VERKONDIG DIE EVANGELIE IN ‘N MULTIKULTURELE WÊRELD

image_pdfimage_print

 

“All places are places of worship to a Christian. Wherever he is, he ought to be in a worshiping frame of mind.” C. H. Spurgeon

Verkondig die evangelie in ‘n multikulturele wêreld

Ons leef in ‘n multikulturele wêreld – baie rasse en etniese groepe, maar ook baie verskillende godsdienste en filosofieë. Ons kan hulle onmoontlik nie almal verstaan nie. Dit herinner nogal aan die situasie wat in Rigters 21:25 beskryf word: In daardie tyd was daar nog nie ‘n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.

Die vraag waarop Christene moet antwoord, is: In ‘n situasie soos dié waarin ons ons tans bevind, hoe kan ons die boodskap van Jesus Christus aan die wêreld om ons verkondig? Om dit nog moeiliker te maak, beweeg ons in ‘n post-Christendom tydperk – mense weet al hoe minder van wat dit beteken om in Jesus Christus te glo.

Ons sit met ‘n dilemma. Aan die een kant weet ons nie hoe om Jesus se boodskap in hierdie deurmekaar wêreld te verkondig nie, maar aan die ander kant het ons ‘n duidelike opdrag van Jesus: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:19).

Verskil die situasie vandag veel van dié van Paulus se leefwêreld. Paulus leef en evangeliseer in ‘n multikulturele wêreld: Jode en heidene, slawe en eienaars, baie regte vir mans en min regte vir vroue, ens. Daar is ook baie verskillende godsdienste beoefen: keiseraanbidding, die groot aantal Grieks-Romeinse gode, Jode en Christene. Daar was ook ‘n hele aantal mistieke godsdienste met geheime rituele. Mense het ook algemeen geglo in bose geeste en het daarom allerhande geheime gebruik om hulle teen hierdie geeste te beskerm. In die proses het die Ateners ‘n filosofie/wêreldsiening gebou waarvolgens hulle kon leef en die wêreld verstaan.

Almal van ons het ‘n wêreldsiening wat van die volgende vrae probeer antwoord:

  • Hoekom is ek hier?
  • Hoekom bestaan alle dinge?
  • Hoe kan my lewe betekenis hê?

Om hierdie vrae te beantwoord het die inwoners van die Romeinse Ryk filosofie en godsdiens vermeng. Dit word dan hulle wêreldsiening.

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

image_pdfimage_print

You may also like...