Die Groot Geloofswoordeboek: See

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: See

See

Dit is opvallend dat ons in Openbaring lees dat daar nie meer ‘n see op die *nuwe aarde sal wees nie (21:1). Waarom nie? Omdat die see deur die hele Bybel ‘n negatiewe simbool is, ‘n simbool van die *chaosmagte wat die aarde en die mense wil vernietig. Die chaos­monsters was almal seemonsters, onder andere Leviatan, Behemot, Rahab (Job 9:13; 26:12; Ps 74:13-14; 89:11; 104:26; Jes 27:1; 30:7; 51:9-10). Daarom is die see deurgaans in die Ou Testa­ment as ‘n bedreiging beskou.

Telkens lees ons dat die Here die see ingeperk het. Die Here sê vir Job: “Ek het vir die see perke gestel, hom agter slot en gren­del ge­sit. Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, en nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe‘” (38:10-11). En in die groot skeppingspsalm lees ons oor die skepping van die see: “Die groot waters het die aarde soos ‘n kleed oordek, maar toe U die waters aanspreek (1953-vertaling: dreig), het hulle gevlug voor die krag van u stem en in die laagtes weggevloei na die plek toe wat U vir hulle bestem het. U het ‘n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie: hulle mag die aarde nie weer oordek nie” (Ps 104:6-9).

Uit die res van die Ou Testament blyk dit dat hierdie vrees vir die see nie maar net simbolies of digterlike taal was nie. Israel het altyd aan die see gegrens, maar nooit ‘n vloot van enige beteke­nis ge­had nie, selfs nie in die tyd van die magtige koning Dawid nie. Toe die groot koning Salomo hout vir die tempel nodig gehad het, moes hy die Fenisiërs kry om dit oor die see vir hom te vervoer. En die een Jood wat dit, by wyse van spreke, op die see gewaag het (Jona), het bedroë daarvan afgekom.

Ook in die Nuwe Testament behou die see sy negatiewe be­teke­nis. Die storm op see bedreig die lewe van Jesus en die dis­sipels, en dan “bestraf” Hy die golwe (Mark 4:39). Dis die­selfde woord wat elders gebruik word as Hy bose geeste uit mense uitdryf (Mark 1:25; 9:25). Sou Hy in die storm op see ‘n aanval van die bose magte gesien het?

In hierdie lig is dit nie vreemd dat ons in Openbaring lees dat daar op die nuwe aarde nie meer ‘n see sal wees nie. Ons hoef dit nie regtig letterlik op te neem nie. Dit kan verwys na die see as bedreiging van die aarde en die mense. Op die nuwe aarde sal elke bedreiging uitgewis wees. Die poorte van die Nuwe Jeru­salem sal nooit gesluit wees nie (Op 21:25).

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...