Die Groot Geloofswoordeboek: Inleiding

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek – Inleiding

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Die Groot Geloofswoordeboek deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van meer as 500 geloofswoorde.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

Waarom hierdie boek? Is daar nie al genoeg boeke nie?

Hierdie is ‘n Geloofswoordeboek. ‘n Eerste? ‘n Enigste?

Ek weet nie vir seker nie. Ek het nou nie regtig die hele wêreld gefynkam nie, maar ek weet nie van nog een nie.

Dis nie ‘n Bybelse woordeboek nie. En ook nie ‘n teo­lo­giese woordeboek nie. Daarvan is daar baie, en goeies ook!

Maar hierdie is iets anders. Dis ‘n Geloofswoordeboek.

 

Wat hierdie boek nie is nie

Hierdie boek is anders as ‘n Bybelse woordeboek. Daarin word al die interessanthede in die Bybel behandel. Jy sal lees wat ‘n Levi­raats­huwelik is, waar die plekkie Dan in Palestina is, in watter jaar Paulus die brief aan die Romeine geskryf het en nog baie meer. Maar dit het nie regtig so direk met ons geloof te doen nie. Hierdie boek gaan oor ons geloof.

Daarom is hierdie boek ook anders as ‘n Teologiese woor­deboek. Daarin word al die teologiese begrippe en probleme behandel. Daar word wetenskaplik op sake ingegaan, groot teoloë se stand­punte word met mekaar vergelyk, die nuutste stand van die navorsing word toegelig. Natuurlik het dit alles baie met ons geloof te doen. Maar dis nie op die vlak van ‘n lidmaat wat gou wil weet hoe die Drie-eenheid werk, wat die doop met die Gees is en wat daar oor die Wegraping in die Bybel staan nie.

 

Wat is hierdie boek dan?

Wat glo ons? Wat is belangrik vir ons geloof? Kan ek alle sonde oorwin? Wat beteken die koninkryk van God? Wat is die Anti­chris? Dít staan in hierdie woordeboek. Dis ‘n Geloofswoordeboek.

Meer as 500 geloofswoorde word behandel.

Die woorde word alfabeties behandel sodat jy maklik in die in­houdsopgawe ‘n woord kan opsoek.

Die geloofswoorde word nie kort en saaklik behandel nie. Onder Drie-eenheid sal jy nie net ‘n sinnetjie kry: “God is een wese, maar drie Persone” nie. Daar word ‘n uiteensetting gegee, ‘n behandeling van die plekke waar ons iets daarvan in die Bybel kry, ‘n verduideliking waarom mense probleme daarmee het en hoe ons dit kan benader.

In die meeste gevalle word enkele woorde op sigself behan­del, soos liefde en geloof en genade. Maar daar is omtrent 50 ver­same­lings woorde wat saam behandel word. As ‘n mens die woord “Chi­liasme” naslaan, moet jy ook kan lees van die Duisendjarige Vrederyk en nog ‘n paar ander sake ook. As jy wil weet van wedergeboorte, moet daar ook iets staan van bekering, van die nuwe lewe, van ons vereniging met Christus en nog meer.

Die boek is nie met toe oë geskryf nie. Daar is verskille onder Christene, en daar is sake waarmee ons almal probleme het. Waar en hoe bestaan gelowiges ná hul dood? Kan ‘n mens die hel rym met die liefde van God? Kan ‘n mens wat gered is weer verlore gaan?

Die verskillende standpunte word simpatiek behandel, die dele in die Bybel waarop mense hulle beroep, word verduidelik, en in die meeste gevalle word dan ‘n bepaalde standpunt as die mees aanneemlike voorgehou.

Hierdie soort boek is die eerste in my lewe. Ek het dit besonder baie geniet om dit te skryf. Ek hoop jy geniet dit net soveel om dit te lees.

Ek dra hierdie eerste “groot” boek dan ook op aan my grootste geskenk, Hermien, met haar sewentigste verjaarsdag.

 

Outeur: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print