Die gemeente moet groei

image_pdfimage_print

A good deed performed for others to see, is not truly a good deed – Chinese spreekwoord

Die gemeente moet groei

Baie gemeentes lyk gesond van buite, maar die binnekant vertel ‘n ander storie. Dit wat ‘n gemeente groot laat groei, laat dit nie noodwendig gesond groei nie. Natuurlik sou dit verkeerd wees as Christene nie hulle gemeente wil sien groei nie. Maar wat beteken gemeentegroei? Die groei in meeste megagemeentes is nie as gevolg van mense wat tot bekering kom nie, maar as gevolg van mense wat van ander gemeentes kom – volgens David Dunlap is dit 80%.

C. Peter Wagner, ‘n bekende persoon in die gemeentegroei beweging, sê:  “I don’t think there is anything intrinsically wrong with the church growth principles we’ve developed … yet somehow they don’t seem to work.” Hoekom nie? Baie kerkleiers benader die gemeente asof dit ‘n besigheid is. Ons praat selfs van kliënte in plaas van lidmate en van lidmate wat dienste verbruik.

 

In ‘n onlangse opname is 1 000 kerkgangers gevra: Hoekom bestaan die kerk? 89% sê die doel van die kerk is om aan my en my familie se geestelike behoeftes te voorsien! Net 11% sê die doel van die kerk is om die wêreld vir God te wen. As dit so voortgaan eindig ons met kliënte in plaas van dissipels. Ons mag ‘n ouditorium vol maak, maar ons sal nooit die wêreld vir God omkeer nie.

Ons moet bewus wees dat ons strategieë, maak nie saak hoe goedbedoeld hulle is nie , ons van koers af kan neem. Greg Laurie het vier mites oor gemeentegroei geïdentifiseer. Hierdie is gewilde gemeentegroei reëls wat of verkeerd toegepas of oordryf word.

Mite #1: As dit ie mense inbring, is God tevrede

Dit gaan nie oor wat werk nie, maar oor wat God tevrede stel. Hoekom? As dit God tevrede stel, sal dit werk. As daar ooit ‘n gemeentegroeiplan was wat gewerk het, was dit die een wat die vroeë Christene gebruik het. Die gemeentes het eenvoudig ontplof. Hoekom? Want hulle het geweet hoekom hulle hier op aarde was en wat hulle veronderstel was om te doen. Lees weer Handeling 2:42 – 47. Hulle het op vyf prioriteite gefokus: aanbidding, gebed, evangelisasie, leer en liefde. Hierdie gedeelte eindig: En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg. Hulle het geen probleem met groei gehad nie, want dit Here het daarvoor gesorg. Gemeentegroei is God se besigheid – nie ons s’n om te beheer nie.

Mite #2: Hoe minder konfronterend die boodskap, hoe beter

Ons wil kerklos mense in die kerk kry. In ‘n opregte poging om te groei, vervang ons soms oproepe met vermaak en die evangelie met allerhande foefies. As mense na die erediens wegloop met ‘n goeie gevoel, maar geen van idee wie Jesus is nie, dan het ons groot probleme. Kompromieë beteken dat ons stilbly as ons moet praat omdat ons bang is ons gee aanstoot. Ons kan natuurlik dramas en video’s gebruik, maar ons moet seker maak die volle evangelie word verkondig – insluitend sonde, oordeel en verlossing.

Mite #3: Vind uit waarvoor die gemeente honger is en gee dit vir hulle

Lidmate ontwikkel ‘n aptyt vir dit waaraan hulle gewoond is. ‘n Gemeente met ‘n dieet van voel-goed preke in plaas van soliede lering uit die Skrif, mag aanvanklik groei en selfs ‘n groot gemeente word – maar dit bly swak en onvolwasse. Baie lidmate wil voel die gemeente is probleem-vry. Tog net nie vaste kos nie. Maar net omdat ‘n gemeente ‘n aptyt vir leë kalorieë ontwikkel het, beteken nie hulle liggame het nie vaste kos nodig nie. Mense het ‘n behoefte om die betekenis van die lewe te weet – die rede vir hulle bestaan. Die antwoorde op hierdie vrae kan net in die Skrif en deur ‘n lewende verhouding met Jesus gekry word.

Mite #4: Teiken ‘n spesifieke demografiese groep

Ten spyte van hulle diversiteit van die vroeë kerk lees ons: Die hele volk was hulle goedgesind. Geen wonder hulle groei nie. Een neiging van die gemeentegroeiproses is om ‘n spesifieke groep te teiken – ontwerpersgemeentes. Elke besluit het ‘n spesifieke gebruikersgroep in gedagte. Ons moet baie versigtig wees om nie ons gemaksones as ons roeping te sien nie. Filippus gaan na ‘n Etiopiër; Petrus gaan na ‘n Romeinse offisier; Paulus gaan na besigheidsvrou in Filippi. Hierdie ontmoetings het bygedra tot die verspreiding van die evangelie dwarsoor die wêreld. Om op een groep te fokus, beteken dat ons nie die krag en skoonheid van diversiteit ondervind nie.

Die gemeente vandag het ‘n unieke geleentheid om ‘n impak te hê. God het deure oopgemaak. Ons moet egter onthou God se kerk is nie ‘n besigheid nie. Dit mag groei as ons dit soos ‘n besigheid hanteer, maar die langtermyn prognose is nie goed nie. Ons moet God se werk doen op die manier wat Jesus ons geleer het. Duidelik en sistematies moet ons die woorde wat ewige lewe gee, verkondig (Johannes 6:68). Dit is hoe God die gemeente sal verander en laat groei; dit is hoe die gemeente die wêreld sal verander.

image_pdfimage_print

You may also like...