Die goeie nuus

image_pdfimage_print

 

“Start by doing what is necessary, then what is possible, and suddenly you are doing the impossible.” – Franciskus van Assisi

Die goeie nuus

In ‘n vorige blog het ons gesien dat die Etiopiër besig was om uit Jesaja 53 te lees. Hy weet egter nie van wie die profeet hier praat nie – van homself of van iemand anders? In Handelinge 8:35 lees ons dan: Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig. Ons moet onthou dat hierdie ontmoeting kort na Jesus  se kruisdood plaasgevind het – die gebeure was nog vars in almal se geheue; die mense het nog daaroor gepraat.

 

Filippus vertel vir die Etiopiër van die goeie nuus van Jesus Christus. Hierdie goeie nuus gaan oor ‘n Persoon- ‘n Naam. Hierdie gebeurtenis is reeds in Jesaja 9:6 – 6 voorspel: Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal die koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg. Ons sien dat toe Jesus aan die kruis gesterf het die offisier by die kruisiging God geprys en gesê het: Hierdie man was werklik onskuldig (Lukas 24:47).

 

Ons sondes veroordeel ons, maar Jesus Christus het die straf wat ons moes verduur namens ons verduur. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21). Hoe kan ons seker wees van hierdie belofte? Jesus Christus se opstanding. Die goeie nuus is Jesus se lewe, sterwe en opstanding.

Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit? (Johannes 11:25 – 26).

 

Glo jy dit? Hierdie vraag kom vandag steeds na elkeen van ons: glo jy die goeie nuus van Jesus Christus? Hoe reageer jy op hierdie nuus?

 

In Handelinge 8:38 lees ons dat Filippus die Etiopiër gedoop het. Maar toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem. Hoe sou die Etiopiër hierop reageer? Hy het sy reis met blydskap voortgesit. Hoe is dit moontlik? Die Etiopiër is bly, want hy het die regte pad gevind. Waarheen is ek en jy op pad? Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6). Glo ons dit kan ons ons lewensreis met blydskap voortsit.

 

 

image_pdfimage_print