21:7) die lig vir die nasies, waarvan Simeon gesing het (2:32). Die Seun van die Mens is self die teken waarvoor die Jode gevra het.

 21:28 Terwyl die nasies van angs en ontsteltenis bewe en wegkruip, kom die oproep na die uitverkorenes van God om op te staan en hulle koppe op te lig om die nabyheid te herken van hulle bevryding (apolútrōsis soos ’n slaaf vrygestel word). Hulle vryheid breek aan met die Seun van die Mens se koms met groot krag en heerlikheid. Soos slawe wat bevry word van die slawerny waaronder hulle gebuk gaan, word die gelowiges bevry van hulle nietige bestaan, om as kinders van God bevry te word van hulle swakheid, sondigheid, verganklikheid en sterflikheid (vgl. 1 Kor 15:51-55). Die einde kom nie met die val van Jerusalem nie, maar met die koms van Christus. 

 Profetiese rede: Die les van die vyeboom as die rede vir gerustheid (Luk 21:29-33)

 21:29 Die gelykenis bevestig die vorige woorde van Jesus met ’n beeld as versekering van die bevryding van die gelowiges met die Seun van die Mens se koms in groot krag en heerlikheid. Twee maal word hulle opgeroep om te kyk: kyk na die vyeboom en al die bome, en in vers 31 Kyk wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Deur fyn op te let op sy woord sal hulle kennis verryk word oor die koms van die Here.

 21:30 Wanneer julle die vyeboom, wat eerste in die lente bot, en al die bome wat die vyeboom volg, sien, hoe dit eers knoppe stoot en dan blare kry, weet julle dat die somer naby is.

 21:31 So moet julle ook die dinge rondom die koms van die Seun van die Mens en sy woorde oor sy koms in groot krag en heerlikheid raaksien as die tekens dat die koninkryk van God naby is. Dan sal Hy die heerskappy oor die wêreld totaal oorneem. Die koms sal ook plotseling wees, soos Jesus in Luk 17:24 gesê het, soos die somer in Palestina skielik aanbreek. So seker as die somer kom, so seker kom Jesus weer. Met dié sekerheid kan sy volgelinge lewe. Jesus se woord gee groter sekerheid as wat uiterlike tekens kan gee. Elke lente is egter ’n versekering van die somer van sy wederkoms met ’n nuwe lewe vir sy volgelinge.

 21:32 ‘Hierdie geslag’ verwys hier duidelik na die hele menslike geslag wat deur al die katastrofes heen voortbestaan (vgl. ook Luk 21:35-36 wat in die rigting wys). Die woord genea ‘geslag’ kan, soos hier, beteken: ’n onbepaalde tyd wat ten nouste verbind is aan die menslike bestaan). Jesus gee die versekering (amên) dat hierdie menslike geslag nie tot ’n einde kom voordat al hierdie dinge, sy wederkoms om te oordeel en om te bevry, gebeur het nie. Die verkeerde interpretasie van ‘hierdie geslag’ in hierdie teks, as die geslag van Jesus se tydgenote of tydgenote van sy dissipels, het aanleiding gegee tot die verwagting dat Jesus nog in die leeftyd van hulle tydgenote sou terugkom.  

 21:33 Die woorde van Jesus, wat nooit ongeldig word nie, is die grondslag van die gelowiges se vertroue en sekerheid. In die woorde van Jesus kan sy volgelinge elke dag hulle leiding en versekering kry. Anders as die profete, sê Jesus nie: ‘so sê die Here’ nie. Hy is self die Woord van God (Joh 1:1): ‘Die hemel en aarde (wat deur Hom geskep is en onderhou word) sal tot ’n einde kom (parerchomai ophou om te bestaan), maar my woorde sal beslis nie tot ’n einde kom nie’ sê Jesus. Na sy verhoging aan die regterhand van die Vader sal Hy die goddelike oordeel oor ongelowiges voltrek en die getroues daaruit red.

image_pdfimage_print

You may also like...